SA-illustreerders: Elanie Bieldt

  • 3

Naam
: Elanie Bieldt

Twee skrikkels, deur Elanie Bieldt

 

Wat is jou "day job"?

Ek is ’n graad 6-leerder aan Laerskool Monte Vista, Kaapstad.

 

Is jou werk al gepubliseer?

2011

* Illustrasie vir kinder-CD-omslag, Jakkals en Wolf CD 1 + CD 2, gepubliseer deur Anna Emm Productions.
* Illustrasie vir kinder-CD-omslag, Doefdaf die donkie, gepubliseer deur Anna Emm Productions.

2012
* Illustrasies vir twee kinderboeke, Vanaand as ek slaap gaan ek vlieg oor die see en Vanaand as ek slaap gaan ek speel op die maan, gepubliseer deur Anna Emm Productions.
* Twintig illustrasies vir ‘n opvoedkundige stel leeskaarte vir die grondslagfase, genaamd ZOEM, gepubliseer deur Anna Emm Productions.
* Illustrasies vir kinder-CD-omslag, Speurder Morris Muis CD 1 + CD 2, gepubliseer deur Anna Emm Productions.

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Ek word groot omring deur kunstenaars. My ma is ’n skrywer, my stiefpa doen animasie en komponeer musiek, en my ouma is ’n vertaler en proefleser van storieboeke vir uitgewers. Ek teken al van ek kan onthou. Die “gogga” is seker maar in my gene!

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Ek hou van sketse – potlood, pen, ink. Ek hou van die besonderhede wat ek in sketswerk kan insit. Ek het al met akriel en pastelle gewerk, maar dit voel vir my asof ek met potlood en pen net soveel “nader” aan die illustrasie is as met verf.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Ek hou van karakters – veral mense – skets, waarin ek gesigsuitdrukkings en lyftaal kan uitbeeld. Daarom is die kinderstories vir my so lekker om te illustreer. Die illustrasies vertel die deel van die storie wat die woorde nie vertel nie.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Ek lees graag die Goosebumps-boeke deur RL Stine, of enigiets spokerigs of lekker spannend! Seker nie so ’n goeie ding laat in die nag nie ...


Illustrasie
: Izak Volgraaff

Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek neem kunsklas by illustreerder Izak Vollgraaff in Edgemead. Hy help my baie, maar laat my toe om my eie styl te ontwikkel.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Ek werk baie lekker saam met my ma, Anna Emm, want ons dink baie dieselfde. Sy laat my baie vryheid toe om my “prentjies” van haar stories te maak en op papier neer te sit. Maar ek sou ook lekker saam met Roald Dahl en CS Lewis gewerk het.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?
 
Wanneer Phantom of the Opera in boekvorm uitgegee word, wil ek asseblief die illustrasies doen! Dis my gunsteling-storie op die oomblik.

Is daar een illustrasie/illustrasieprojek uit jou loopbaan wat uitstaan as absolute gunsteling?
 
Die reeks storieboekies waarmee ek nou besig is, Afrikaanse Kinderstories, Volume 1-8, is my gunsteling sover. Dis ’n reeks kinderstories op CD opgeneem met ’n A4-boek met volkleurillustrasies by.  Die eerste drie uitgawes word in Junie vrygestel deur Anna Emm Productions.

Keer terug na die SA-illustreerders indeksblad.

 

  • 3

Kommentaar

  • Tharien Claassen

    Ek is n groentjie, maar is besig met n kinderstorietjie en is opsoek na n illustreerder en publiseerder as hy gekeur word vir my karaktertjies. Elanie jou manier lyk presies soos wat ek in gedagte het. Hoe gaan ek te werk? Kan julle my tot hulp wees asseblief?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top