Skrywer: Wensley Clarkson
Titel: Serial killers of Mexico: Chilling stories of evil buried beneath the narco drug wars
Uitgewers: Welbeck
ISBN: 978-1-80279-127-3
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
John Douglas, die FBI-pionier in profilering – op wie se boek die Netflix-series Mindhunter gebaseer is – skryf in sy boek Journey into darkness dat hy en sy kollegas in die laat-1970’s tronke besoek en gevangenes intens ondervra het. Prof Gérard Labuschagne het dieselfde in Suid-Afrika gedoen tydens sy 14 jaar as hoof van die SAPD se eenheid vir ondersoekende sielkunde. Hul gesprekke met reeksmoordenaars en -verkragters het hulle in hul veld laat uitstaan.
Die Britse skrywer Wensley Clarkson doen al meer as 35 jaar in tronke navorsing vir sy boeke, films en TV-dokumentêre. Sy boek Serial killers of Mexico: Chilling stories of evil buried beneath the narco drug wars getuig daarvan.
Omdat hy die klem op die impak van elf gruwelmisdade wou lê, het hy nie die gruheid of geweld in die boek afgewater nie. Die meeste van die moordenaars in Clarkson se Serial killers of Mexico laat die fiktiewe karakter Hannibal Lecter soos die pous lyk.
Maar om die monster te ontleed, om hul triggers te identifiseer en die tragedie agter hul woede te ondersoek, het hy hul persoonlikheid afgeskil. Daarvoor moes hy hulle as mense, en nie as moordenaars nie, ontleed. Hy stel hulle ook so aan ons voor.
Seksuele, fisiese en emosionele mishandeling as kinders, asook armoede in ’n dwelmsamelewing is in bykans al die verhale sigbaar. Die beoefening van Santa Muerte (die god van die dood) hits op ’n sataniese manier menslike offers aan; dit dra tot verdere geweld en bomenslike brutaliteit in baie van die verhale by.
As daar een ding is wat in die boek uitstaan, dan is dit boosheid. Boosheid soos nog nooit tevore gelees nie.
Ons lees van manlike en vroulike reeksmoordenaars; asook broer en suster, suster en suster, families – man, vrou en kinders – wat saam moor.
Hierdie boek is nie vir sensitiewe lesers nie. As Dahmer jou ontstel het, moet jy liefs nie dié boek lees nie. Maar lesers wat versot is op Ann Rule, Micki Pistorius en Labuschagne se boeke, gaan hierdie boek verslind.
Eindnota: Krimiskrywers sal ná die lees van dié boek ’n sielkundige rypheid in hul reeksmoordenaars kan bring.



Kommentaar
Dit lyk baie baie interessant, dankie Stefaans. Ek wens ek het meer tyd gehad vir misdaadboeke. Het darem doktor Pistorius se boeke gelees.
Dankie Barend. Met min tyd sny ek ook maar. Ek kan in Desember darem 'n paar boeke lees. Doktor Pistorius se boeke is goed. Ek moes dit lees met die skryf van Suiker se boek. Prof Gérard Labuschagne het 'n nuwe aanslag waarvan ek baie hou.