Sanlam Sing 'it finalis-onderhoud: Engela Pretorius

  • 0

Hey, Engela! Baie geluk dat jy as een van die Sanlam Sing ‘it-finaliste gekies is! Hoe lank skryf jy al lirieke?

Ek skryf al 17 jaar lank – ek het begin toe ek net sewe jaar oud was om stories, gedigte en lirieke te skryf.  Ek het toe ek jonk was altyd ’n “skryfboek” gehad waarin ek al my lirieke en gedigte geskryf het. Dit het natuurlik later opgegradeer tot ’n blog of twee.

Hoe voel jy oor die feit dat ekhouvanjou,okay! jou lirieke opgeneem het?

Ek het liedjies vir die ander kunstenaars ook geskryf, maar dit was vir my die grootste uitdaging om ’n liedjie vir ekhouvanjou,okay! te skryf, bloot op grond van die feit dat dit buite my “skryf-zone” was. Ek skryf gewoonlik goed van ernstige aard, maar ek is iemand wat ook baie lag en ek het ’n goeie humorsin. Dit was moeilik, maar ek het dit regtig baie geniet. Dit is vir my werklik ’n groot voorreg dat hulle my lirieke gekies het, omdat dit aan my bewys het dat ek snaaks kan wees en dat ek myself suksesvol in die band se skoene kon plaas en vanuit hulle oogpunt ’n liedjie kon skryf wat gepas is vir die gehoor wat hulle ondersteun. Ek is mal oor hulle musiek! Dit is werklik een van my grootste prestasies.

Hoekom dink jy het jou lirieke uitgestaan?

Ek dink dit het uitgestaan omdat dit aan die een kant snaaks en bemagtigend was, en aan die ander kant ook effens vleiend met die woorde “ek wens jy was nie so mooi nie”. Daarom glo ek het dit die potensiaal om beide ouens en meisies aan te trek.


Interpretasie is meestal subjektief, maar waaroor gaan die song vir jou persoonlik?

Dit is uit die oogpunt geskryf van ’n jong ou wat vasgevang is in ’n verhouding wat hom beperk en waarin sekere verwagtinge is waaraan hy nie wil of kan voldoen nie. Daar is ook gereeld konflik. Hy wil ontsnap en “vry” wees, maar sy meisie is baie mooi en dit maak dit vir hom moeilik. Hierdie situasie kom baie onder jongmense voor, en ek het gevoel ek wil graag daaroor skryf.

Hoe en waar het jy jou wen-lirieke neergepen?

Ek het voor ’n rekenaar gaan sit en begin navorsing doen oor die band. Ek het na ’n paar van ekhouvanjou,okay! se liedjies geluister en toe ook na hulle musiekvideo’s gekyk, met en sonder klank, vreemd genoeg. Deur sonder klank daarna te kyk, het ek opgemerk dat die band ’n “in your face”-houding het. Dit het verbasend goed gewerk! ’n Mens let die fyner besonderhede op en dan begin jy jou eie klanke en idees skep.

Stem hier vir Engela en ekhouvanjou,okay! se snit.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top