Veiligheidspersoneel

  • 2

“‘On my mind is wraakgedagtes. My dogter en kleindogter werk by dieselfde sekuriteitsfirma, mense wat kontant heen-en-weer vervoer. My kinders doen administratiewe werk in die basis.

Gister is die vierde transitorooftog in drie weke gepleeg. Net gister is hulle weg met 97 miljoen rand.

Gedurende die vorige drie rooftogte is die personeel van die geldwa met geweerkolwe aangerand. Tydens gister se rooftog is die personeellede gedwing om op ’n sypaadjie te gaan lê terwyl ’n bom die geldwa ’n blok van die basis af opgeblaas het. Daar was sestien mans in verskeie voertuie bewapen met AK-47’s. Die personeellede was drie.

My kinders werk om die beurt dag-en-nagskofte daar. Nou is daar gerugte dat die rowers se volgende teiken die basis self is.

Terwyl ons senuwees aan flarde hang, hoor ek vir die eerste keer hierdie seisoen paddas kwaak. En die skool op die hoek speel vrolike musiek vir die een of ander aandbyeenkoms terwyl ’n man aanhoudend in ’n megafoon praat.

Kontras. Dis hoe die lewe tans is.”

Ek het gedink met hierdie Facebook-skryfseltjie is daar ’n punt aan die einde van ’n sin geplaas. Ek was so naïef. Of dalk vals getroos dat dit nou verby is.

Ek het intussen meer inligting hieroor bekom. Hierdie spesifieke firma is duidelik geteiken. Geen van die voertuie is gemerk sodat dit duidelik geldwaens is nie. Almal lyk soos gewone bakkies met kappe op en gewone trokke.

Die oggend voor die groot rooftog met die bom, het ’n wit BMW oorkant die straat geparkeer gestaan. Baie geldwaens het ongehinderd uitgery. Toe kom die groter trok, wat geld na ’n bank moet neem, uit en die BMW agtervolg hom. ’n Blok verder het nog vier luukse motors hom omsingel en tot stilstand gedwing. Die drie personeellede is deur die rowers aangesê om uit te klim en op die sypaadjie te gaan lê, anders sou hulle saam met die wa brand. Hulle wapens is afgeneem, hulle was magteloos teen die oormag. Toe is die deure van die wa oopgeskiet met ʾn bom. Die buit van 97 miljoen rand is in die vier motors se kattebakke gelaai en hulle het weggejaag.

Ná hierdie insident is daar versterkings by die basis se hekke aangebring. Ekstra wagte van ’n sekuriteitsfirma gehuur, nóg kameras en paniekknoppies en infrarooi-sensors.

Daar is altyd drie persone in so ’n voertuig, die bestuurder, ’n wag en die “runner.” Hulle is almal bewapen. Die bestuurder het opdrag om altyd só te parkeer dat hy maklik kan wegjaag, sou daar ’n aanval kom. Die enjin moet die hele tyd luier. Die geld is die belangrikste, word hulle aangesê. Die wag klim dan uit en moet die “runner” oppas en beskerm terwyl hy die geldkiste uithaal en indra. So ook die heeltyd binne en wanneer hy weer uitkom.

Daar was vandag weer ’n rooftog. Hierdie keer binne-in ’n winkel by ’n vulstasie. Hulle is binne die winkel ingewag. Die wag word geskiet, toe word die “runner,” geldkiste en al, met ’n vuurwapen teen sy kop na buite gedwing. Buite is daar ’n horde makkers en die “runner” word geskiet. So ook die bestuurder. Gelukkig is niemand ernstig gewond nie en die bestuurder jaag weg terwyl sommige rowers die wa beklouter.

Ek kan my hierdie mense se daaglikse trauma nie indink nie. Hulle en hul families. Die administratiewe pesoneellede word byna net soveel getraumatiseer omdat hulle elkeen van hierdie manne ken. Hulle werk moeilike skofte. Dagskof om die geld wat vroegoggend by winkels gaan haal word en nagskof vir die winkels wat saans laat sluit. Die geld word getel, in pakkies opgemaak en geboekstaaf.

Dit moet verskriklik wees om so onseker te leef. En jy moet werk en dis al werk wat jy kan kry.

Een jong man is so erg getraumatiseerd nadat sy vriend, die bestuurder van hulle voertuig, se brein bo-oor hom uitgeskiet is, dat hy glad nie meer in die voertuie kan ry nie. Hy werk nou onder in die kluis.

’n Ander keer is die bestuurder vasgeparkeer (ingeboks, noem hulle dit) en gedwing om plat te gaan lê. Hy loop steeds met stukkies teer in sy vel nadat die rowers rondom hom in die pad vasgeskiet het.

Die bestuurder van die geldwa huil die aand. Hy is deur drie rooftogte direk na mekaar. Hy het binne die bestek van ’n paar weke brandmaer en stokoud geword. Hy sê tussen die trane deur: “Waaragtig, ná vandag se bom stuur hulle my môre weer op dieselfde roete met ’n vrag geld … ”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top