
![]() |
|
Owain Arwel Hughes
|
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) het Vrydagaand vir Eskom ore aangesit. Die Wallies-gebore Owain Arwel Hughes, hoofgasdirigent van die KFO, het skaars sy orkes in die eerste paar mate van Paul Dukas se “L’Apprenti Sorcier” (“Die towenaar se leerjonge”) gelei toe Eskom die Endler in donkerte dompel – ’n paar uur na die geskeduleerde tyd! Die flinke optrede van ’n paar vaardige manne het egter gelukkig binne ’n halfuur die aand vir die saal stampvol konsertgangers gered toe hulle die kragopwekker en kolligte aan die gang kry.
Dukas se simfoniese scherzo is gebaseer op ’n spitsvondige gedig van Goethe wat vertel hoe ’n towenaar se leerjonge, wat moeg is daarvoor om bloot kneg te wees, ’n besem en emmer in sy meester se afwesigheid met behulp van sy handboek toor om sy skoonmaakwerk vir hom te doen. Hy raak aan die slaap terwyl die een besem aangroei tot ’n heerskare besems wat sonder ophou water aandra en die leerjonge uiteindelik in ’n vertrek vol water wakker word. Die towenaar keer terug en herstel die orde. ’n Meer simboliese inleiding tot ’n aand wat so ontwrigtend afgeskop het, kan ’n mens jou beswaarlik voorstel!
Die stuk is bekend omdat Walt Disney dit in hul animasiefilm Fantasia gebruik.
Die trekpleister van die aand was natuurlik die bekroonde violis Sarita Uranovsky, ’n boorling van Kaapstad, tans in Boston woonagtig, wat regoor die wêreld naam gemaak het met ’n verskeidenheid optredes as solis saam met orkeste, as solo-uitvoerder, kamermusikus en orkesmusikus. Haar vertolking van Beethoven se immergewilde vioolkonsert (in D majeur, Op 61) was begeesterd, ten spyte van die feit dat sy ooglopend geworstel het met die hitte weens die lugverkoeling wat nie gewerk het. Die aangrypende skoonheid van hierdie werk het vergoed vir alle ongerief van die solis en die gloeiende gehoor.
Die KFO het afgesluit met Igor Stravinsky se “Petroesjka”, die 1947-weergawe wat die grootste deel van die aksie van die ballet insluit. Die orkes het uitmuntend daarin geslaag om die speelse ligtheid van die werk in hul uitvoering weer te gee.



Kommentaar
Dit was 'n genoeglike aand! Beholpenheid, en dan in die gewaad van uitstaande musici en musiek, het geseëvier oor onbeholpenheid (hoef mens iets meer daaroor te sê?) Ek het vervuld huistoe gery ... ook met erkenning vir Huberte Rupert en haar bydrae tot kuns en musiek in ons land. dit was immers die rede vir die aand se fees!!