Rupert Museum: Ope uitnodiging aan die publiek

  • 0

Die Rupert Museum nooi kunstenaars en skeppendes van enige kreatiewe bedryf, platform en beroep uit om oorspronklike kuns te skep. Meer spesifiek: kunswerke met een van die museum se uitstallings wat as inspirasie dien. 

Eliz-Marié Schoonbee

Menán van Heerden gesels met Eliz-Marié Schoonbee, kurator van die Rupert Museum in Stellenbosch, om meer uit te vind oor die museum se jongste ope uitnodiging.

Dankie dat jy met ons gesels, Eliz-Marié! Wat is die inspirasie agter die Rupert Museum se ope uitnodigings?

In 2019 het die museum sy eerste ope uitnodiging aan die publiek bekendgestel. Ek is opgewonde om te deel dat hierdie die derde instelling is vanjaar. Vir elk van die uitnodigings kies ons óf n kunswerk óf ’n tema vanuit die museum versameling. Die tema word dan uitgebeeld met ’n seleksie van werke wat as inspirasie dien vir enige kreatiewe persoon om op te reageer. Hierdie is die museum se bydrae om ’n platform te skep vir bekende, nuwe en opkomende kunstenaars om hul werk aan die mark bekend te stel. Dit bied ook ’n geleentheid vir herinterpretasie en nuwe dialoë om te vorm met bestaande kunswerke in die versameling.

Die uitstalling wat as inspirasie dien, naamlik AbstRacT – the hidden synchrony, is deel van die versamelings van die Huberte Goote Kunsstigting en die Rupert Kunsstigting. Waarom is hierdie uitstalling gekies en wat is die fokus daarvan?

Hierdie uitstalling het bymekaar gekom na aanleiding van die fotografiese werke van die Sweedse fotograaf Oscar Forel. In die fotoreeks Synchromies het Forel boombas van regoor die wêreld afgeneem, so na as moontlik, partymaal ook vergroot, om die natuurlike en organiese vorme en kleure te beklemtoon wat in die natuur gevind kan word. Op sigself word hierdie foto's abstrakte kunswerke waarin ons bekende vorme en partymaal assosiasies met bekende kunswerke kan sien. Dink byvoorbeeld aan Starry night van Vincent van Gogh of Nude descending a staircase van Marcel Duchamp. Die Rupert Kunsstigting-versameling is ryk aan 20ste-eeuse moderne kuns, en hieruit kon ’n fantastiese seleksie van Abstrakte skilderye gemaak word om saam met die foto's te groepeer. Daarop is twee kontemporêre kunstenaars, Strijdom van der Merwe en Karla Nixon, genooi om die responsdialoog te begin. Die fokus en tema is wyd en dit bied regtig die geleentheid vir dié wat ’n respons wil skep om die wondere wat die natuur, kosmos, of bloot net wat abstraksie bied, te verken.   

In watter medium moet die kunswerke wees?

Die keuse van medium is oop vir die kunstenaar; dit kan selfs gemengde media wees. Al wat wel in gedagte gehou moet word, is die riglyne vir grootte en gewig afhangend van die medium. (Die riglyne word uiteengesit op die webblad https://rupertmuseum.org/exhibition/upcoming-open-call-to-the-public.) 

Word veelvuldige inskrywings toegelaat?

Daar is geen beperking op die aantal inskrywings nie. Elke inskrywing moet net vergesel word van sy eie inskrywingsvorm en beskrywing.

Die uitnodiging is wel net oop vir 18 jaar en ouer. 

Enige advies aan onbekende, opkomende kunstenaars? Hoe om hul indiening voor te berei?

Die inskrywings (asook seleksieproses) is elektronies, so hoe beter en van hoër gehalte die foto of foto’s wat verskaf word, hoe beter die indruk by die beoordelaars. ’n Opsomming/beskrywing van die werk (tot 300 woorde) moet ook ingedien word. Meer inligting, asook ’n verwysingsdokument met foto’s van die uitgestalde kunswerke is beskikbaar op www.rupertmuseum.org wat gebruik kan word vir inspirasie, veral vir diegene wat nie die uitstalling in Graaff-Reinet kan besigtig nie.   

Hoe dien mens in?

Al die riglyne en vereistes word voorsien op die webblad. Laai die inskrywingsvorm af – dié moet ingevul word en vergesel word van hoëgehaltefoto’s of klankgrepe van die werk, asook die beskrywing. Stuur al die dokumente aan opencall@rupertmuseum.org (neem in ag dat die foto's groot sal wees, so maak gebruik van WeTransfer, Google Drive of Dropbox). 

Wat is die sluitingsdatum vir indiening?

Vrydag 3 Januarie 2025.

Gekeurde werke sal van Februarie tot September 2025 by die Jan Rupert Kunssentrum in Graaff-Reinet uitgestal word en te koop wees. Hierdie kunssentrum vertoon tydelike kunsuitstallings via die Rupert Kunsstigting. Na watter uitstallings kan kunsgangers nog uitsien vanjaar? 

Die ope-uitnodiging-uitstalling AbstRacT – the hidden synchrony is die enigste uitstalling tot Januarie 2025 by die Jan Rupert Kunssentrum. Indien kunsgangers hulle in Graaff-Reinet bevind, kan hulle gerus ’n besoek aan die Hester Rupert Kunsmuseum bring – hier word oor die 120 kunswerke in die vyfde oudste kerkgebou in Suid-Afrika vertoon. Dit is ’n besonderse seleksie van kunswerke deur 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse kunstenaars – daar is selfs ’n paar abstrakte skilderye wat ook as inspirasie kan dien. 

Where you are (2024) deur Karla Nixon (geb 1990) en A study in curvature (2023) deur Strijdom van der Merwe (geb 1961) (Jan Rupert Kunssentrum) (Foto verskaf deur die Rupert Museum)

Wat is, na jou mening, die interessantste tendense in die Suid-Afrikaanse kunswêreld tans?

Meer en meer kunstenaars verken die moontlikhede van tegnologie, en die vermenging daarvan met tradisionele mediums. Daar is ook altyd die beweging onder kunstenaars (nie net in Suid-Afrika nie) om hul gekose medium tot op sy uiterste te druk en die potensiaal daarvan te ontgin – dit maak my altyd opgewonde om te sien wat gebeur wanneer die werke die lig sien, want met dié kom daar ook introspeksie.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top