Sandile Dikeni is dood: ’n Speellys vir ’n nxa! bra

  • 4

Sandile Dikeni (foto: YouTube)

Hei Sandile,

Onthou jy die goeie tye? Sien jy dit? Hoor jy dit?

Dis ná kantoorure in die Moederstad se middestad, circa 1997; dalk skyn die son nog, dalk is dit reeds skemer, dalk al donker. Dit hang mos maar van die seisoene af. Mense is op pad huis toe; dit toet in die strate en stamp op die sypaadjies. Ander ontmoet vriende en kollegas, handel besigheid met sakevennote af, koop blomme by die tieties neffens die Goue Akker.

Die land se politiek het onlangs aan demokrasie geboorte geskenk. Madiba is president; Mbeki en De Klerk, in daai volgorde, is adjunkpresidente. Die kabinet is saamgestel uit ’n verskeidenheid verteenwoordigers van politieke groeperinge.

Ons twee is joernaliste. Ons skryf oor politiek en oor die kunste: jy as redakteur van die bylaag "Top of the Times" by die Cape Times en ek as deel van die Media24-parlementêre verslagspan, maar ons paaie het reeds gekruis toe jy nog saam met Antjie Krog by Die Suid-Afrikaan was.

Oor die doodsdreigemente wat jy in dié tyd moes trotseer omdat jy na die Taalmonument as ’n “falliese simbool” verwys het, het ek vir Die Burger berig. Oor my aanstelling later jare as artikelredakteur van Insig het jy Ryan Fortune gestuur om ’n profielartikel oor my te doen; die opskrif – “The emergence of a young intellectual” – was vleiend, maar die treffendste deel was vir my hoedat Fortune aan die begin van die artikel ’n tipiese laatmiddagtoneel by een van ons destydse kuierplekke, Off Moroka, skets.

“It’s the laughter that gets you first,” skryf hy. En ek sien dit nou nog. Hier sit ons en vier ons nuwe land oor drankies, whiskey en Windhoek Lager en Black Label; ons praat oor die politiek, maar ook oor sport en kuns ─ én oor die liefde (liefhê en liefde maak) oor die kleurgrens en oor herkomste heen, hier by dié koffiewinkel in Adderleystraat, genoem na die oud-ANC-leier JS Moroka, waar bekendes (soos die kunsteman Mandla Langa) én berugtes (soos Wouter “Dr Death” Basson) hul name teen die muur kon skryf, met die kantore van die Waarheids-en-versoeningskommissie in dieselfde gebou geleë.

Hier leer ons ouens ken soos Zenzile Khoisan, terug uit ballingskap en ’n ondersoeker by die kommissie, waaroor hy in 2001 die boek Jakaranda Time: An Investigator’s View of South Africa’s Truth and Reconcilation Commission sou skryf. Jyself het vir SAUK-radio, saam met Krog, oor die WVK verslag gedoen. Ons kring maak ook plek vir die Zimbabwiër, Blackman Ngoro, ’n joernalis, en vir Jean-Noel Ntone, ’n Kameroense DJ en redakteur van Chimurenga. Hulle teenwoordigheid verdiep die intellektuele gesprekvoering.

En soos die aand vorder, verskuif ons ons kampie na Mannenberg’s Jazz Café langsaan. Wie óók nog kom aansit, hierdie kant, sluit lede van die nuwe politieke elite, onder wie Trevor Manuel, Alec Erwin en Tito Mboweni in. Ons luister na hulle ervarings; ons skud ons koppe en ons drink nog ’n dop teen die pyn van die verlede en die plesier van die hede.

Die pyn én die plesier word in die naam van die restaurant vergestalt, weliswaar verkeerd gespel as “Mannenberg”, net soos dit verkeerd gespel is in die ikoniese Abdullah Ibrahim-jazztreffer Mannenberg – Is where it’s happening oor die buurt, Manenberg, wat Ibrahim in 1974 opgeneem het toe hy nog as Dollar Brand bekend was; en by Mannenberg’s luister ons na ander musikante se weergawe van dié Kaapse jazz anthem en die rou saksofoon-solo van Basil “Mannenberg” Coetzee en Robbie Jansen se woorde: “Oh, Mannenberg. Julle kan ma’ New York toe gan. Os bly innie Mannenberg. Soe het’ie man gesê.”

Ibrahim was toe wel land-uit, maar die res van die band ─ Jansen en Coetzee op saksofoon, Monty Weber op tromme en Morris Goldberg op alto saksofoon ─ het agtergebly. Ook mrs. Gladys Williams, die auntie wat op die omslag van die album verskyn, met kinders in die agtergrond, ’n foto wat deur Ibrahim geneem is, het “innie Mannenberg” aanhou bly. Die skuif soontoe uit Distrik Ses, ingevolge die Groepsgebiedewet, was reeds té traumaties, was al klaar erg genoeg.

Distrik Ses: Miskien was Off Moroka en Mannenberg’s, oorkant die Groote Kerk (simbool van verdrukking) en die Slawelosie (simbool van die stad se slawe-skandvlek), die twee plekke in die stad wat ons in daai jare die naaste gebring het aan wat die Distrik vroeër jare was, ’n plek van samesyn, ’n plek waar die gees van kanala  en ubuntu en helpmekaar geseëvier het; ’n plek wat van ons land se beste musikale, fotografiese en letterkundige werke geïnspireer het: die Eon-groep, Johaar Mosaval, Alex la Guma, Bessie Head, Richard Rive, Adam Small, Cloete Breytenbach, Jansje Wissema en George Hallett.

Die seer van “die Ses” is hier by Mannenberg’s genees deur poësievoorlesings van digters soos boeta James Matthews en Peter Clarke en jyself ─

Way back home (uit Telegraph to the Sky, University of Natal Press, 2000)

One day,
someday,
should some Freedom be registered and final
Do not scoff, when I spit at the fruits of freedom
because maybe, my bongo
has the sound of a wail
and my voice, the anger of distance
and my movements
the estrangement of discontent
do not be angry

─ en deur die sangstem van Jansen wanneer hy met "Georgia on my Mind" lostrek en die klanke van sy "Sons of Table Mountain" met, onder andere, die onbesonge Hilton Schilder op klawers, meesterlik soos op "Khoisan Symphony"; en Spencer Mbadu op baskitaar; en Ezra Ngcukana op saksofoon; en die kitaarbroers Errol en Alvin Dyers wat hul ding afsonderlik en gesamentlik doen; en ander soos Allou April, ook op kitaar, soos Jimmy Dludlu en Buddy Wells op sy saksofoon; bra Hugh Masekela op sy trompet met sy stoomtrein-rillerlied "Stimela"; Winston Mankunku Ngozi se "Een [vredes]liedjie vir Saldanha"; en Sylvia Mduyelwa se treurliedjies "Ntyilo Ntyilo" en "Lakutshon' ilanga", oftewel “wanneer die son sak”.

  

Ah, Sandile! Sien jy, hoor jy ─ onthóú jy?

***

Moenie lag nie, bra, maar ’n wit man het my van jou dood vertel. Dit is ’n wit man wat jy van sou hou, wat jy dalk al ontmoet het of iewers van gehoor het. Jy’t mos ook lang trappe getrap in die spore van Afrikaanse kuns en kultuur, ’n draai gegooi by die KKNK, byvoorbeeld ─ en wat sou jy alles te vertel hê van jou inisiasie by DSA? Jou grootste gewaarwording oor Die Taal was dalk in hierdie aanhaling uit een van jou rubrieke opgesluit: “It is poetry that releases Afrikaans to another appreciation that will wash away the bloodstains of 1976 from the language.”

Ek gaan nie die wit ou se naam noem nie; hy sal nie daarvan hou nie en dis ook nie werklik belangrik wat sy naam is nie. Wat ek wel kan sê is dat wat Kosie Viviers van die Cape Times vir jou as ’n eerstejaarstudent in joernalistiek by Franklin Sonn se Pentech was, ons altwee se alma mater, was hierdie wit man vir my by Rapport: Afrikaans én progressief en ’n nxa! wit ou.

“Boeta Hein,” e-pos hy die dag nadat jy sterf. “Jy is die laaste mens met wie ek nog oor Sandile kon gesels het ...”

En ek moet eerlik wees, bra, ek kan werklik nie onthou wanneer laas ek en my mentor oor jou gepraat het nie. Of ek en enigiemand anders nie. Die laaste wat ek met jou te doen gehad het, was toe ek in 2011 in ’n staatsdepartement as kommunikasiedirekteur waargeneem het en die direkteur-generaal my wou dwing om vir jou ’n aanstelling te skep.

Dit was moeilike dae, want die DG se woord was wet, naas die minister s’n, natuurlik, en ek moes die papierwerk teen my sin en goeie wete voorberei, maar daar het toe uiteindelik niks van gekom nie; dalk ook goed so, want soveel as wat ek jou persoonlik as mens en joernalis geag het, was ons almal bewus daarvan dat jy erge breinskade opgedoen het toe jy in 2005 ’n ernstige motorongeluk, waarin jou medepassasiers gesterf het, oorleef het; dat jy, soos hulle sê, daarna “nooit weer dieselfde was nie”.

Teen Desember 2011 het my kontrak by die betrokke staatsdepartement geëindig, my ma het gesterf en jy was sedertdien nie weer op my radar nie.

En nou die onverwagse e-pos waarin my mentor ook skryf: “ingeval jy dié nog nie gesien het nie” en hy heg die skakel aan na Ruby Marks se huldeblyk op Daily Maverick waardeur die nuus van jou dood aan hom bekend geword het:

“Say his name: Sandile Dikeni,” skryf Marks, deesdae ’n ambassadeur en desjare een van die gereelde besoekers aan Mannenberg’s. En sy beskryf jou as volg: “Child of the Karoo. Beacon of the Oppressed. Poet of the People.”

Die wyse waarop sy aan jou hulde bring is op sigself poëties. Luister:

I woke up to the news that Sandile Dikeni, a poet and wordsmith who reflected the zeitgeist of our anti-apartheid struggle, who went on to write about our difficult transition into democracy while working for the Truth and Reconciliation Commission, and bore witness to all that remained and still has to be resolved, has passed through.”

Oh, what a life he had lived. This boy, born into a poor household in the dry and barren landscape of Victoria West in the Karoo, literally known as the ’place of thirst’ by our Khoi ancestors. And where the unforgiving landscape was shaped in its contours by race, poverty, exclusion. And with a personal history that must have seared his soul and burned deep scars into his psyche

Dit is hierdie lewenspad van jou, móét wees, wat jou die soort rubrieke laat skryf het waaraan ons ons kon verlustig in jou House of Truth-bydraes in die Cape Times, die naam van die rubriek geleen by Can Themba van die Drum-generasie wat sy eie woonplek so genoem het.

Jy het ons in dié rubrieke saam op reis geneem deur jou lewe, wat op Victoria-Wes in die Karoo begin het, soos wat Ruby Marks ons in haar huldeblyk herinner, en op jou wedervaringe plaaslik, soos skoolgaan in die Oos-Kaap, en besoeke aan en wedervaringe in ander lande, sy dit Duitsland, Indië, Nederland, Brasilië of Noorweë. Jy het veral ook gespreek tot die verharde harte van sowel die apartheidverdrukkers as jou kamerade wat jou ouma ge-necklace het. Dit is ’n gru-verhaal, wat jy op ’n onderblemtoonde wyse só treffend uitbeeld in die gedig "A long story":

My comrades and friends killed my granny
with fire ...
But before that, they sucked her breasts dry
... so that she could burn well

Dié gedig haal ek ook aan uit jou bundel Telegraph in the Sky, opgedra aan jou eksvrou, Bronia, en waarin jy op 29 Augustus 2000 voorin my eksemplaar geskryf het “Also for Heindrich Wyngaard” met hierdie boodskap daarby:

my brother,
let’s cross this borders,
but hold my hand
stay with me!!

Jy het deur jou skryfwerk vele grense oorgesteek, maar onderliggend aan al jou werk, skryf Krog in haar inleiding tot jou bundel rubrieke, Soul Fire – Writing the Transition (UNP, 2002), “is a progressive perspective of what it is to be human in South Africa and what kind of society he years for”. Dit verklaar waarom jy dit deel van jou skrywerstaak gemaak het om die menswaardigheid te herstel van karakters uit jou grootwordwêreld, waarom jy hulle deurentyd aan die hand gevat het, soos vir jou vriend Biza, verslete weens armoede en verteer deur tuberkulose (TB), die siekte wat so baie van ons mense, veral die armes, en ook nabye familielede se hand van joune weggeruk het – en wat jóú (hayi man, Sandile!) einde ten laas van ons ontneem het.

Die son het nou vir jou gesak; dit het ondergegaan, soos wat mam’ Sylvia in "Lakutshon' ilanga" sing. En al wat oorbly is die herinneringe aan goeie tye. Sien jy? Onthou jy, Sandile? Stem jy saam dat Abdullah Ibrahim net sowel sy liedjie "Knysna Blue" ook vir ons, die Mannenberg Jazz Café-generasie van woord en klank, kon geskryf het. Hoor net.

Ah, Sandile, my ma se kind!

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Gavin Given Pieterse

    Dankie Sandile "Pirrie" Dikeni vir die groot kontribusie wat jy gemaak het om Suid Afrika en Victoria West tot bevryding te bring. Die stryd was hard en dodelik met geen genade van hulle wat jou/ons verdruk het nie en hulle wat die ewil van apartheid befonds en ondersteun het nie. Vandag geniet en besing hulle jou, sommige hou hulle voor as jou leiers en jou vyande is nou jou vriende, kan jy glo! Dankie vir als, skryf en dig voort wanneer jy ons voorvaders en voormoeders inlig oor hoe ver ons gekom het met ons revolusie, bid en pliet vir ons daar en voor die Almagtige.

    Ons sal jou bydrae en nalatenskap altyd onthou, koester en uitbou tot in alle ewigheid. Lief jou Gavin Given Pieterse

  • Avatar
    Ricardo Akhona Peterse

    Ek will net weereens baie, baie dankie se aan almal wat hulde gebring het aan Sandile. Aan my ma se broer, uncle Gavin Given Pieterse wat met Sandile groot word in Victoria West my baie en aan Heindrich en Ruby dankie almal

    Groete van Ricardo wyle Sandile se neef en grootste fan uit die familie en Victoria West.

  • Wat 'n roerende huldeblyk. So baie herinneringe wat nou opduik. Dankie Heindrich, jou pen troos. Rus in vrede Sandile.

  • Dankie antie Diana Ferrus dus roerend en beteken so soms wens ek Sandile kon toe sien wie da vir hom was tot sy bitter einde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top