
Foto van Salman Rushdie met toestemming van PEN gebruik
............
Salman Rushdie, die bekende en bekroonde Brits-Indiese skrywer, is Vrydag in New York-staat aangeval net voordat hy ’n lesing sou lewer oor die belangrikheid daarvan dat skrywers wat weens politieke en/of ander vervolging bannelinge is, veilige vesting behoort te ontvang, en die belangrike rol wat die VSA in dié verband speel.
.............
Salman Rushdie, die bekende en bekroonde Brits-Indiese skrywer, is Vrydag in New York-staat aangeval net voordat hy ’n lesing sou lewer oor die belangrikheid daarvan dat skrywers wat weens politieke en/of ander vervolging bannelinge is, veilige vesting behoort te ontvang, en die belangrike rol wat die VSA in dié verband speel.
Hy self is sedert 1989 onder ’n fatwa wat deur die destydse Ajatollah Khomeini uitgereik is in reaksie op sy 1988-boek The Satanic Verse. Die bepalings: disrespek teenoor die Moslem-geloof, wat die Ajatollah as strafbaar met die dood beskou het. Enigeen wat die vonnis voltrek, sou $3 miljoen ontvang. Die Ajatollah is lankal oorlede, maar die fatwa bly staan tot dit voltrek word. In 2012 het ’n kwasigodsdienstige organisasie ’n ekstra $500 000 bygevoeg.
Rushdie is onder polisiebeskerming geplaas. Sy vertalers was minder gelukkig. Sy Japannese vertaler is aangeval en vermoor. Sy Noorweegse en Italiaanse vertalers het darem hulle aanvalle oorleef. Internasionale betrekkinge tussen Brittanje en Iran het nooit regtig herstel nie. Die boek is verban in groot dele van die Moslem-wêreld, en het ’n topverkoper in die Weste geword.
...........
Rushdie is onder polisiebeskerming geplaas. Sy vertalers was minder gelukkig. Sy Japannese vertaler is aangeval en vermoor. Sy Noorweegse en Italiaanse vertalers het darem hulle aanvalle oorleef. Internasionale betrekkinge tussen Brittanje en Iran het nooit regtig herstel nie. Die boek is verban in groot dele van die Moslem-wêreld, en het ’n topverkoper in die Weste geword.
............
Tussen 1989 en 2022 het daar aansienlik baie water in die see geloop, en Rushdie het selfs so ver gegaan as om te sê dat sy lewe normaal begin word. Hy het veilig gevoel. Tot Vrydag 12 Augustus 2022. Aanvanklike berigte was net dat hy aangeval was, dat hy moontlik sy oog kan verloor, en dat hy operasies ondergaan.
Die aanname, wat wyd gepubliseer is, was dadelik dat die aanval eintlik ’n aanval op vryheid van spraak is. Dit ten spyte van die feit dat iemand in hegtenis geneem is en die owerhede dit duidelik gemaak het dat hulle nie weet wat die aanvaller se motief was nie.
Latere, meer gedetailleerde berigte oor Rushdie se toestand dui daarop dat die skrywer tien maal met ’n mes gesteek was, in die gesig, abdomen en arm. Senuwees in sy vingers en oog is afgesny. Die inligting is als voor die hof gelê toe die beskuldigde aanvaller aansoek gedoen het vir borgtog, met behulp van ’n openbare verdediger. Borgtog is tot niemand se verbasing nie geweier.
Die eerste inligting wat oor die aanvaller bekendgemaak is, is dat hy radikale Islamitiese organisasies ondersteun. Nog meer aanduiding dat die aanval polities gemotiveer was, reg? Maar was dit? Die polisie kon nog nie enige bewyse vind wat formele bande aandui nie. Hy’s nie betaal om Rushdie aan te val nie, want dan sou hy regsverteenwoordiging kon bekostig wat nie deur die hof aan hom toegeken was nie. En die bewyse van ondersteuning is dat hy op sosiale media goedkeurend van die organisasie gepraat het. Dit maak my ongemaklik.
Ek het al by geleentheid met goedkeuring verwys na uitsprake wat Julius Malema gemaak het. Beteken dit ek ondersteun hom? Nie in die minste nie. Oor my dooie liggaam stem ek vir hom, sluit ek by sy party aan of skenk ek geld.
My ongemak spruit voort uit die tendens van die media om sonder meer aanvalle deur bruin en swart, Midde-Oosterse of Moslem-oortreders te beskryf as gevolge van radikalisering, terwyl soortgelyke optrede deur wit oortreders dadelik afgemaak word as die optrede van sg “lone wolves”. En dan word daar vinnig bewyse van radikalisering gevind.
..............
My ongemak spruit voort uit die tendens van die media om sonder meer aanvalle deur bruin en swart, Midde-Oosterse of Moslem-oortreders te beskryf as gevolge van radikalisering, terwyl soortgelyke optrede deur wit oortreders dadelik afgemaak word as die optrede van sg “lone wolves”. En dan word daar vinnig bewyse van radikalisering gevind.
.............
In hierdie geval is die oortreder ’n Amerikaanse burger, maar sy ouers kom van Libanon. Hy self is in Amerika gebore. In die dorpie waar sy ouers vandaan kom, is daar Vrydag Hezbollah-vlae gesien. Of daar reeds twee dekades gelede, toe sy ouers nog daar gewoon het, sterk ondersteuning vir Hezbollah was, vra niemand nie. En as daar was, hoe weet enigeen sy ouers het nie gevlug om onder ’n oppressiewe regime uit te kom nie? Boonop is daar nie bewyse dat hy self ooit die dorp besoek het nie. Die inwoners onthou sy ouers, maar ken hom skynbaar nie.
Verder is die aanvaller 24 jaar oud. Hy is gebore ’n dekade na die fatwa uitgereik was.
My ongemak is dit: Almal is so haastig om inbreuk op vryheid van spraak en kreatiewe uitdrukking te beweer. Hoe weet ons dat dit regtig is wat hier aangaan, en nie eerder ’n geval van rasseprofilering nie? Is die onuitgesproke denkie nie dit nie: Aanvaller is Moslem, en ons almal weet mos Moslems blaas goed op en is fanaties.
Daar is nog hopeloos te min inligting beskikbaar om tot die gevolgtrekking te kom dat die jongman die fatwa probeer uitvoer het. Goeiste, daar is oorgenoeg ander redes hoekom een persoon iemand anders probeer vermoor.
Dalk kom daar binne die volgende ruk inligting aan die lig wat bewys dat die vroeë aannames korrek was. Maar totdat daai bewyse gelewer is, verklaar ek my ongemak met die outomatiese aanname dat Moslem gelyk is aan geradikaliseerd gelyk is aan fanaties.
.............
Wat met Salman Rushdie gebeur het, is tragies en kan nooit goedgepraat word nie. Maar ek bekommer my oor elke onskuldige Amerikaanse Moslem wat nou in vrees moet lewe omdat een of ander gek gaan besluit om enige Moslem in weerwraak aan te val. Die herinnering aan aanvalle op Asiaties-Amerikaners in reaksie op Covid is nog te vars.
.............
Wat met Salman Rushdie gebeur het, is tragies en kan nooit goedgepraat word nie. Maar ek bekommer my oor elke onskuldige Amerikaanse Moslem wat nou in vrees moet lewe omdat een of ander gek gaan besluit om enige Moslem in weerwraak aan te val. Die herinnering aan aanvalle op Asiaties-Amerikaners in reaksie op Covid is nog te vars.
Niemand kan weer rasgebaseerde aanvalle aanwakker met onverantwoordelike beriggewing nie.
Lees ook:
Press release: PEN International condemns attack on Salman Rushdie


Kommentaar
Wat Wyngaard ons probeer wysmaak is die volgende: as The Satanic Verses oor byvoorbeeld die Christendom gehandel het, sou dieselfde persoon die skrywer aangeval het. Verwag sy dat ons haar moet glo?
Absoluut Leon. 'n Fatwa is uitgevaardig en miljoene ekstremistiese Moslems wil steeds die wonderlike skrywer Salman Rushdie doodmaak. Hulle is so gebreinspoel en ja, dan kos dit 'n lone wolf wat dit op sy edele skouers neem om uit te voer.
Daar bestaan egter gematigde Moslems, soos inderdaad in Suid-Afrika. Ek weet nie wat hulle opinie oor die Fatwa is nie. In dieselfde asem het ek al Christene sien skryf dat hulle saamstem met die Fatwa.
But god is good.
Ek stem 100 % saam met Bettina se siening en skrywe (En ek is wit en 'n Christen). Dalk moet ons almal meer verdraagsaam wees teenoor ander kulture en gelowe. As ons dan so vas glo in wat en in Wie ons glo (en aanbid), dan hoef ons mos nie so bedreig te voel deur ander gelowe nie?
Mich, so jy reken die aanvaller sou Rushdie steeds probeer vermoor het, selfs as die Satanic Verses oor iets anders gehandel het? Vryheid van spraak beteken dat mens die reg het om goed kwyt te raak wat ander affronteer en omgekeerd. Dis iets wat gelowige fundamentalisten van alle soort nie wil verstaan nie.
Lees gerus hier.
Leon, hoe sal ons nou weet waartoe mense in staat is?
Daar skuil egter nie ’n kindermolesteerder in elke Katolieke priester nie. Daar skuil nie ’n terroris in elke Moslem nie. Daar skuil nie ’n uitbuiter of mensehandelaar in elke pastoor nie. Kom ons wees almal bietjie meer verdraagsaam.
Ek dink net ons moet mekaar se gelowe nie aanval nie, en definitief nie God en profete belaster nie. Onthou jy so paar jaar terug hoe ontsteld Christene was toe daar beweer is dat Jesus ’n verhouding met Maria gehad het? Moenie ander gelowe kwalik neem as hulle ontsteld raak oor sulke of soortgelyke uitsprake oor hul Profeet nie. Ek praat definitief nie nou hier van die radikales nie; dit kry mens in elke geloof.
Mich, ek veralgemeen nie, maar wanneer enige fanatikus geweld pleeg omdat hy/sy geaffronteer voel, is dit onaanvaarbaar. Om jou bek te hou uit vrees vir belediging is sensuur – en wat meer is, dis selfsensuur. Dit plaas ’n fatwa op vryheid van spraak. As iemand se god so klein is dat sy/haar/hulle/dit se volgelinge moet moor om gewaande beledigings te wreek, dan is daai god in elk geval geen aanbidding werd nie.
En ja, ek onthou die Christene se opskudding waarna jy verwys. Hoeveel mense is nou weer deur daai Christene vermoor? Verfris asseblief my geheue?
Ek is dit met jou eens oor fanatici in enige geloof. Die ding is, daar is meer van hulle as wat jy besef, en wat jy ook nie besef nie, is dat optrede soos joune hul dade soort van stilswyend laat verbyglip, want sien, hulle is dan so veronreg.