Rush: ’n Stewige drama

  • 0

Rush

Regisseur: Ron Howard

Spelers: Daniel Brühl, Chris Hemsworth, Olivia Wilde, Christian McKay


 

By verlede jaar se Silwerskermfees was ek deel van ’n paneelbespreking oor resensies en resensente. ’n Bekende in die Afrikaanse vermaakbedryf het ons onomwonde laat verstaan dat die resensies wat ons skryf geen nut het nie, want niemand lees dit nie. Wel, ek lees resensies, en as dit nie vir ’n mederesensent se aanbeveling was nie, sou ek hierdie puik fliek misgeloop het, want ek stel nie in die minste belang in motors of motorsport nie.

In die 1970’s het twee jong renjaers, James Hunt (Chris Hemsworth) en Niki Lauda (Daniel Brühl), van Formule 3 opgeskuif na Formule 1. Twee mense in dieselfde beroep kan nie meer van mekaar verskil nie. Hunt is ’n impulsiewe, onverskrokke, warmbloedige Britse pierewaaier en rokjagter. Lauda is ’n teruggetrokke, koue, presiese Oostenryker wat sy risiko vir elke wedren presies bepaal. Dit raak ’n stryd tussen dié twee om die Formule 1-kampioen te word, en in die 1976-seisoen het dit amper noodlottige gevolge.

Rush is glad nie die blote niaaouw-niaaouw-lawaai van renmotors wat om en om ’n baan jaag nie – daarvan sien jy net genoeg om die loop van die storie te volg. Dis ’n stewige drama en ’n behoorlike karakterstudie van twee mense wat die toppunt bereik het en hul onderskeie pryse daarvoor betaal het. Hemsworth se rol pas hom soos ’n handskoen, maar soos altyd is dit Brühl wat die meeste beïndruk.

Hierdie fliek word hoog aanbeveel!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top