So gebeur dit toe weer: ons word ’n sekurokrasie, soos in PW Botha se tyd.
André Duvenhage se diepgaande studie oor die sekurokrasie in die huidige bedeling onlangs op LitNet Akademies laat opeens al daardie ou verskrikkinge uit die geheue tuimel: die destydse herstrukturering van die staat tot ’n sekuriteitstaat waarvan die tentakels uiteindelik die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap binnegedring het.
Dit was die tyd van die Totale Strategie, gerig teen die Totale Aanslag. Die Staatsveiligheidsraad (SVR) onder leiding van PW Botha was ’n regering binne ’n regering. Dit het bestaan uit enkele ministers – dié van verdediging, wet en orde en buitelandse sake – en die hoofde van die nasionale intelligensiediens en die weermag, die direkteur-generaal van buitelandse sake en die kommissaris van polisie. Daar was geen demokratiese oorsig nie: hul besluite was nie onderhewig aan kabinetsgoedkeuring nie en die militêre het ’n deurslaggewende aandeel in beleidsbepaling gehad. Dit was die SVR wat in die stryd teen die Totale Aanslag (lees die ANC en sy strugglegenote) opdragte oor invalle in buurstate en aanvalle op binnelandse teikens (teregstellings?) gegee het.
Een van die werktuie van die SVR was die nasionale veiligheidsbestuurstelsel, wat sy invloed in elke gemeenskap laat geld het.
Dit was ’n tyd van verskrikking. In die naam van staatsveiligheid was alles geoorloof. Ontsettende wreedhede is gepleeg, onder meer deur die Vlakplaas-polisie-eenheid en deur die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) van die weermag. Dit was die tyd van die “derde mag”, van intimidasie, van muilbandwette teen die media, van aanhouding sonder verhoor, van mense wat spoorloos verdwyn het en veel later uit tronke te voorskyn gekom het of in vlak grafte gevind is – die Waarheid-en-Versoeningskommissie het boekdele daaroor geskryf.
Nie al die boosheid is in regstreekse opdrag van die SVR gepleeg nie. Dit lyk of ’n soort mentaliteit dat alles in die naam van staatsveiligheid geoorloof is, tot op grondvlak deurgesuur het.
Teoreties moes dit alles met die 1990-toespraak van FW de Klerk (hy was nie ’n sekurokraat nie) en die gevolglike ontbanning van die ANC en ander struggle-organisasies tot ’n einde gekom het, maar al was die monster se kop afgekap, het hy nog tot ’n ruk lank baie skop in sy lyf gehad.
Eers met die koms van die demokrasie in 1994 het alles nuut geword, en uiteindelik was die sekurokrasie van PW Botha net ’n nare herinnering.
Nie vir lank nie. Duvenhage sit in besonderhede uiteen hoe ’n nuwe sekurokrasie reeds sedert Thabo Mbeki se bewind vorm begin aanneem het en weer tydens die Zuma-presidensie in ’n aantal strukture behoorlik gevestig is.
Weer eens word die mag al hoe meer gesentraliseer. Weer eens het, in Duvenhage se woorde, “verskeie elite- en/of spesialiseenhede wat fokus op die handhawing van wet en orde oor die afgelope tyd as magsinstrumente gevestig geraak”. Die gevolge daarvan was onder meer by Marikana te sien.
En weer eens sien ons op grondvlak wat blykbaar ’n natuurlike uitvloeisel van ’n sekurokrasie is: hardhandige, selfs wreedaardige polisieoptrede teen opstandiges en betogers (dink aan Andries Tatane in Ficksburg, dink aan Marikana). Weer eens sien ons hoe die weermag betrek word (dink aan Operasie Fiela). Ons sien weer hoe die veiligheidsministers, veral die minister van polisie en van staatsveiligheid, die toon begin aangee.
Verál die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo. Tydens die bespreking van sy begrotingspos in die parlement en by ’n mediakonferensie daarna het hy en sy adjunk, Ellen Molekane, soos PW Botha se sekurokrate van ouds dese en gene as ’n bedreiging bygekom. Van politieke partye en die media, wat ’n veiligheidsgevaar sou wees met die manier waarop hulle die hofuitspraak oor Nkandla vertolk het, tot betogers en nieregeringsorganisasies (NRO’s), wat werktuie van duistere magte sou wees wat die regering omver wil werp, het deurgeloop.
Maar wie word nou bedreig? In die apartheidstyd was die sekurokrate opgestel teen die struggle, en bowenal teen die ANC, wat saam met ander bevrydingsorganisasies in opstand gekom het teen wit oorheersing. Die staat is volgens die Botha-regering bedreig deur (kommunistiese) oorname. Dit was ’n bittere en bloedige stryd om die land, tussen die verkose regering van ’n klein minderheid en die stemlose meerderheid in wat feitlik ’n laegraadse revolusie was.
Nou is die gewaande bedreiging nie teen die staat nie, maar teen die huidige regerende party, die ANC, en sy leier, en daar moet tot elke prys verseker word dat die mag in die hande van die ANC bly. In sy Werkersdagtoespraak het Zuma juis skrikbeelde opgeroep van wat te wagte kan wees as dit nie gebeur nie. Dit gaan nie om staatsveiligheid nie. Dit gaan nie om die demokrasie nie. Dit gaan om Zuma en sy party en daarvoor word staatsmag aangewend.
Tot nou toe was die “bedreiging” ietwat amorf, met verwysings na moontlike magte “van buite” wat die regering omver wil werp deur steun aan byvoorbeeld NRO’s. Maar in die laaste week van April het die kabel ’n nuwe kinkel gekry. Die kinkel se naam is Julius Malema.
In die nou veelbesproke onderhoud met Jonah Hull van Al Jazeera begin Malema, die leier van die EFF (sy veglustige ampsbenaming: “commander in chief”) van geweld teen die ANC-regering praat. Die EFF is bereid om die ANC-regering deur die loop van ‘n geweer te verwyder, het hy gesê – wel met dié kwalifikasie dat dit sal gebeur as die regering betogings teen onreëlmatighede by die stembus met geweld stuit. Geweld sal met geweld beantwoord word. Nietemin, dis daardie pront “deur die loop van ’n geweer, letterlik” wat bly vassteek en die ANC laat oorreageer het deur terstond ’n klag van hoogverraad teen Malema te lê. Intimidasie is ook ’n instrument van sekurokrate.
’n Week later, by die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes, het Malema die tema van verkiesingsbedrog verder gevoer met bewerings dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hom in 2014 aan sulke bedrog skuldig gemaak het – natuurlik ten koste van die EFF. Daarna was daar waarskuwings aan die OVK om nie die komende munisipale verkiesings te “manipuleer” nie.
Dis ’n ou scenario in Afrika: ’n opposisieparty verloor ’n verkiesing en beskuldig die regerende party van verkiesingsbedrog. Betogings en oproer en bloedige geweld is dikwels die gevolg. Dit klink of Malema die tafel hiervoor dek.
Nog meer sinister, in dieselfde toespraak, is ’n openlike dreigement van ’n militêre staatsgreep as Zuma nie vrywillig as president bedank nie: “I warn you, Zuma, the army will soon turn those guns against you.”
Dis dalk populistiese praatjies van ’n leier wat in elk geval al lank ’n los tong oor geweld het (was daar nie ’n tyd toe hy vir Zuma sou gemoor het nie?). Of dalk is hy dodelik ernstig. Hoe ook al, tussen die sekurokrate en Malema is ons nou op ’n baie, baie ongemaklike plek. Die “bedreiging” waarteen die sekurokrate so waarsku, het vlees en bloed gekry.
Hierdie seminaar spruit uit André Duvenhage se artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het:
![]() |
Die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel – ’n tendensbepaling
André Duvenhage "Die plaaslike verkiesing van 2016 en hoe veiligheidsinstellings aangewend word, kan ’n belangrike rigtingwyser wees vir die manier waarop die staat in die toekoms veiligheidsinstellings gaan plaas en aanwend." |



Kommentaar
Baie insiggewende artikel.
Die dun blou lyn is nou geknip...
Sekurokrasie-seminaar
Die bydrae van Anne-Marie Mischke van 11 Mei 2016 bevat enkele omstrede stellings wat die Veiligheidsbestuurstelsel (VBS) van die vorige bedeling in ’n ongunstige lig stel. Hierdie wanopvattings moet uit die weg geruim word vir ’n meer nugtere beoordeling by ’n verdere geleentheid oor die rol van VBS gedurende die tagtigerjare. Ek reageer net op feitelike stellings. Gesprek kan by ’n ander geleentheid oor vertolkings gevoer word.
.
Die Staatsveiligheidsraad het nie slegs uit die veiligheidsministers bestaan nie. Ander ministers was vaste lede van die Raad en wanneer die lynfunksionele terrein van enige kabinetslid ter sprake was, is hulle versoek om die vergaderings by te woon. Nie-lede kon te enige tyd veiligheidsake wat op hulle terreine gemanifesteer het, persoonlik by die SVR stel.
Die SVR het nooit enige opdrag oor “aanvalle op binnelandse teikens (teregstellings)” gegee nie. Dit geld ook vir die VBS in sy geheel. Waar wandade plaasgevind het, is dit sonder die goedkeuring of wete van die VBS gedoen.
Daar was nooit ’n gesindheid van “alles is geoorloof” nie. In Mischke se artikel word gestel “Nie al die boosheid is in regstreekse opdrag van die SVR gepleeg nie”. Die waarheid is dat die SVR geen “bose” opdrag uitgereik het nie. Dat ’n sekere mentaliteit tot op grondvlak deurgestuur het, kan nie aan SVR opdragte toegeskryf word nie. Dit was individue in sekere staatsdepartemente. Die VBS het geen uitvoerende magte gehad nie.
Dit is onseker wat bedoel word met die monster het nog baie skop in sy lyf gehad na 1990. Die Sekretariaat van die SVR, wat die ruggraat van die bestuurstelsel gevorm het, is reeds in Januarie 1990 ontbind. Daar was nie meer ’n veiligheidsbestuurstelsel geskoei op die patroon van voor 1990 nie. Soos op ander plekke in die artikel, verwar die skrywer die VBS met die ongemagtigde optrede van individue.
In die artikel word gestel: “[Met] die koms van die demokrasie in 1994 het alles nuut geword ...” Nee. Nie sonder meer nie. Die SVR is vervang deur die Cabinet Committee for Security and Intelligence (CCSI) en die veiligheidsministers het steeds as ’n afsonderlike groep byeen gekom. NICOC het ’n landswye infrastruktuur gevestig. Die CCSI is later vervang deur die kabinetsklusters waarvan die Justice, Crime Prevention and Security (JCPS) kluster seker die belangrikste in veiligheidsverband is. Dit sou naïef wees om te dink dat al hulle besluite na die kabinet verwys word. Hulle notules, soos die geval was met die SVR, word egter aan die kabinet voorgelê.
Verder. “In die apartheidstyd was die sekurokrate opgestel teen die struggle, en bowenal teen die ANC, wat saam met ander bevrydingsorganisasies in opstand gekom het teen wit oorheersing.” Dit was nie net die sekurokrate nie, maar die ganse regeringsbestel.
Die Suid-Afrika van die tagtigerjare het inderdaad sterk eienskappe van ’n sekuriteitstaat vertoon. Die vraag moet egter gevra word: Hoekom? Hoe het dit gebeur dat die veiligheidsinstansies groter wordende magte bekom het?
Die baie eenvoudige antwoord is: omdat die beleid van die destydse regering soveel onrus en opstand tot gevolg gehad het dat dit ’n wesenlike bedreiging vir die stabiliteit van die land geskep het wat, in die afwesigheid van politieke verandering, slegs deur veiligheidsmagoptrede hanteer kon word. En die veiligheidsmagte het gedoen wat hulle wetlike opdrag was om te doen, naamlik die beveiliging van die staat. Dit was regeringsbeleid, in mindere of meerdere mate gesteun deur die oorgrote meerderheid witmense, wat die revolusionêre aanslag teen Suid-Afrika in die lewe geroep het. Dit was nie die veiligheidsmagte se beleid of optrede wat daarvoor gesorg het nie. Dit was die politieke beleid van apartheid.