Rus in vrede, Pine Pienaar

  • 1

Pine Pienaar (55), voormalige DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, wat onlangs na ’n lang stryd teen kanker oorlede is, was in vele opsigte ’n beter mens as die konvensionele politikus. Hy was te goed om ’n politikus te wees. Hy het ’n totaal nuwe dimensie aan politieke handeling gegee. Pine was in hart en nier ’n gemeenskapsmens.

Gemeenskapdiens is die mees edele vorm van diens aan die mens. Dit staan los van die bevordering van enige politieke ideologie – of so behoort dit te wees. Dit is ’n welkome maatskaplike oriëntasie, veral in Suid-Afrika, ’n land van kroniese armoede.

Die nou amper vervelige mensehandeling is om net goeie dinge – selfs leuens om dit te illustreer – van iemand wat dood is, op te haal. Dié alledaagse gewoonte doen eintlik afbreuk wanneer daar met eerbaarheid hulde gebring word aan ’n lewe wat in diens van menslikheid, geregtigheid en nederigheid gestaan het. Pine het so ‘n lewe geleef.

Die eerste keer toe ek met Pine te doen gekry het, was as raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro. Ek was in die joernalistiek wat oor die politiek verslag gedoen het.

Hy het ’n onwrikbare belangstelling in my (linkse) denke oor maatskapplike en politieke kwessies – soos dit in my meningstukke en rubrieke neerslag gevind het – getoon. Soms was my menings snydend teenoor Afrikaners omdat hulle bruin mense in die vorige bedeling as taalgenote weggestoot het.

Pine het begrip getoon en my ’n ander dimensie van Afrikanerskap gegee. Hy het die konsep van nierassigheid in sy totaliteit beliggaam. Sodoende het hy in vele opsigte impetus verleen aan die titel Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen se boek.

By hom het ek ’n anderste politikus met ’n maatskaplike ingesteldheid bespeur. Hy het nie in diens van enige ideologie gestaan nie. Pine het altyd vir my gesê menslikheid is vir hom groter as die nastreef van enige politieke ideologie.

Om en by 2005 was hy lid van die Oos-Kaapse wetgewer se staande komitee van openbare werke. Ek was ministeriële woordvoerder, toespraakskrywer en parlementêre skakelbeampte. Tydens komiteevergaderings het hy as lid van die opposisie nooit net geopponeer nie, maar ook konstruktiewe bydraes gemaak. Reeds daarom was daar tot sy dood ’n wedersydse respek tussen hom en die destydse provinsiale minister van openbare werke gewees.

Pine het die kuns van alle moontlikhede soos enige politikus beproef, maar was nooit naïef nie. Hy het goed geweet sy sukses as politikus lê opgesluit in die smee van vriendskappe oor politieke, rasse- en etniese grense heen.

Sy mens-siening – antropologie – sal my altyd bybly. Ook sy etiek van omgee met ’n klem op hoop as metafoor vir genade, omgee en geregtigheid.

Pine was ’n mens van direkte eenvoud, eerlikheid, toegewydheid en hardwerkendheid. Mag die aarde saggies op hom rus.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top