![]() |
Sarie 5 Skrywer: Barbara Joubert Human & Rousseau Publikasiedatum: Junie 2006 Prys: R165 Bladsye: 160 pp Sagteband met flappe ISBN: 0798146249 |
Sarie 5 slaan ‘n ses in die Afrikaanse kosboekmark. Dis Barbara Joubert, Sarie-kosredakteur, se eerste eie kookboek, en wat ‘n boek is dit nie! Haar jare as top-kosstilis, kombuistowenaar en voormalige fotoredakteur gee haar die perfekte agtergrond en ervaring vir die skepping van hierdie pragstuk.
Sarie 5 lees soos ‘n lekker kombuisklets met ‘n goeie vriendin, lyk soos ‘n idilliese familie-foto-album, spog met seker van die mees aptytwekkende kosfoto’s nog, en bevat ‘n versameling van Barbara se praktiese, verleidelike resepte wat eenvoudig soebat om gemaak te word.
Die klem val deurgaans op eenvoud, soos die titel verkondig: Eerlike kos met vyf bestanddele. (Soms selfs minder.) Aksent word in alle resepte geplaas op geur en tekstuur, gerief en prakseerbaarheid. As besige ma en beroepsvrou dra sy immers eerstehandse kennis van wat haalbaar en moontlik is met die tyd en bestanddele tot beskikking in ons alledaagse lewe.
Sy moedig die leser aan om haar resepte as wegspringplek te gebruik en self te eksperimenteer, by te las, weg te laat, en mét sowel as óp gevoel te kook.
Barbara is ook deeglik vertroud met die Afrikaanse leefstyl en voorkeure, en daarom kan die meeste van die resepte in die spreekwoordelike japtrap aanmekaar geslaan word met dit wat in die gewone koskas of yskas te vinde is. (Dit sluit beslis nie soppoeiers en kunsmatige geurmiddels in nie, maar wel blikkies boontjies, tamaties, speserye en hope vars kruie!)
“Barbara se boek is soos syself,” sê Sarie-redakteur Michelle van Breda, “passievol, inspirerend en onpretensieus.”
Onopgesmuk en aards, maar beslis nie onverfynd nie.
In haar boek skryf Barbara oor waar háár inspirasie vandaan kom: “Die resepte is gegrond op dies waaraan ek as kind gesmul het en nooit die smaak van uit my mond kon kry nie. Van die geregte is eksperimente wat reg verloop het. Ander uit die duim gesuig nadat ek ‘n lekker bos groente of vars vis gesien het.’’
Verwag dus eweneens resepte vir ou treffers soos gebakte suurlemoenpoeding, hoenderpasteitjies, karringmelkbeskuit en pampoenkoekies, as vir 14-uur-varkblad, tuna steaks met salsa, gevulde sardientjies en ‘n streepsakvol kraakvars, kleurvolle slaaie en bygeregte.
Die 10 hoofstukke het almal prettige titels.
Daar’s “Kraakvars”, met nuwe variasies van ou gunstelinge soos beet- en boontjieslaaie, plus ‘n hele vuisvol kleur- en geurvolle Mediterreens-gebaseerde nuwelinge.
“Slurp en geniet” bevat ‘n tiental verspot-maklike sopresepte – waarom mense nog pakkies soppoeier gebruik, weet nugter alleen, en hiérna is daar bloot geen verskoning meer nie.
“Die hoenders in” het ‘n dosyn smullekker instruksies vir kiepe, eend en kwartels, en “Pasta – die geheim is in die sous” vertel dit soos dit is. Want dit ís so!
Vir vleisliefhebbers word ruimskoots voorsiening gemaak, soos dit uit ‘n Karoo-nooi se kombuis hoort. Uit ‘n hoofstuk getiteld “Vir die liefde van vleis” kan mens leer hoe om Karoo-koeksisters, carpaccio, lamskebabs met jogurtmarinade, geroosterde voorrib vir Sondagmiddagete en veel meer op te dis.
“Kom-by bygeregte” vul die voorheen saai oopte op die bord met op-en-wakker bykosse.
“Poeding vir die soettand” is onweerstaanbaar; “Bak kan nie byt nie” paai selfs die skrikkerigste aspirantbakker tot by die meelbak en oond; en “Die pluimpie is in die sous” verklap die koksgeheime wat daardie finale afronding verleen aan pikante geregte
Vir hierdie leser bly die 12 vis- en seekosgeregte in “Die smaaklike see” egter die verkoopspunt van die boek. Sardientjies, vispastei, kammossels, knoffelgarnale en baba-kabeljou-in-foelie pronk daar saam met gebraaide vis en oondgebakte salm, als op foto’s wat mens dadelik wil laat afsit branders (of viswinkel) toe.
Soms koop mens ‘n kookboek vir ‘n enkele moet-hê resep (myne is die “Calamari met tamatie” op bl 82), soms vir die foto’s, soms vir die stories. Sarie 5 bied dit alles in oorvloed, en teen ‘n hoogs bekostigbare R165 behoort dit van die rakke af te vlieg.



Kommentaar
Ek is op soek na ’n Mediterreense hoenderresep wat in so ’n reseptebylaag saam met die Sarie-tydskrif uitgegee is in die jare plus minus 1980. Asseblief. Kan iemand help?