Sean Connery, veelsydige superster

  • 2

Sean Connory (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Sean_Connery#/media/File:SeanConneryJune08.jpg)

Hy het stewige kompetisie van die supersterre van die sestigs gehad, want dit was die era van volbloedmanne met yster in hul baarde soos Clint Eastwood met die skrefiesoë wat manlikheid versinnebeeld het deur net twee of drie woorde te uiter. Cary Grant was sjarmant maar dikwels stug in sy manlikheid; die selfbewuste maar charismatiese Steve McQueen het in sommige films, soos Nevada Smith (1966), ’n houding aan hom gehad wat gewaarsku het: "Moenie met my foeter nie. Ek is ’n man van aksie"; die dramatiese, soms brommende Marlon Brando het soms groter geraak as die rolle wat hy vertolk het; en Charles Bronson het so uitdrukkingloos en vierkantig soos ’n aambeeld gelyk.

Ook John Wayne se ikoniese skaduwee as man der manne het soos ’n donderwolk oor hierdie era gehang, want al het hy elke rol dieselfde gespeel met ’n stram sangerigheid, was hy die man wat elke akteur wou wees, en selfs nageboots het.

Toe Sean Connery in die vroeë sestigs op die toneel kom, het hy ’n nuwe kleur, gemaklikheid, charisma en ’n sensuele kwaliteit aan volbloed manlikheid gegee wat destyds gekort het en waarvoor akteurs versigtig was. Hulle wou nie as "weerloos" of "sag" getipeer word nie. Connery kon glimlag terwyl hy ’n sigaret aansteek, ’n kwinkslag kwytraak en ’n skurk bokveld toe jaag. Hy was ook berug om dubbelsinnige kwinkslae, waarmee net hy weggekom het, wanneer hy ’n skoonheid gewaar het en haar met ’n klik van ’n aansteker die lakens laat wegtrek het. Sean was nonchalant onbewus van sy krag en vreeslose, manlike baldadigheid. Hy was die manlikste ster van sy tyd sonder dat hy dit forseer het.

Anders as die liggewig akteurs van vandag, wat dikwels lyk of hulle meer vogroom aanwend as wat hulle manlike take uitvoer, het Connery die karakters vol gesit wat hy gespeel het sonder om, soos Tom Cruise, te hard te probeer. Connery het manlikheid versinnebeeld omdat hy min met die Hollywoodse toneelspelbrigade te doen gehad het, ook nie deur Amerikaanse toneelspelskole beïnvloed is nie, en net natuurlik en ongedwonge was. Want sommige skole het akteurs lastige maniërismes aangeleer, en daaraan het Connery geen erg gehad nie. Daarom het vroue hom begeer en was mans tuis in sy silwerskermgeselskap.

Connery het in haglike toestande in Edinburgh grootgeword waar hy aartappels en melk in die donker in ’n yskoue stad vir arm mense moes aflewer. Daardie skurwe voetjies met die barsies onder het hom gebrei. En dit het iewers bly vassteek gedurende sy loopbaan in die vloot, as lewensredder, model en akteur. Hy het selfs doodskiste gepoleer en nooit vergeet hoe dit was om swaar te kry nie. Hy het terloops ook ’n tweede prys in die Meneer Heelal-kompetisie gewen.

Sy vriend, die akteur Billy Connelly, som dit raak op deur te sê: "He doesn’t ever differentiate between the milkman and the star."

Dit is wat hom so natuurlik gemaak het. Hy het geen affektasies gehad nie, nog minder aangeleerde en selfbewuste tegnieke soos sommige van sy eweknieë. Hy het ’n rol met nugterheid, insig en intelligensie aangepak, gesorg dat hy by die hart van die karakter uitkom en dit dan eerlik oorgedra. "Hy was a no bullshit kind of guy," het sy medespelers altyd gesê.

Van vroeg af was hy individualisties en vreesloos, iets wat min akteurs van daardie tyd was, want sommige is gepamperlang sodat ateljees hulle kon besit en telkens dieselfde soort rolle kon gee. Nie hierdie bul nie! Connery was die een (en dalk enigste!) akteur wat ooit die grote Alfred Hitchcock getroef het, ’n regisseur wat gewoond was aan dieselfde soort akteurs, maar wat lakeie was wat elke opdrag van hom slaafs uitgevoer het. Dink aan spelers soos James Stewart en Cary Grant. Maar hulle was Hitchcock-klone.

Toe Hitchcock die jongeling (vars van Dr No, 1962), die hoofrol in Marnie (1964) aanbied, het Connery voorwaardes gestel wat Hitchcock in sy spore laat vassteek het: Eerstens wou Sean eers die draaiboek lees; toe het hy sy eie interpretasie van die karakter gehad en het hy met voorstelle gekom. Van hier af het Hollywood besef: Jy neuk nie met hierdie Skot nie. Hy is nie uit die Hollywood-worsmasjien gedraai nie.

Dit was dalk die Skotse bloed wat so viriel deur sy are gevloei het wat hom so individualisties gemaak het – iets wat min akteurs van daardie jare gehad het. ’n Mens het na die akteurs Montgomery Clift, Paul Newman of Marlon Brando gaan kyk, nie noodwendig die karakters nie (al was baie van hul vertolkings goed). Daarom het Connery Hollywood ’n dwarsklap gegee met sy onkonvensionele, vars uitbeelding van Ian Fleming se James Bond, ’n karakter wat maklik ’n stereotipe kon word.

"Ek maak dinge so eenvoudig as moontlik," het Connery op stel gesê. Vandaar sy volkome gemaklikheid met Bond, ’n groter-as-die-lewe-self-karakter wat Connery as ’n mens uitgebeeld het, ernstig opgeneem het (al was hy nie juis dol oor die karakter nie) en die nonchalante vonkel-in-die-oog-kwaliteit wat hy na die spioen gebring het. Sy glimlag was net duskant sy mou.

Hier was ’n man wat kon bang word, ’n vodka-Martini "shaken, not stirred" gedrink het, en met gesag, maar vasberadenheid skurke uitgewis het nadat hy self byna sy kroonjuwele in ’n film verloor het.

Maar hy het van sy James Bond-beeld probeer vlug. Eerstens het hy vriende gebly met die werkersklas op die skeepswerwe in Skotland en het opgemerk dat hulle soms in dieselfde slegte toestande waaronder hy destyds gewerk het, steeds hul dagtake moes verrig. Daarom het hy, op die kruin van sy roem, ’n sterk-aanvallende dokumentêr gemaak wat politieke en sosiale kommentaar gelewer het en fabrieksbase aangevat het: The bowler and the bonnet in 1965.

Jare later sou Connery die eerste Skot in 20 jaar wees aan wie die vryheid van Edinburgh toegeken is, wat selfs prins Charles 20 jaar gelede ontsê is!

Hy speel in The Molly Maguires (1980) ’n steenkoolmyner wat in opstand kom teen die haglike omstandighede waaronder hy in 1876 moes werk, en ’n hardebaard polisieman wat ’n kindermolesteerder agtervolg, byt tot hy gil van pyn en toe arresteer in The offence (1973). Nie een van hierdie films het geld gemaak nie, maar het elkeen die stempel van individualiteit en ’n sosiale gewete en politieke kritiek van Connery gedra. As ’n man beneuk was oor sekere toestande en oortredings, moes hy praat!

Connery was twee keer getroud. Sy tweede vrou was die enigste vrou wat hom verstaan het. Sy was bewus van die kritiek dat vroue in sy rolprente soms onverantwoordelik en swak behandel is en bloot as versierings opgetree het. Dit het haar gehinder. Micheline Roquebrune Connery het nie geskroom om voorwaardes te stel wat die donker basstem soms stilgemaak het nie.

Om die huwelik te laat werk, het sy drie keer per jaar ’n lys opgestel oor dinge wat die ster gedoen het (ook in sy films) wat haar pla, dan gee sy hom opdrag om daaraan te werk.

Maar sy was ook simpatiek, want agter die macho fasade was daar "’n man wat beskerming nodig gehad het" volgens haar. Daarom het hulle na Spanje verhuis, sodat hulle "darem in die straat kon loop en Sean nie bestorm is deur duisende aanhangers nie". Dit het veral gebeur nadat hy teësinnig teruggekeer het na die rol van Bond in Never say never again (1982), ’n ironiese titel. Want hierna het Connery gesweer: nooit weer nie. Hy het vir twee en ’n halwe jaar geen noemenswaardige rolprent gemaak nie en sy aandag aan sy gesin gegee voor Highlander in 1986 en toe, in dieselfde jaar, The name of the rose. Daardie rolle was so ver van Bond as wat hy kon kom.

 

Never say never again het hom laat besin oor die soort rolle wat hy gekies het. Sy vrou beskryf hierdie rustydperk in sy Spaanse huis as "’n kliniek waarin my man gesond kon word". Dit terwyl sy baie portrette van hom geskilder het en hom geduld geleer het. Connery brom in ’n onderhoud dat hy dit bitter moeilik gevind het om so lank stil te sit, maar vir sy vrou sou hy dit doen. Sy was een van die weinige mense wat hom van sekere lastige gewoontes kon laat afsien.

Van sy medesterre verduidelik wat hom so laat uitstaan het van sy nuwe tydgenote in die negentigs. In The hunt for Red October (1990) het Alec Baldwin verklaar dat Connery so oorweldigend was "dat ek soos ’n stuk meubel gevoel het". Connery het in ’n rol ingestap en dit moeiteloos vertolk, sonder die fieterjasies van moderne sterre wat ure lank geneem het om in karakter te kom (dink aan Dustin Hoffman).

Connery het sy woorde geken en daarna met die span agter die kameras gaan gesels, in plaas van om alleen in sy karavaan te sit en tob of spesiale behandeling te eis. Toe ’n joernalis aan hom vra hoe hy vir ’n rol voorberei, het hy gesê: "If you’re an emotional cripple, you’re not going to be much use to anybody else."

Sy rolle was sedert Bond altyd uiteenlopend: die avontuurlike The man who would be king (1975); The Great Train Robbery (1978), waarin hy ’n skurk met sjarme en menslikheid gespeel het; en The hunt for Red October (1990).

In artikels verklaar hy dat hy Bond anders gespeel het as sy tydgenote wat destyds soortgelyke rolle aangedurf het. "The key ingedient was humour, a way out of the dreary kitchen sink drama, and humour balanced nicely with the constant threat of death as a defence mechanism."

Vergelyk ’n mens hom met vandag se akteurs, is daar bitter min manne wat so gemaklik in hul velle sit. Daniel Craig is een van hulle. Hy boots Connery nie na nie, maar het dieselfde gesag, maar op sy eie manier. Liam Neeson het manlikheid met vasberade gesag en ’n growwe, onafgewerktheid oorgedra, maar tog ook ’n nonchalante gemaklikheid gewys. Dit teenoor die lig-in-die-broek seuntjies wat hemde uitpluk wanneer ’n koevert oopgemaak word. Dink aan vele, fraai televisiehelde wat manlik probeer lyk, seuntjies wat hul broeke probeer volsit in hardebaard rolprente en so hard probeer macho wees dat hulle karikature word, en lieflike gesiggies wat nie kan toneelspeel nie.

Sommige van vandag se liggewiggies probeer net te hard om te registreer en val tussen die krake deur, met die uitsondering van nog ’n Skot wat sy rolle met gesag en manlike gemak speel: Richard Madden in Bodyguard (2019). Hier is een van die min akteurs wat ’n manlike spontaniteit en beheersing met oortuiging kan oordra sonder om iemand na te boots.

Natuurlik is daar nóg manne wat in Connery se spore kan volg, soos Jake Gyllenhaal en Ryan Gosling, maar min wat met net een sin (of in Connery se geval, daardie dik-soos-wol s-klank) ’n man vernuftig kon laat resoneer.

Hy was "die grootste Skot van sy tyd", volgens die Sunday Herald, en is ook deur koningin Elizabeth tot ridder geslaan. Hy was selfs in haar teenwoordigheid gemaklik en nie geïntimideer nie, want sien, die negejarige kaalvoetseuntjie moes nog ’n paar aartappels op sy rondes gaan aflewer nadat hy tot ridder geslaan is.

Connery was gemaklik met sensuele, sexy tonele, waar ander akteurs soos Richard Burton soms styf en geforseerd-bombasties in sommige rolle was, of bloot verveeld gelyk het, en Oliver Reed buite beheer geraak het en geneig was om op een speltoon te hamer. Connery kon met ’n vonkel in die oog vir homself lag, alhoewel nie so dawerend wenkbroutrillend en selfvertroetelend soos Roger Moore nie.

Dalk het Cate Capshaw Connery se sjarme die beste verduidelik toe sy verduidelik het dat ’n mens nie kon ophou om na hom te kyk nie. Volgens haar het hy ’n kombinasie van krag, intelligensie en kragdadigheid gehad. Hy was manlik, ’n denker, intelligent en (het sy met ’n glimlag bygevoeg) "so mooi om na te kyk".

Een van sy bekendste kwinkslae uit ’n James Bond-film wat al dikwels aangehaal is, is toe Bond vir Honor Blackman in Goldfinger (1964) vra wie sy is en sê sy: "My name is Pussy Galore", waarop hy met ’n gesig waardeur daar maklik vier gewaarwordings in ’n sekonde gegaan het, geantwoord het: "I must be dreaming!" En dit is daardie soort humoristiese onopmerklike knipoog aan die gehoor wat hom so besonders gemaak het en wat niemand hom eintlik kon nadoen nie. Hy het dikwels nie woorde nodig gehad nie; sy oë en die uitdrukking daarin het die dialoog verskaf wat in elk geval deur baie mans se breine geflits het. Dit was een van sy mees uitstaande kenmerke – die knipoog aan die gehoor sonder om ’n spier te vertrek.

Die man met "Scotland forever" op sy arm getatoeëer is Saterdag in die ouderdom van 90 oorlede. Ons lig ’n glasie met ’n olyf in op hom: shaken, not stirred.

 

  • 2

Kommentaar

  • Hy was voorwaar een van die min mans wat 'n rok met grasie kon dra. Beslis een van die "geliefste" akteurs. Hy is 'n legende.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Leon

    Netjiese agtergrond van 'n baie besondere akteur.

    Maar, moes jy nie dalk ook die kwessie van die "oop-hand-klap" aangeraak het nie?

    In 1993, he backtracked somewhat in an interview with Vanity Fair, suggesting his words were taken out of context:

    “I was really saying that to slap a woman was not the crudest thing you can do to her. I said that in my book — it’s much more cruel to psychologically damage somebody … to put them in such distress that they really come to hate themselves. Sometimes there are women who take it to the wire. That’s what they’re looking for, the ultimate confrontation — they want a smack.”

    Read more: https://www.2oceansvibe.com/2020/11/03/the-sean-connery-interview-where-he-talks-about-hitting-women-video/#ixzz6evlo7h3C

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top