Sanri Steyn, die rustelose mummie: ’n onderhoud met Theresa van Baalen

  • 1

Sanri Steyn: Die rustelose mummie
Theresa van Baalen
LAPA-Uitgewers
ISBN: 9780799383850

Skrywers oor hul nuwe boeke. Theresa van Baalen praat met Naomi Meyer oor Sanri Steyn, die rustelose mummie.

Theresa, jy is die skrywer van die Sanri Steyn-reeks. Onlangs het ek en my dogtertjie Sanri Steyn, die rustelose mummie gelees. My dogtertjie wou weet: wat het jou die idee vir die storie gegee?

Wie het nog nie gewonder wat gaan aan onder ’n mummie se verbande nie? Mummies het al baie die verbeelding geprikkel en in ’n wêreld van sê-nou-maar (waar skrywers gedurig kuier) is enigiets moontlik, ook ’n mummie met spesiale kragte wat eintlik “lewendig” is. Daarby is mummies lekker grillerig, met net genoeg misterie om lesers aan die raai te hou. In rekenaarspeletjies en flieks is die mummies dikwels die slegte ouens. Ek het gedink dat ’n mummie wat Sanri en Markus se hulp nodig het, maar wat ook vir hulle so ’n klein bietjie gevaar inhou, ’n interessante storie sal uitmaak.

My dogtertjie het ook gevra: het jy al 'n regte mummie in 'n museum gesien en hoe het dit gelyk?

 Nee, ek het ongelukkig nog nie ’n regte mummie in ’n museum gesien nie.

My kind wou weet: hoe op aarde kon die mummie dit regkry om daardie Coke te drink? 

Sanri kon nooit agterkom hóé die mummie dit reggekry het om die Coke te drink nie. Al bewys wat sy gehad het dat hy probeer het om die Coke te drink, was die foto’s wat sy voor en na die tyd geneem het. Dit het haar gehelp om tot die gevolgtrekking te kom dat die mummie lewendig moet wees, of dalk een of ander  spesiale krag moet besit. As dit nie daarvoor was nie, sou sy nooit snuf in die neus gekry het of die saak verder ondersoek het nie. En dan sou hulle ook nie die mummie probeer help het nie.

Ek wil graag hoor oor jou as skrywer: wat gee jou idees vir stories in die algemeen? 

Wie weet waar idees vandaan kom? My eerste twee boeke, Aspris-krokkedis en Karla Krullebol, was beslis deur my kinders se manewales geïnspireer.  Met Sanri Steyn was ek doelbewus opsoek na ’n lekker idee wat die pontensiaal sou hê om ’n reeks te kon word. Die idee vir Sanri het homself mettertyd aan my geopenbaar. Met die Vakansiepret-reeks het ek ’n gaping in die mark gewaar, en weer eens doelbewus begin dink oor wat ek kan skryf om daardie behoefte aan te spreek. Die idee het ook mettertyd vanself gekom. Sodra ek ’n storie wil skryf en myself oopstel vir idees, kry ek gewoonlik presies waarna ek soek. Ek staan egter diep afhanklik voor die groot gewer van idees, en dink nie vir ’n oomblik dat ek ooit enige stories self uitdink nie.

Watter boeke het jy as kind gelees en dien dit vir jou as inspirasie vir die boeke wat jy self skryf? 

“Mystery”- en avontuurverhale was my kos. Die eerste biblioteekboek wat ek ooit uitgeneem het, was een van Enid Blyton se Secret Seven. Ek was nege. Van daar af het ek vir jare amper nooit weer aan ’n Afrikaanse kinderboek geraak nie, en het The Famous Five, The Hardy Boys, Alfred Hitchcock and the Three Investigators, en Nancy Drew gevolg. Ek lees tot vandag toe graag tiener- en jeugverhale, en probeer op hoogte bly met veral die nuutste Afrikaanse publikasies. Maar ja, daai eerste boeke het beslis die grondslag gelê vir byvoorbeeld die Sanri Steyn-reeks. En dit was met daai eerste Secret Seven-boek dat ek besluit het ek wil eendag ’n skrywer word.

Wie is jou ideale leser, het jy so iets? 

Nee, ek dink  nie ek het ’n ideale leser nie. Ek hoop wel my stories beland in die hande van onwillige lesertjies, want ek probeer die gegewens van my stories so buitengewoon en verrassend as moontlik aanbied, sodat selfs die onwillige leser geboei sal word en wil aanhou lees.

Vertel my van Sanri Steyn, heldin van jou Sanri Steyn-reeks. 

Sanri is nuuskierig, sy is effens voor op die wa en sy hou daarvan om in beheer te wees. Kortom: Sy het ’n sterk persoonlikheid en staan nie terug vir enige seun nie. Ek het doelbewus ’n storie probeer skep met ’n vroulike hoofkarakter, maar waarby seuns ook sou aanklank vind. Party seuns sterf eerder voor hulle erken dat hulle hulle met “meisiesgoed” ophou, waar meisies dikwels glad nie omgee om te erken hulle lees bv “seunsboeke” nie. Met Sanri is dit anders. Vanuit die terugvoer wat ek al ontvang het, blyk dit seuns lees die stories net so graag en geniet dit net so veel soos die meisies. Ek dink dis omdat Sanri onkonvensioneel is. Sy laat haar nie voorsê nie, en met Markus aan haar kant skep dit ’n bietjie balans in die stories. Daarby spreek die avonture wat sy en Markus beleef tot beide seuns en dogters.

Sanri is 'n joernalis van die Raaiselfontein Gazette. Dis 'n handige manier om haar op die spoor te plaas van die avonture wat sy beleef. Hoe werk jou eie skryfproses: skep jy die raaisel wat jy moet oplos en pluis dit dan so saam met Sanri uit, of weet jy vooraf reeds hoe die storie gaan eindig? 

Ek weet altyd hoe die storie moet eindig, maar ek het dikwels geen idee hoe die storie van die begin tot die einde gaan vorder nie. Meeste van die tyd pluis ek dit saam met Sanri uit.

Is jy besig om nou al aan 'n volgende Sanri Steyn-avontuur te werk, of skryf jy ook aan iets anders? Ook: skryf jy voltyds?

 Daar sal nie in 2019 ’n Sanri Steyn verskyn nie, maar hopenlik weer in die toekoms. Ja, ek skryf voltyds. Ek werk tans aan ’n wetenskapfiksieverhaal vir tieners wat later die jaar verskyn. Ek wil ook die jaar my romanse-skryfvaardighede afstof en weer ’n romanse of twee skryf. Min mense weet dit, maar ses van my romanses het reeds onder die skuilnaam Cheryl Rogers verskyn. Verder skryf ek gereeld artikels en so nou en dan ’n kortverhaal vir Vrouekeur, om die pot aan die kook te hou.

Wat lees jy graag? 

Ek wil graag dink ek lees nogal wyd. Ek is veral mal oor sogenaamde young adult novels, beide in Afrikaans en Engels. Ek geniet ook stories met ’n fantasie-element, wat dikwels ook maar op tieners gerig is. Ek geniet stories oor vrouens en hul lewens, veral as daar ’n bietjie humor by betrokke is. Ek is ’n groot aanhanger van Dan Brown en vind sy verhale baie interessant en boeiend. Ek het onlangs David Michie se drie The Dalai Lama’s Cat-boeke gelees en verskriklik geniet. So, ek kan niks uitsonder nie. Daar is soveel interessante boeke daarbuite, en ek kan maar net hoop ek het genoeg tyd om by almal uit te kom!

  • 1

Kommentaar

  • Van Jeugboeke gepraat: Ken jy die Tillerman Trilogie van Cynthia Voigt? Daar is ook verskeie ander boeke wat hierby aanhaak, oor van die karakters wat in die trilogie voorkom. Van my heel beste jeugboeke!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top