Seksuele geweld is nie 'n lagsaak nie

  • 5

Die afgelope paar maande was gekenmerk deur studenteprotes oor alles van die taal van onderrig tot werksekerheid vir kontrakwerkers tot kolonialisme. Die afgelope twee weke op Stellenbosch het die protes gegaan oor seksuele geweld op kampus.

Volgens die studente is hulle reeds vir maande besig om met die universiteitsadministrasie in gesprek te probeer tree, maar hulle protes oor seksuele geweld val op dowe ore. Toe besluit hulle om gedurende die jaarlikse Woordfees protes aan te teken by verskillende geleenthede.

Die eerste protesaksie wat in die media aandag geniet het, was die ontwrigting by Sjef Snoekie se kookboekbekendstelling. Dis nie duidelik of hulle haar spesifiek uitgekies het, en of haar geleentheid net toevallig gekies was nie. ʼn Vriendin spekuleer dat die studente beslis in hulle doel geslaag het indien hulle terselfdertyd kommentaar wou lewer op die stereotipering van genderrolle.

Die volgende geleenthede was die ontwrigting van die Max Price-Wim de Villiers-gesprek, gevolg deur brandstigting en vandalisme by die administrasiegebou.

Ek moet dadelik byvoeg: ek is nie seker dat daar enige getuienis is wat dieselfde studente wat die gesprekke ontwrig het, verbind met die vandalisme nie. Ek was ook nie by enige van die geleenthede nie, en my kennis is dus ten beste tweedehands, by wyse van koerantberigte.

Ek was egter wel teenwoordig toe vyf vroulike studente op Vrydag 11 Maart 2016 die direkte uitsending van Monitor, ʼn RSG- program, ontwrig het. Dis oor die gebeure wat daar plaasgevind het dat ek wil besin.

Ek en Wilhelm Verwoerd het in gesprek getree met Ivor Price en Anita Visser, die aanbieders van Monitor, oor wit bevoorregting. Die uitsending vind direk plaas vanaf die Plataan-kafee, en soos wat dit elke oggend nog was, was daar redelik baie mense in die gehoor. Terwyl ek so oor die see van wit, middeljarige, middelklas gesigte uitgekyk het, het ek gewonder wat hulle van die gesprek dink.

Die vyf jong vroue het so rustig op die verhoog beweeg dat ek vir ʼn oomblik gedink het dis deel van die program, totdat ek aan Ivor en Anita se gesigte agterkom hulle weet ook nie wat aangaan nie. Ek wil onmiddellik byvoeg dat die studente beleefd opgetree het, in soverre as wat mens seker beleefd ʼn direkte uitsending kan oorneem.

Die kontras tussen hierdie vyf jong swart vroue, met min of geen ekonomiese mag nie, en die groep middelklas wit mense wat hulle toegespreek het, kon nie groter gewees het nie. Ouderdom, ekonomiese mag, kleur, taal ... die lys gaan aan. Hulle was absolute teenoorgesteldes van mekaar. Ek haal my hoed af vir daai jong vroue wat die moed gehad het om standpunt te kom inneem voor ʼn gehoor wat in alle waarskynlikheid vyandig sou wees.

Ek haal ook my hoed af vir die sensitiewe manier waarop Ivor en Anita die situasie hanteer het. Baie luisteraars, kom ek agterna agter, het gedink die studente was deel van die program!

Hulle wou mense bewus maak van die verkragtingskultuur wat daar op Stellenbosch heers, het die segsvrou van die groep ons meegedeel. Sy het toe voortgegaan om voorbeelde uit te lig, duidelik ontsteld oor die inligting wat sy meedeel.

En sommige van die lede van die gehoor het gelag.

Dieselfde week dat ʼn tiener in Tokai wreed verkrag, onsedelik aangerand en vermoor is, dieselfde week dat nog ʼn vroulike Ikey die slagoffer van ʼn reeksverkragter word, dieselfde week dat ʼn tiener se halfnaakte liggaam in ʼn toilet in Khayelitsha aangetref word, dieselfde week dat 2 000 studente ʼn nagwaak hou voor Harmonie-koshuis op Stellenbosch om protes aan te teken teen ʼn verkragting wat feitlik op die voorstoep plaasgevind het, dieselfde week dat inligting aan die lig kom dat soldate toegelaat was om vroue te verkrag in die Soedannese konflik as deel van hulle betaling.

Dieselfde week lag persone wat veronderstel is om gekultiveerd te wees wanneer ʼn jong vrou haar vrese oor verkragting met hulle deel.

Ons lewe in ʼn land waar daar elke 17 sekondes ʼn verkragting plaasvind. Ons lewe in een van die mees gewelddadige lande in die wêreld, waar meer vroue aan die hand van ʼn man beswyk as in die meeste oorloggeteisterde lande. Ons leef in ʼn land waar ekonomiese misdade swaarder gestraf word as seksuele misdade. Ons leef in ʼn land waar vroue se liggame as die besittings van mans beskou word. Ons leef in ʼn land waar sporthelde en politici van verkragting aangekla word, en die vroue dan in vrees vir hulle lewens moet vlug omdat die bekendes se ondersteuners haar met geweld dreig. Ons leef in ʼn land waar die President van verkragting beskuldig was. Ons leef in ʼn land waar geen vrou in veiligheid kan loop in die aand, of in die natuur, sonder vrees vir haar liggaamlike integriteit nie.

En ons lag oor verkragting.

Hoe kan ons dan nog verbaas wees dat ons geweldsmisdaad die hoogte inskiet? Hoe kan ons verbaas wees as die polisie en die howe nie kan voorbly om misdadigers aan die pen te laat ry nie?

Hoe kan ons verbaas wees dat jong mans nie vroue se liggame respekteer nie, wanneer volwasse mans oor verkragting lag?

Hoe kan ons verbaas wees wanneer Time verkragting verromantiseer deur ʼn naakte vrou, skynbaar swanger as gevolg van verkragting, op hulle voorblad te plaas?

Hoe gaan Stellenbosch en ander kampusse se kultuur verander as die administrasie nie die probleem kan of wil aanspreek nie? En watse soort toekoms gaan ons tegemoet as die leiers van môre die verkragters van vandag is?

Die polisie was blykbaar teenwoordig, gereed om die studente te arresteer. Die ware oortreders was egter nie daardie vyf jong vroue nie.

Die ware oortreders was die mans wat gelag het.

  • 5

Kommentaar

  • Ek kan nie meer met die skrywer saamstem nie. Ons was die aand van die Max Price-Wim de Villiers gesprek teenwoordig. Die meisies het heel rustig ingestap en stil voor op die verhoog (op die grond) gaan sit. Dit was egter die reaksie van die middeljarige, wit middelklas wat ontstel het. Van hulle gemeenskapsleiers en media Who's who. Daar was geen agressie van die studente nie, net 'n dringende begeerte om gehoor te word en hulle is afgelag en soos kriminele behandel deur die einste mense by wie hulle on hulp en begrip kom pleit het. Ek het my geskaam vir die 'dismissive' reaksie en 'victim mentality' van sekere leiers en hoë profiel mense daardie aand.

  • Verskoon my, Mnr/Mev.! Ek was ook daai aand daar. Daardie ( student), het met 'n duidelik dubbele agenda die bespreking kom ontwrig. Wat hy en sy "comrades" daar en daarbuite kwytgeraak het, is rassisties en nie vlyend teen enige wit mens nie. Gelukkig het die gehoor kalm gebly, en van geweld weerhou. En glo my maar, die aktiviste het uitgesien na bloedlating.
    En buitendien, daar is talle forums op kampus waar studentekwessies geopper kan word. Om my punt te bewys, wag maar en kyk wat lewer die toekoms op kampusse saam met die EFF op. Ik heb gesegd.

  • Annatjie Kruger

    Ek dink ons vrouens moet ophou om die skuld slegs op mans te plaas. Ons het ook deel aan die feit dat ons uitgelag word. Kyk maar na advertensies. Motors, trekkers, grassnyers en dies meer word geadverteer met 'n halfkaal meisie in een of ander suggestiewe posisie op die foto. Skoonheidswedstryde is reeds lank uit die mode en tog huiwer ons jong meisies (sommige van hulle hoogs intelligente studente) nie om half kaal voor 'n groep beoordelaars wat grotendeels uit die middeljarige middelklas (wat hier gekritiseer word) bestaan. As ek kyk na die reaksie wat die trilogie "Fifty Shades of Grey" tussen vrouens ontlok het. Die meeste dames in die kring waarin ek beweeg het, was gaande oor die boek. 'n Boek wat verkragting en die misbruik van die vroulike liggaam verromantiseer. Wat die storielyn het dat daar niks verkeerd is daarmee dat 'n man 'n vrou mishandel en verkrag nie, veral nie wanneer hy in sy kinderjare misbruik is nie. Ek kyk na die kleredrag van sommige vrouens, hulle loop half naak in die straat rond. En daarmee wil ek nie sê dat 'n man die reg het om 'n vrou te verkrag oor die manier waarop sy aantrek nie. Maar ons moet erken dat sommige meisies uiters uitlokkend lyk, selfs wanneer hulle nie bedoel om uitlokkend te wees nie. Verkragting is verseker nie iets om oor te lag nie, maar ons kan verseker ook nie al die skuld aan die voet van die manlike geslag lê nie. Maar ook hier is die siekte van Suid-Afrika duidelik sigbaar. Ons is nie bereid om verantwoordelikheid vir ons eie dade te aanvaar nie. Deesdae is daar ook die aandrang dat 'n vrou die reg het om haar kind in die openbaar te borsvoed. Die mans rondom haar moet gedwee sit en kyk hoe sy haar bors ontbloot en dan die baba laat drink. 'n Deel van die liggaam van die vrou wat groot prikkeling vir die manlike geslag inhou. Weereens moet ons nooit toelaat dat 'n man die manier waarop 'n vrou aangetrek is as verskoning vir sy kriminele dade gebruik nie. TOG moet ons onthou dat wanneer ons aantrek soos 'n prostituut op die uitkyk vir besigheid, kan ons die gevaar staan om vir een aangesien te word. Ons is ook gou om net die slegste in ander mense raak te sien. Miskien het die mans uit verleentheid gelag, of onsekerheid oor hoe om te reageer en nie noodwendig omdat die dames oor verkragting gepraat het nie. Ek het daardie oggend na die gesprek geluister en ook 'n paar dae later na 'n gesprek wat RSG met leiersfigure en 'n studenteleier by die universiteit gevoer het. En die bewerings en beskuldigings wat daardie jong dame daardie oggend uitgespreek het, is in hierdie tweede gesprek grootliks weerlê. So vir my is dit duidelik dat die eerste spreker nie haar huiswerk na behore gedoen het nie. Wanneer vroue soos Me Wyngaard begin kapsie maak teen halfnaak dames op advertensies vir motors, grassnyers, asook teen die verouderde gebruik van sogenaamde skoonheidswedstryde sal ek haar ernstig begin opneem.

  • Ek het die oggend na die program geluister in die motor op pad werk toe en ek onthou hoe gewalg ek was toe ek die pyn in die student se stem hoor toe sy tydens haar toespraak noem dat mense vir hulle lag. Juis die bevoorregtes wat in daardie gehoor gesit het. Die Woordfees kos nl geld om by te woon en tyd, buite normale arbeid, wat nie alle mense toegang tot het nie.
    Stellenbossers moet ophou in hulle klein borreltjie leef en besef wat buite gebeur, besef dat hulle bevoorreg is en ophou om so entitled te wees. Die studente het gelyk. Hulle moet die reg en versekering hê van ’n veilige spasie en met respek en deernis as gelykes na geluister word. Die US bestuur is ongelukkig nie so deursigtig en assertief soos mens sou wou hê nie.
    Trouens ook welgedaan aan die aanbieders die dag. Julle was regtig sensitief, oop en ontvanklik vir debat en het geluister op die regte oomblik. Bravo!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top