Selfies

  • 0

Ek het ’n broertjie dood aan die nuwe ontluikende kuns van selfies. Hoekom sou iemand ’n foto van hulself wil neem en deur middel van Twitter of Facebook aan die wye-wilde-weste wêreld wil stuur? Vir my maak dit nie sin nie. Of is ek net nie by met die snelgroeiende veranderings wat deur die sosiale of “nuwe” media teweeggebring word nie?

Nee, inteendeel, ek is ’n liefhebber van die revolusionêre aard van sosiale media. Ek “twiet” en “facebook” vir ’n vale. Dit skep en bring altyd vernuwende maniere van doen in ’n baie snelgroeiende verkleinde wêreld waarin tegnologie ’n onmisbare rol speel. Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van Eerste Nasionale Bank, merk tereg op dat “tegnologie die wêreld meer drasties in die volgende 10 jaar gaan verander as in die laaste 30 jaar”. Ek sien nogal uit na dié beloofde tegnologiese revolusie wat die gesig van die 21ste eeu onherroeplik gaan verander.

Nuwe sosiale-media-platforms hou veral entrepreneurs en ingenieurs op hul tone om met nuwe idees vorendag te kom. Die onus berus dan op ons wat in die sosiale wetenskappe opgelei is om dié nuwe idees te implementeer.

Nuwe idees en dinge is altyd goed as dit vir die regte intellek en oogmerk aangewend word. Hierdie tipe etiek ontbreek egter vir my wanneer dit by die neem en verspreiding van selfies kom.

’n Onlangse studie deur die Britse sielkundige Roxana Rudzik-Shaw beweer ’n selfie kan boekdele oor jou persoonlikheid spreek.

Volgens Rudzik-Shaw dui sommige selfies op selfvertroue, terwyl ander weer regstreeks kan dui op ’n narsistiese persoonlikheid of ander afwykings.

Rudzik-Shaw sê sy kan tien verskillende persoonlikheidstrekke uitwys deur net na ’n selfie te kyk.

G’n wonder die dorpsraad van die Switserse dorp Baden het onlangs hul burgemeester tydelik van sy amp onthef na bewerings dat hy selfies van homself sonder klere in werkstyd op kantoor geneem en aan ’n vrouekennis gestuur het nie. Geri Muller, ook lid van die Switserse parlement, is glo deur die vrou, wie se naam nie genoem is nie, gedreig dat sy die foto’s gaan versprei en ook dat sy selfmoord gaan pleeg.

Hier op eie bodem het selfies van “gesig-selfies” na “selfies na seks” beweeg. Die verspreiding van selfies by dooie mense word deesdae as die ergste beskou. ’n Vrou moes onlangs aan die hof verduidelik hoekom sy en haar kêrel selfies by ’n lyk geneem het.

Die rapper Wiz Khalifa het verlede jaar tydens sy inhegtenisneming vir marijuana selfs so ver gegaan om ’n selfie te neem. Hy het dit ’n “jail selfie” genoem.

Volgens ander menings is ’n interessante agtergrond nogal goed vir selfies. Iets soos ’n mooi natuurtoneel of die Eiffeltoring kan baie prikkelend wees. Dit moet egter vermy word in jou badkamer. In die toilet en stort is dit glad nie interessant nie.

Vir my is selfies ’n onding. Dit is te diktatoriaal.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top