Seisoen van vergifnis: 'n balans tussen genot en geregtigheid

  • 0

Titel: Seisoen van vergifnis
Outeur: Alta Cloete
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799359206

 

 

 

Koop Seisoen van vergifnis van Kalahari.com.

 

 

Izak de Vries het met Alta Cloete, die skrywer van Seisoen van vergifnis, gesels.

Jy is so eerlik in jou werk – dit val my altyd op. Aan die een kant is daar ’n heerlike storie wat maklik lees, tog skroom jy nie om buite-egtelike kinders se saak te bevorder deur hulle as volledige mense aan die leser voor te stel nie. Ek as leser hóú van die mense wat jy só aan my bekendstel. Van waar dié simpatie met die underdog?

Ek is van kleins af met die vermoë gepla om ander mense se kant van ’n saak in te sien. Ek sê “gepla”, want dis ’n vermoë wat dikwels pyn bring en ’n mens se lewe ingewikkeld maak. Vir die politiek is ek beslis nie beskore nie, want ek kan om my lewe te red nie eensydig genoeg dink nie ... 🙂

In Suid-Afrika met soveel behoeftiges is dit alte maklik om heeltemal verdwaal te raak in die ellendes rondom jou. Dis ’n daaglikse stryd om te weet vir wie moet of kan jy help en wie is besig om vir jou ’n lang storie te vertel.

Aan die een kant skryf jy toeganklike verhale. Maar dan skroom jy nie om eerlik te wees nie. Het jy al mense gehad wat hieroor kla?

Nee, niemand het gelukkig nog (hoorbaar!) gekla nie. Ek was wel al in die versoeking om die kwessies in my boeke ’n bietjie te versuiker of af te skaal, maar die versoeking het gelukkig nie lank geduur nie. As ek nie getrou aan myself bly nie, kan ek maar net sowel ophou skryf. Stories sonder integriteit sou vir my net ’n meulsteen om die nek wees.

Romantiese fiksie word dikwels beskryf as iets wat die leser laat goed voel. Jou boeke sou beslis as sodanig geklassifiseer kan word en, moet ek sê, selfs ’n manlike leser soos die uwe voel altyd goed ná een van jou boeke. Hoe balanseer jy die leser se soeke na genot met jou eie soeke na geregtigheid?

Ek hoop nogal manlike lesers waardeer darem die feit dat ek die manlike hoofkarakter graag ook ’n spreekbeurt of twee gee, iets wat nie noodwendig vir almal aanvaarbaar is in liefdesromans nie. Daarsonder bly die verhaal vir my eenvoudig te eendimensioneel en geniet ek ook nie die skryf daarvan nie.

Oor die balans tussen genot en eerlikheid: ek self moet my stories geniet, anders is daar nie veel hoop dat die lesers dit sal geniet nie. As ek myself verveel, het die arme leser nie ’n kans nie. As skrywer soek ek saam met my lesers na ’n bietjie ontvlugting uit die harde werklikheid, daardie stukkie romanse wat my weer krag vir die vuil skottelgoed, die hondehare op die teëls, die eise van my gesin en die ellendes op die nuus gee.

Ek het nou die dag tydens ’n bespreking oor Seisoen van vergifnis gesê ek kry die gevoel dat jy geweldig fyn luister na mense, want jou karakters klink soos mense wat ek ken. Hoe kry jy dit reg?

Ek luister outomaties na mense oral waar ek kom, of hulle nou met my of met mekaar praat. Ek verlekker my ook dikwels in die taal wat hulle gebruik. Hoe ’n persoon met sy taal omgaan, verklap baie oor sy innerlike. En ek hoor ook wat hulle nié sê nie.

As die laatlam van ’n groot familie was ek van kleins af dikwels op die rand van ’n groep – te oud om met die nefies en niggies te speel, te jonk om saam met die grootmense tande te tel. Maar tande tel het ek – en dit algaande tot ’n soort kuns ontwikkel. In sosiale situasies is ek steeds geneig om tussen twee groepe te beland en tegelyk na albei te probeer luister.

Talle mense wat deelneem aan Lekkerlit het nog nie jou boeke gelees nie. Wat kan ’n nuwe leser verwag van ’n boek met “Alta Cloete” op die voorblad?

’n Vroulike hoofkarakter met wie die leser kan identifiseer en ’n mooi, goeie man op wie sy hulpeloos verlief kan raak sonder die reperkussies van ’n affair in die werklike lewe.

’n Bietjie wroeg en genoeg lag om dit te balanseer.

’n Goeie skoot realiteit gekombineer met genoeg romanse om die alledaagse werklikheid draaglik te maak.

’n Slot wat haar opnuut in die goeie dinge van die lewe laat glo.

Op ’n manier het die pers jou begin beskryf as ’n “inspirerende skrywer”. Ek dink jy’s ’n “uitdagende skrywer” wat dit steeds regkry om mense te laat goed voel. Wat dink jy van dié soort etikette wat jy jouself op die hals haal?

Ek is skrikkerig vir etikette, want etikette wil jou in ’n boksie druk. En boksies kan versmorend raak. Ek wil graag die vryheid behou om te skryf wat ek in my hart vind om te skryf. As ek per geluk iemand tot iets positiefs kan inspireer of enige afbrekende denkrigting kan uitdaag, is ek maar alte dankbaar.

Seisoen van vergifnis is nou reeds die vyfde boek in ’n reeks van sewe. Hoe op aarde kry ’n mens dit reg om een groep vriende se doen en late oor sewe boeke heen te beplan?

Jackpot-vraag ... Ek weet nie! Die reeks het uit die heel eerste boek (Geur van genade) gegroei, omdat die newekarakters op hul eie stories begin aandring het. Beplanning is glad nie my sterkpunt nie en ek soek-soek maar so saam met my karakters na die storie. Daarvoor is dit wel nodig dat ek my karakters baie goed moet ken en meer as ’n vae idee moet hê hoe hulle in bepaalde situasies gaan reageer.

Hoe vorder nommer ses? Ek is nuuskierig!

Ben en Emily se storie (Seisoen van vervulling) is in die kassie en word vir November 2013 beplan. Dis ’n storie wat diep uit my hart kom en my salig verlief op die held gelaat het.

Ben is ’n oënskynlik sorgelose jongman wat met onverwagse swaarkry gekonfronteer word. Emily is ’n ernstige meisie wat moet leer om ’n bietjie te speel ... maar speletjies het soms pynlike gevolge.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top