Woorde: Maryke Roberts, Sandra Prinsloo
Foto’s: Alle foto’s is met toestemming deur kykNET verskaf – en op versoek onderaan die onderhoud gepubliseer.
Die grusame eskapades van ’n voorstedelike huisvrou en ’n ongenaakbare bendebaas woed voort in die tweede seisoen van Wolflight Films se misdaadkomedie, Koek. En dit gaan nes die veelbekroonde eerste seisoen, wat ’n internasionale Emmy-benoeming ontvang het, sorg vir ’n wipplankrit van aksie, geweld en bloedvergieting.
Koek se eerste seisoen was ’n stroomtreffer op Showmax, maar die tweede seisoen het ’n splinternuwe tuiste. Dis eksklusief beskikbaar op DStv Stream (binne die Showmax-afdeling), op DStv se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette.
Die voormalige bendebaas, Moekie, vertolk deur Sandra Prinsloo, blyk nou ’n brose bejaarde vrou te wees wat deur vreemdelinge “Ouma” genoem word en vir wie pensioenarisafslag gegee word sonder dat sy daarvoor gevra het. Sy leef ’n vaal lewe van stille vernedering.
Maar wanneer Christelle (vertolk deur Cindy Swanepoel), die Kaapstadse tuisblyma en huisvrou wat alles verloor het nadat sy van haar rondloperman, Adrian (Stian Bam), se ontrouheid uitgevind het, weer om hulp aanklop, is die vet in die vuur. Moekie het duidelik nog nie haar aptyt vir luiperdpatrone, brandewyn en niere steel verloor nie.
Christelle is in ’n stryd om haar lewe te herbou, terwyl ’n lelike skeisaak aan die gang is. Haar drome om haar mediese loopbaan te hervat en as enkelma vir haar dogter, Stella (Izebella Louw), te sorg, lê aan skerwe. Dít terwyl haar eks (grotendeels) ongeskonde weggestap het nadat Christelle sy nier vir wraak geoes het. Nou dagvaar hy ook vir toesig van hul dogter en is vasbeslote om Christelle van alles te ontneem.
Wanneer Adrian ’n skelm prokureur aanstel om die saak in sy guns te swaai, volg ’n reeks gebeure wat Christelle terugdwing in die onderwêreld.
Seisoen 2 stel ook nuwe, ongure karakters bekend, onder wie Frank Opperman as Thinus “Tjoppie” Terreblanche – die mees gevreesde bendebaas in die noordelike voorstede wat sy motorkapingsindikaat met ’n ysterhand vanuit sy rolstoel regeer. Ten spyte van sy kwynende gesondheid weier Tjoppie volstrek om die leisels aan sy lamsakkige seun, Tiny (De Klerk Oelofse), of sy manipulerende sesde vrou, Veronika (Leandie du Randt), oor te gee.
Tjoppie se sindikaat en Moekie se ontkleeklub het vir jare ’n moeilike vrede gehandhaaf. Maar wanneer hierdie twee misdaadryke weens ’n reuse misverstand bots, dreig dit om ’n oorlog te ontketen wat die Tygerberg-heuwels bloedrooi sal kleur.
Ook in die rolverdeling is onder andere Ashley de Lange, Clayton Evertson, Jacques Bessenger, Llandi Beeslaar, Vinette Ebrahim, Beer Adriaanse, Amalia Uys, Loren Loubser en Dann-Jacques Mouton.
In die tweede seisoen sluit Eva du Preez as regisseur én mederegisseur by die Safta- en Silwerskermbekroonde reeksleier en draaiboekskrywer Christiaan Olwagen (Kanarie, Recipes for Love & Murder), en die Safta- en Silwerskermbekroonde regisseur en kinematograaf Johannes Pieter Nel (Magda Louw, Die tragiese saak van Pamina Vermaak, Die brug) aan. Eva het haar regiedebuut op Wyfie gemaak en is ook bekend vir haar redigering van reekse soos Niggies en Die Nuusmakers.
Maryke Roberts stel vrae aan Sandra Prinsloo as Moekie:
Sandra, jy is sinoniem met van die mees ikoniese, elegante en emosioneel komplekse rolle in die Suid-Afrikaanse teater- en filmgeskiedenis. Hoe lekker is dit om in die skoene van ’n growwe, kettingrokende, vloekende antiheldin soos Moekie te klim?
Verbasend maklik. Wat my laat wonder oor my eie donker self! Enige rol wat ek met Christiaan Olwagen aanpak is ’n uitdaging. Hy’t ’n lekker lens jy weet. Maar dis ook fantasties, want jy voel veilig, jy voel jy kan die kanse vat, jy weet jy kan die spronge maak. Want dis soos om oor een afgrond na die volgende te spring. Dis so lekker, want die rolle wat ek speel by hom is baie funny en anders. Hulle’s almal lekker kompleks en moeilik en uitdagend. So Moekie was miskien amper die ergste van almal, maar ook die lekkerste.
Moekie het ’n baie spesifieke, amper groteske "look" – van die pruik tot die onmiskenbare luiperdpatrone. Hoeveel het hierdie uiterlike transformasie en die grimering jou gehelp om die karakter te vervolmaak?
’n Kostuum help jou. ’n Pruik help jou. Ook as jy na jouself in die spieël kyk en jy sien sjoe, dis nie meer ek daai nie. En dan begin jy voel mmm, ek is nou in ’n ander mens se lyf. Ek dink dit help die gehoor ook, want as dit nou net soos ek lyk, gaan dit nie heeltemal werk nie.
Ons is nou aan die begin van Seisoen 2 en ontmoet ’n Moekie wat oënskynlik broos is, “Ouma” genoem word, en pensioenarisafslag kry. Hoe het jy dit benader om daardie uiterlike vaalheid te speel terwyl die gevaarlike bendebaas net onder die oppervlak broei?
Moekie het gedink sy gaan nou ’n nice, stil lewe lei, maar dit pas haar glad nie. Sy’s vrek verveeld. Sy pas nie meer in daardie lewenstyl en tussen daardie mense nie. Sy’t nou te veel dinge beleef. Dis amper soos om op ’n hengse uitdagende avontuur te gaan, soos Suidpool toe, nou kom jy terug en jy sit net hier rond by die huis. Dit kan mos nie. Jy gaan verveeld wees. Jy gaan weer terugverlang. Jy gaan nog ’n avontuur wil beleef. So ek dink dit is min of meer waar Moekie se kop is. Sy dink dit gaan oukei wees, maar dit is glad nie oukei nie. Sy’s vrek verveeld. Sy kan nie wag om terug te kom nie.
Dis nie baie dat ’n mens die kans kry om ’n tweede seisoen te doen en die dinamika tussen karakters soos Moekie en Christel uit te brei nie. Hoe is dit vir jou om ’n disfunksionele vennootskap verder te kan ontgin?
Dit was vir my wonderlik, want ek speel verskriklik lekker saam met Christel. Cindy is ’n wonderlike aktrise en ek dink in hierdie tweede reeks verdiep dit. Sy kan ook nie wegkom van haar donker kant af nie. Sy’t ook al hierdie goed beleef en sy wil rêrigwaar net medies gaan swot; sy wil ’n goeie ma wees en haar gewete vreet haar die heeltyd op met skuldgevoelens. Hoe kan jy vir haar sê: “Wanneer gaan jy eerlik wees met jouself oor wie en wat jy is? Jy’s nie eerlik nie, jy lieg vir jouself.” Maar aan die ander kant gee Moekie haar mos nou nie eintlik ’n keuse nie.
In hierdie seisoen bots Moekie se ryk met dié van Tjoppie Terreblanche. Hoe het jy en Frank Opperman, wat Tjoppie speel, dit ervaar om hierdie twee absolute reuse van die noordelike voorstede se onderwêreld teenoor mekaar op te weeg?
Dit was heerlik, want ek het nog nooit vantevore saam met Frank gewerk nie. Ons ken mekaar van gesels by feeste en so, maar dis wonderlik om saam met hom te werk. Hy gee homself heeltemal oor in die rol en hy’s heerlik om teenoor te speel, want jy het ’n lekker akteur om van af te speel. Wat ons ook al vir mekaar gooi, kan ons gebruik.
Koek is ’n unieke mengsel van geweld, bloedvergieting en kurkdroë misdaadkomedie. Wat is die grootste uitdaging vir jou om die balans te vind tussen die absolute erns van die misdaad (soos om niere te steel!) en die donker humor daarvan?
Ek dink jy’t klaar jou vinger op die pols gesit toe jy my die vraag vra. Die uitdaging is juis die balans. Dis om dit absoluut met 100% eerlikheid te speel en met ware gevoelens, maar nooit daai element van komedie te verloor nie. Want dis net daai entjie te ver gaan wat dit vrek snaaks maak. En natuurlik is die teks vir my vrek snaaks. Ek het my doodgelag, maar ek meen sy ís hectic. Christiaan het vir my gesê: “Kyk, Moekie is next level in hierdie.” En dit is sy beslis. Sy gaan net soveel verder as die vorige keer. Maar dit was vir my wonderlik om te doen.
Ons klomp akteurs en tegnici het met die eerste twee episodes se uitsending bymekaar gekom en na die eerste twee episodes gekyk. Almal het só lekker gelag oor al die goed. Ek dink dat as daar nie humor in was nie, sou dit te donker en te wreed gewees het. Maar omdat daar humor in is, is dit net so lekker. Daar’s ’n absurde komponent daaraan, en dit vat dit absoluut weg van die werklikheid. Nou leef ons elke dag saam met so baie swaar en donker dinge, maar die absurditeit daarvan lig dit na ’n ander vlak.
Moekie is ’n gevaarlike tannie, maar blykbaar was sy een van die gehoor se gunstelingkarakters. Wat dink jy, hoekom is mense lief vir haar?
Ek dink omdat sy ’n hart het. Onder al daai nonsens het Moekie ’n hart. En dis ook ’n vrou wat deur haar swaarkry gegaan het, want kyk, Gert het haar verskriklik behandel. Sy’t hom gehelp terwyl sy alles gedoen het om sy lewe vir hom makliker te maak, en dan vind sy uit van ’n ander familie waarvan sy nooit geweet het nie. Maar sy het ’n hart vir Ryno en sy’s kwesbaar – ten spyte van haar gevaar. Sy’s meer gevaarlik in die nuwe seisoen, want sy het nou al die pad gestap, maar sy’t ’n sensitiwiteit. Sy het ook ’n “ag, wat de hel”-houding wat dink ek nogal aantreklik is vir mense. Die kuns is om Moekie eg te maak, sodat sy nie ’n totale karikatuur is nie, want dan beteken dit nie so baie nie. ’n Karakter moet nog ’n realiteit hê onder die absurditeite.
Die eerste seisoen was ’n reuse stroomtreffer wat selfs ’n internasionale Emmy-benoeming ingepalm het. Wat kan kykers verwag van die skaal en die “skokwaarde” van hierdie nuwe seisoen in vergelyking met die eerste een? Is Moekie nóg gevaarliker?
Ja, sy is. Sy sê dit ook in die eerste episode: “As ek ooit weer ’n besigheid aan die gang kry, of as ek weer aan die hoof staan van ’n besigheid, dan gaan ek dit soos ’n man doen. Sonder genade.” Want hier het iets in haar hart gebeur wat gemaak het dat sy nou genoeg gehad het van leuens en misverstande. Sy sê sy was te sag gewees. So kykers kan “Koek op steroids” verwag. Dis net meer, groter, snaakser en baie hectic. Maar ek dink dis wonderlik. Ek en Cindy het vanoggend gepraat en ons is regtig trots op Koek. Dis so ’n goeie produk en ons is trots om deel te wees daarvan.
- Koek S2 het op Dinsdag 9 Junie met twee episodes afgeskop. Hierna word een nuwe episode weekliks vrygestel. Die reeks sal op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette beskikbaar wees. DStv Stream is gratis vir alle intekenare, maar ook beskibaar as ’n losstaande stroomdiens.

Foto: Sandra Prinslo (deur kykNET verskaf en met toestemming gepubliseer)

Foto: Sandra Prinslo (deur kykNET verskaf en met toestemming gepubliseer)

Foto: Sandra Prinslo (deur kykNET verskaf en met toestemming gepubliseer)
Lees ook:
Uitnodiging: Staan nader, huiskokke en onthoukokke – dis weer tyd om in te skryf vir Kokkedoor!

