
Scenes from an execution
Met Jennifer Steyn, Graham Hopkins, Nicky Rebelo, Khathushelo Ramabulana, Elizabeth Akudugu, Cleo Raatus, Lauren Blackwell en Phoebe Ritchie.
Teks: Howard Barker
Stelontwerp: Patrick Curtis; beligting: Luke Ellenbogen; kostuums: Leigh Bishop.
Regie: Clare Stopford
Aangebied deur die Baxter Teatersentrum en The Company in die Baxter se Golden Arrow Studio.
Dadelik voel ’n mens aan: jy’s bevoorreg om ’n uitsonderlike toneelstuk te beleef. Lewenskragtig, energiek aangebied. Jy word telkens verras. Jy sukkel nie om te hoor en te sien nie. En dan is daar die inhoude oor menslike verhoudings met al die motiewe wat daarby betrokke is, en die botsings tussen die kunste en die staat.
In 1571 vind die seeslag van Lepanto plaas – Christene teen Moslems. Dit sou die laaste keer wees dat roeibote in ’n geveg gebruik word. Die Republiek van Venesië se seemanne is die oorwinnaars. Die Doge/hertog (Graham Hopkins) is darem ’n liefhebber van die skilderkuns, en gee die skilder Galactia (Jennifer Steyn) opdrag om die grootse gebeurtenis in ’n skildery te verewig.
Galactia word beskou as briljant, maar sy is ook arrogant. En eiesinnig. Die Doge, medekunstenaars (Khathushelo Ramabulana as Carpeta, Lauren Blackwell as Lasagna en Phoebe Ritchie as Sordo) en kritici soos Nicky Rebelo as Ostensible en Elizabeth Akudugu as die opgetofte Rivera) sal weet dat sy nou wel die opdrag aanvaar het, maar sy hou nie van kompromieë nie. Nooit en nêrens nie.
Sy wil tot elke prys die waarheid oordra: die afgryslikheid van lyding en nie noodwendig die mooi handjies van ’n admiraal nie. Nie glimlaggende vegters oor die triomf nie. Die dood heers. Dis vir haar die belangrikste. (Sy vind die manlike anatomie wel interessant – al die boude wat eerste opkom na die oppervlak.)
Die Doge span vriendelik met ander hooggeplaastes en selfs met kollegas teen haar saam. Sy beland in die tronk. Phoebe Ritchie vertolk hier ’n dame in ’n aangrensende sel. Sy lyk en praat soos iemand wat al bitterlik lank in dié beknopte ruimte bly leef. Sy word al hoe werkliker vir ’n mens.
Reeds in 1994 behartig Clare Stopford die regie van dié Howard Barker en wel in die Markteater. Sy is bekroon daarvoor. Graham Hopkins was toe ook die Doge. Hy en ander is insgelyks bekroon.
Stopford wou nog altyd die stuk weer opvoer. Daar is die uitdagende hoofrol waaraan Jennifer Steyn beslis in alle opsigte reg laat geskied. Stopford glo dat die drama steeds aktueel is vir ’n moderne gehoor. Inderdaad. Die verhouding tussen die regering en die kunste (alle soorte) was nog nooit volkome sonder stryd nie. Jy hoef ook nie ’n kunstenaar te wees om jou in hierdie lewensituasies te herken nie. Ook jy is dalk nie gelukkig in ’n verhouding nie. Of jy wil nie oorheers word nie.
Die begeerte van die Doge dat die vegters vereer moet word, herinner aan die kritiek ná die eerste opvoering van NP Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver tydens die Republiekfees van 1966. Eerste minister HF Verwoerd het onder andere “gepleit”: “O, kon dit vir ons ook gegee word, soos dit in die uur van roem van groot volke in die verlede was, dat daar diegene kon opstaan wat nie weifelend vra: wát is ’n volk? nie, maar wat sal uitjubel: dít is my volk, só is my volk, só kan hy ook wondere verrig, só is hy as skepper van ’n eie toekoms!” Daar bestaan ’n foto van ’n bewoë Louw ná hierdie verdoemende uitlatings deur ’n staatsman in die openbaar (JC Steyn: Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal, deel 2, bl 1041).
Die spelers handhaaf deurgaans ’n wonderlike tydsberekening in die dialoog. Dit was ook verrassend dat met die eerste spraakbeurte ná pouse die spelers besonder sterk gepraat het sodat die gehoor dadelik weer op hulle kon “inskakel”.
In die teks sal byvoorbeeld ’n cliché of ’n stommiteit voorkom. Maar nog voor jy daaroor kan wonder en verveeld kan raak, kom die volgende spraakbeurt wat die eerste gedagte ironiseer, verwerp of met ’n spitsvondigheid vervang en ’n nuwe insig skep. So ontstaan ook humor.
Die spelers het twee uur lank opgetree, met ’n verposing van 10 minute. Op die openingsaand staan die gehoor daarna toe op vir die applous. Vir hulle en al die lede van die verhoogbestuurspan. Almal het dit verdien. Ons was mét hulle die hele aand.

