Salutatio Terrae VII – ’n mening

  • 2

Salutatio Terrae VII
Chris Harbinger

Naledi
ISBN: 9781928426257

Boeke kom soms op vreemde maniere onder ’n mens se aandag. Dit is die geval met Salutatio Terrae VII. Webwerwe en LitNet is ’n vindwerf van talle opwindende boeke. Die boek op Naledi se webwerf het my nuuskierigheid geprikkel. Die skrywer se naam lui geen herinneringsklokkie by my nie. Ek weet nie wie Chris Harbinger is nie. Dit is vir my van meet af duidelik dat dit nie oor die boodskapper gaan nie, maar oor die boodskap.

Die boek bevat verbysterende insigte oor die mens, die aarde, planete, verlede, hede, toekoms, fisika, sterrekunde, kosmologie, filosofie, teologie, godsdienswetenskap en poësie, om net ’n paar fokuspunte te noem. Die titel is vir my boeiend. Dit gee die boodskap weer. Dit is in Latyn. Naas Grieks was Latyn die invloedrykste taal in die tyd voor en na Christus se koms. Latyn het ons met onder andere Vergilius se Aeneïs en Georgia laat kennis maak. Die Latynse woord salutatio is ’n plegtige groet aan die aarde. “Salutatio” is egter ook ’n afskeidswoord aan die aarde en aardelinge is (Stelling V).

Dat dit om die boodskap gaan, word bevestig deur die onderskrif. “Hermes.” Hermes was in die Griekse mitologie die god van reisigers en paaie, koopmanne en handel. In een sin: alles waarby behendigheid en lis te pas kom. Die seun van Zeus en Maia was die bode van die gode. Hy was ook beskou as die skenker van welsprekendheid en oorredingskrag. En nog veel meer: die uitvinder van skrif, die wiskunde, die lier, die fluit, mate en gewigte en nog veel meer.

Teen hierdie agtergrond is dit vir my duidelik dat Hermes ’n boodskap vir die aarde het wat ernstig opgeneem moet word. Hierdie boodskap word deur vyf stellings afgelewer.

Hermes tree as die verteenwoordiger van die Homo astralis met boodskappe aan die aardlinge, Homo sapiens, op. Hermes maak daarop aanspraak dat hy ’n grondige insig in die wese en bestaan van die kosmos en die bedoeling daarmee het. Aardelinge se beskawing, so lees ons, is een van die talle planetêre beskawings in verskillende vorme van ontwikkeling. Hermes deel die leser mee dat die Homo astralis oor die 4,7 miljard jaar bygedra het tot die aarde as planeet.

Dit is duidelik dat Hermes ’n natuurwetenskaplike van buitengewone insigte is. Hy maak die leser ook daarvan bewus dat die natuurwetenskaplikes deur empiriese bevindinge beperk word. Vir hulle lei insig, logika, skoonheid en eenvoud tot fundamentele waarhede. Maar dalk is fundamentele waarhede meer as dit.

Hermes laat dit aan die Oergrond, die Een, die Gees oor om in die kosmos te inkarneer en uiteindelik ’n harmonieuse werklikheid te skep. Hermes put uit Plato en digters soos Heinrich Heine om kosmiese sinkronisiteit toe te lig. Hierdie boeiende deel moet elke leser self gaan lees en interpreteer. Wat soos ’n paal bo water staan, is dat agape, liefde, die grootste van alles en vir almal is. Die opmerkinge oor die ingeskape godsdienstigheid is in die teologie nie nuut nie. Nogtans is Hermes se siening hiervan diep nadenke werd. Die Homo astralis gee betekenis aan, en aktiveer die werklikheid van, die antropiese heelal.

As agente van die Aeon moet die Homo astralis die oorvloed en kompleksiteit van lewe, fisieke en geestelike ervaring in die heelal aktiveer. Hermes verwys hier onder andere na die fisikus Fred Hoyle se vermoede dat nuwe genetiese materiaal (pan spermia) besig is om die aarde te bereik. Francis Crick was volgens Hermes verantwoordelik vir die vermoede dat ’n hoër samelewing verantwoordelik was vir die inisiëring van lewe op die aarde. Hermes berig oor die suksesse, veral op die Afrika-vasteland, ten opsigte van ontwikkeling en groei. Die talle voorbeelde wat hier genoem word, is merkwaardig. Egipte is met sy mitologies-gebaseerde opvatting van “gode” ’n klinkende voorbeeld. Die invloed van Osiris en Isis, die wetgewende gode, word verreken. Die hiërogliewe dien as optekening van die groei van die Egiptiese beskawing. Daar word selfs na Gilgamesj, wat die vroeëre Sumeriese beskawing bestuur het, verwys. Verskillende beskawings wat gedy het, kom aan bod. Die mites in die Ou Testament rondom die seuns van god en die dogters van die mens word beskryf as ’n krag om unieke manifestasies van beskawings op die planeet Aarde te beskryf. In die Griekse samelewing was die gode konkreet en alte menslik (vgl die Ilias en Odusseia). Hermes het, so sê hy self, ’n plek in die Griekse panteon gekry.

Die toeligting (verligting) oor die rol van Alexander die Grote is fassinerend. Dit geld ook van die Romeinse republiek. Die berigte oor Sara, Josef en Moses (en die brandende braambos) is, om die minste te sê, boeiende leesstof. Hier word die rol van “agente” van die Aeon bekendgestel. Die Jode word as draers van ’n kosmiese waarheid voorgestel. Dit is ’n poging om transendente beelde (ek verkies die term poreuse werklikheid om die immanente en transendente toe te lig) in die soeke na singewing te beskryf. Hermes berig selfs van Plato se konsep van die “onsterflike siel”. Hieroor moet daar nog diep nagedink word.

Hermes skuif die gordyn ’n bietjie oop. Hy verduidelik moeilik peilbare begrippe: die materiële wêreld van wording; die tydbevange interaksies tussen die materiële met die Domein van Syn; sekere individue (Mozart, Händel, Shakespeare, Munch, Da Vinci, Newton, Hoyle, Hildegard von Bingen, Jung en andere) se ervaring van die Domein van Syn. Hermes lig selfs die begrip reïnkarnasie toe. Gaan lees dit self!

In ’n ideale bestaan, naas logika, skoonheid, waarheid en kennis (Plato), is dit ook die oogmerk om die Hoogste Harmoniese Werklikheid met interpersoonlike emosionele harmonie te deurdring. Aan die mens is daar ’n morele verantwoordelikheid geskenk. Die oorsprong hiervan is die mite van goed en kwaad in die paradys. Vooruitgang word aangespoor deur “Wille zur Macht” (Nietzsche). Die Pax Romana is nie sonder bloedvergieting te bedink nie. Net so word die mensdom deur heersers van boosheid geteister (Lenin, Hitler, Mao Zedong en nog meer). Jesus het egter nie betrokke geraak in die evolusionêre stryd om mag nie. Daarom het hy ’n lewe vry van “oorspronklike sonde” gelei. Sy kruisdood was ’n ervaring van die brutale werklikheid van die materiële wêreld. Sy laaste woord, tetelestai, dui op die geheel wat voltooi is. Daar word ook insiggewend oor Jesus se opstanding geskryf. Die berig oor die Romeinse Ryk en die rol van Konstantyn is vernuwend. Hiervan is die Edik van Milaan in 313 ’n hoogtepunt.

Die slotberig ontsluit ’n donker vooruitsig. Die planeet Aarde het sy grense bereik. Water en kos is vir talle mense byna onbekombaar. Waterbesoedeling is afgryslik. Die ekonomiese leefstyl lei tot beskadiging van lande, oseane en lug. Selfbelang is ysingwekkend. Reeds ’n eeu gelede het Yeats gedig: “Things fall apart; the centre cannot hold;/ Mere anarchy is loosed upon the world …”

Hoe waar is dit tog nie!

Hermes se boodskap bevat tog ’n sprankie hoop. Al is die einde van die materiële wêreld naby, sal die mense se gene en kultuur op ’n ander plek in die kosmos voortleef. Maar waar?

Lees self!

My mening oor Salutatio Terrae VII is dat dit ’n manjifieke werk is. Dit lei tot diep en vernuwende nadenke oor filosofie, godsdiens en wetenskap. En oor menswees in ’n tyd soos hierdie.

  • 2

Kommentaar

  • A catching name, Chris Harbinger ...
    Salutatio Terrae VII provides a unique and thought provoking insight about who we could be, where we come from, the role of flooding possibly across the universe and further afield ... think Noah and the Ark, the City of Atlantis, and more.
    What a context-rich weaving together of so many bits and pieces of our communal (“human”) knowledge, myths, histories, world views, religions, science and faith.
    And then suddenly the terrifying, exciting reality in the last statement ...
    Highly recommended reading. Only a handful of hours required. And when you are through, sit down and think ... about what you have just read.

  • And so the pieces of our puzzle of humankind fall in place! Where may we read the comments by others?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top