Seepglad-rubriek nommer 3: Oor virtuele fietsry in Barcelona

  • 1

Ek is tans in Barcelona, en in München, sowel as in Stellenbosch, en op pad Valencia toe, terwyl ek saam met Alan Winde aan ’n fietstoer meedoen. In die Boland. Alles tegelyk.

Soortvan. Die onnodige detail om dit alles te probeer verduidelik is soos volg: Ek is in die sogenaamde vlees eintlik in die Bosch, en hang maar soos gewoonlik in die een of ander kletsplek rond, tans Kompanjie, en neem aan gesprekke, meetings, info-sessies, one-on-ones en allerhande ander goed deel, reg oor die wêreld, wyl ek hier is en nie daar nie.

In München gesels ons oor sport, kinders, STEM (science, technology, engineering, mathematics) en hoe om jongmense meer geïnteresseerd te kry in vakgebiede wat nie die kunste is nie, sodat hulle sekerlik meer robotte en wolk-rekenaarprogramme en allerhande slim scooters en dinge kan bou sodra hulle groot is. (Van die os op die jas dink ek ons mis die punt, want eintlik wil mense kuier, speel en gesels.)

Intussen is daar baie goed wat ek ook (tans) in Barcelona aanvang. Tussen werk en speel wen speel, maar daar is ’n baie klein verskil tussen die twee. (Dis belangrik. Vertel jou kinders.) Ek het gemeenskap met ’n groot groep mense wat in vliegtuie syntoe kon vlieg, of met vinnige treine soontoe kon reis, net om die reg te geniet om een-een of twee-twee, of selfs in groepswoeps-verband, met mekaar te gesels, en te luister, en rond te staan, en mooi te lyk. En om te voel. Dit is dus wat ons in Barcelona doen: om oor die tegnologieë van môre te gesels, sodat mense minder kan voel en meer kan speel. (Voel, in hierdie geval, sluit beide betekenisse van die woord in.)

Kom ons maak bostaande nog duideliker. Mense gaan al hoe meer tyd op hul fone deurbring, en al hoe minder tyd met mekaar. Hulle gaan al hoe minder lees en skryf, en al hoe meer praat en luister. Jip, die sintuie. Kan jy glo, en jy doen, in Barcelona is daar ’n IoT- (internet of things) konferensie, en ek sou ook graag iets sag op die oog by my voel, maar helaas, ek moet maar stoepsitter speel met wat in die fisiese hier op die Bosch se strate te vinde is. Dis al waar ek tans iets kan voel. So, terwyl ek my lot betreur dat ek nie in München of in Barcelona is nie, stap ek met die hulp van tegnologie so effe deur Katalonië se strate, en kyk en luister na alles om my, maar ek is nie heeltemal daar nie. You get that, of hoe?

How do I do this? Wel, presies soos jy, elke dag. Ons is aan die internet vasgemaak. Julle almal weet reeds dat as ons nou na die La Sagrada Familia in Barcelona wil gaan, ons nie nodig het om op die grasperkie buite hom aan te tree en ’n paar uur te wag vir ’n kaartjie nie – ons kan net op die foon spring en gaan kyk wat ons wil kyk; die binne- en buitekante van hierdie malle katedraal is oop vir een en almal. Onthou jy die 2000's se super-info hoofweg? Wel, dit het sekerlik nou ontaard in ’n realiteitspyp wat my alles laat doen in bykans enige plek, buiten voel, eet, drink, ruik, en so meer. Maar ek kry my werk gedoen. En hulle hulle s’n.

So, hoekom Barcelona? Wel, iemand wat ek goed ken het ’n IoT-besigheid wat poegies en fietse aan die internet vasmaak. Noem hom Victor. Ja, dieselfde Victor as in laas se skrywes: (https://www.litnet.co.za/author/carinus-lemmer/). Die manier hoe dit werk is soos om jou tuin, woud, yskas, kar of skaatsplank met die eter te verbind. Die rede is grotendeels tweeledig: 1) as die skollie jou wiele steel, kan jy hom onmiddellik agtervolg, of iemand stuur om hom te volg en uit te sort; en 2) as jy neerfoeter, stuur die fiets ’n boodskap na die mediese mense in jou area om jou te kom haal en hospitaal toe te vat indien nodig.

So, waarnatoe gaan dit verder? Staatsdepartemente sal data oor fietsryers se gewoontes kan bekom, en dalk die paaie en roetes só verbeter dat dit lei tot nog fietsry, wat blykbaar goed is vir mense, die ekologie en ’n paar ander goed. So ook sal vervaardigers telematiese data kan verwerk om die fietse, poegies, en ander mikro-mobiliteitsmasjiene vlytiger, ligter, beter en mooier te maak. Kyk maar na ujet.com om ’n idee te kry van wat nog met menslike konnektiwiteit kan gebeur.

O, die Tour de Boland saam met Alan Winde en Jan Braai het toe op geen manier – met my saam – gebeur nie. Ek het nooit die uitnodiging ontvang nie, en sou in elk geval nie kon gaan nie, want ek moes my gees op te veel verskillende plekke plaas, en alhoewel mens virtueel kan fietsry, is dit dan soos he(i)den-nagse seks net nie so lekker soos die real thing nie. So hoor ek.

Soos laaskeer. Probeer gou dié: dump hierdie hele artikel in Google Translate, kyk wat gebeur met die vertaling na enige taal van jou keuse.
 
Na Engels: Try it soon: dump this entire article into Google Translate, see what happens to the translation in any language of your choice.
 
Hollands: Probeer het snel: dump dit hele artikel in Google Vertalen, kijk wat er met de vertaling gebeurt in elke gewenste taal.
 
(Die leser sal oplet dat die Nederlands al verander het sedert ons eerste artikel - dws "machine learning" werk onder ons neuse. Tot ’n volgende keer.)
  • 1

Kommentaar

  • Ag jou lekker ding! Ek verheug my in elk van hierdie stories.

    Kan jy dalk uitvind waarheen ons met medisyne op pad is? Die afgelope week het ek te doen gehad met twee stelle mense wat byna die lewe gelaat het as gevolg van 'n misdiagnose en medisynevoorskrifte wat bots.

    Dit kan tog nie so moeilik wees om my hele gesondheidsprofiel op een plek te hê met KI in die agtergrond wat enige ongerymdheid kan uitwys en voorstelle kan maak namate nuwe inligting na vore kom nie.

    En boonop met die vermoë om enige hospitaalvorm outomaties in te vul, asseblief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top