Die minister van gesondheid, Joe Phaala, se besluit om alle regulasies rakende die dra van maskers en beperkings op binnenshuise byeenkomste op te hef, kon nie op ’n beter oomblik vir die Nasionale Kunstefees in Makhanda gekom het nie. Letterlik ure voor die eerste vertonings afgeskop het, is die regulasies in die Staatskoerant herroep.
Ek het ’n draai gaan gooi en gaan kyk hoe sake daar staan. Die eenvoudige antwoord is: Makhanda het sy beste uitrusting aangetrek en is reg om makietie te hou. Jy is genooi.
Saartjie Botha, wat in beheer is van die Toyota US Woordfees in Stellenbosch, het Maandag 20 Junie aan die pers gesê dit is nie lonend om ’n fees te hou wanneer slegs die helfte van die sitplekke gevul mag word nie. Die organiseerders van die Nasionale Kunstefees in Makhanda het dit ook geweet, maar moes noodgedwonge kaartjieverkope open lank voor die minister uiteindelik gehoor gegee het aan die raad van sy adviseurs en pleidooie van die publiek.
Donderdagoggend is daar dus by talle sale ekstra stoele ingedra, en vir die vertonings wat reeds uitverkoop het, kon daar ekstra kaartjies beskikbaar gestel word.
Die kunste het doodgebloei tydens inperking. Enige een wat ’n paar los oomblikke het en ’n paar rand om uit te gee, kan gerus na Makhanda opruk.
Die fees het tevore soveel as R90 miljoen vir die dorp gegenereer. Hierdie jaar mag dit moeilik wees om daardie totaal te haal, maar dit bly ’n belangrike bydraer tot die stad se ekonomie.
Oral kon Donderdag nog gesien word hoe verwers strate se strepe opfris, of werk aan slaggate en om alles netjies te maak vir die makietie.
Meer as R18 miljoen is die afgelope jaar spandeer om strate op te knap. Verskeie besighede, waaronder Vox Telecom, EcoLogic en Pick n Pay, het direk tot die verbetering van die infrastruktuur bygedra.
Kunstenaars het ook ingespring en slim muurskilderye is plek-plek te sien.
Maar wat hou die fees in?
Die volledige feesprogram is hier te sien.
Daar is iets vir almal.
Jazzliefhebbers weet reeds dat die Nasionale Jazzfees elke jaar van die beste musikante trek. Daar is internasionale ikone, soos die Suid-Afrikaanse Aus Tebza wat die wêreld warm speel met haar baskitaar, maar ook talle uitstekende hoërskoolorkeste wat deelneem.
Maar dis nie al nie. Die musiekfees dek enige iets van boy bands tot ’n simfonieorkes wat ’n koor begelei.
Daar is talle teaterstukke wat opgevoer word. Siphiwo Mahala se Bloke and his American bantu kyk internasionaal; ander, soos KAK, gebaseer op Maishe Maponya se bloemlesing gedigte Truth be told: Da’s kak in die land, kyk na dienslewering en ander kwessies in Suid-Afrika. Sandra Prinsloo skitter ook in Kamphoer – een van die bitter min stukke wat Afrikaans insluit.
Daar is ook verskeie dansproduksies – ek het al baie goeie dansstukke op die fees gesien. Hierdie jaar behoort geen uitsondering te wees nie.
Heelwat films is ook te sien – en talle van hulle kan van enige rekenaar af gekyk word. Almal kan dus fees hou, al is jy nie in Makhanda nie.
Hoewel van die produksies uitdagend en uitlokkend is, bied die program heelwat vir die hele gesin. Sommige stukke, soos Jakkals en Wolf se storie, wat teruggevors kan word na Esopus se fabels en hierdie jaar met marionette aangebied word, is onder Family gelys in die program, maar Richard Cock bied ’n simfonievertoning aan wat ook kinders sal vermaak.
Gratis vermaak – ook vir diegene buite Makhanda
Talle werkswinkels en kunsuitstallings is absoluut gratis.
Enige een kan rondloop op die Village Green waar winkels en kosstalletjies Donderdagoggend reeds gereed gestaan het om mense te vermaak – en jou natuurlik van jou geld kan verlos as jy honger en dors sou wees – of belangstel in kuns, plante of modes.
Kyk is vry as jou beursie te bewus is van inflasie.
Talle van die werkswinkels en die kunspraatjies word ook op die internet aangebied – enige een kan dus deelneem, al is hulle nie in Makhanda nie.
Van hierdie sessies kan teen ’n betaling gekyk word, maar daar is verskeie gratis stroomsessies ook. Sommige vereis registrasie, maar geen betaling nie.
Opvallende temas
Vier temas het my opgeval tydens die bestudering van die feesprogram:
- ’n Lewe na of tydens die pandemie
- Identiteit – wie “ons” of “ek” is in ’n demokratiese Suid-Afrika
- Protes teen gendergebaseerde geweld en geweld teen lede van die LBGTQI+gemeenskap
- ’n Onvergenoegdheid met die regering se gebrek aan vordering om armoede en dienslewering aan te spreek.
Ek moet ook erken dat die min Afrikaanse stukke opval – het ander feeste die Afrikaanse kunstenaars getrek? Verblydend egter is die ander inheemse tale wat beduidend op die feesprogram voorkom.
Protes
Ek is toegelaat om te kyk hoe die baie groot uitstalling rondom die slagting van Marikana, wat tien jaar gelede gebeur het, opgerig word.
Die kurator, Zodwa Skeyi-Tutani, het verduidelik hoe sy die armoede van die werkers, verbeeld met objekte uit ’n tipiese hostelkamer, wou jukstaponeer met ’n huislike omgewing, uitgebeeld deur ’n vertoonkas. Die staking wat tot die skietery gelei het, was immers om meer te verdien sodat die werkers beter huislike omstandighede kon kry.
Die foto’s deur Paul Botes is gewoon meesterlik.
Niren Tolsi, die bekende ondersoekende joernalis, het die hele uitstalling bymekaargebring en die teks geskryf wat gebruik word.
Toegang is gratis. ’n Groot deel van die uitstalling vind plaas op die tweede vloer van die Albany Museum en ’n kleiner deel op die heel boonste vloer van die 1820-Setlaarsmonument.
Virtueel vs maskerloos saam wees
Inperking het ons almal beïnvloed. Aan die een kant het dit boekpraatjies, teaterstukke en musiek vlerke gegee via die kuberruimte, maar aan die ander kant het dit ons nog meer ingekerker en van die werklike lewe vervreem.
Tydens die heel eerste vertoning wat ek bygewoon het, is hierdie kwessie direk aangespreek.
Fragments is ’n werk wat uit vier jazzbewegings bestaan, met gedigte oor die sosiale media tussenin. Lethabo Makweya het die gedigte geskryf en voorgedra. ’n Frase wat opgeval het, is: “Real human contact starts feeling superficial.”
Ook het haar gedigte gepraat oor die gebrek aan kommunikasie in haar moedertaal – die sosiale media gaan oor klieks, oor die oppervlakkige najaag van talle mense wat jou moet volg, nie oor ware kommunikasie nie.
Waarom net die blink kant wys? Is ons te bang vir die waarheid? En dan, in haar woorde: “Do you really love me, or just the idea of me?”
Stacey van Schalkwyk het die regie behartig en was op dwarsfluit; Tamsyn Turner het die klavier gespeel, Lieva Starker op viool; Brendan Yendall het die tromme gekielie en Yashin Naidoo het die baskitaar laat brom.
Dit is ’n interessante kombinasie van instrumente om jazz te speel, en dit werk.
Kan die koloniale skippie vir almal seil?
Die 1820-Setlaarsmonument is opsetlik ontwerp om soos die toring van ’n vragskip te lyk.
Oral in die stad is ook herinneringe aan die skepe wat die 1820-setlaars na Suid-Afrika gebring het.
Grahamstad was ’n koloniale dorpie, en die naamsverandering na Makhanda het nie gepaard gegaan met ikonoklasme nie. Orals is die ou oorblyfsels van ’n setlaarsgemeenskap nog te sien.
In die perskantoor het ek ’n oulike opmerking gehoor: Ons moet nou hierdie skip (dis die fees) draai om almal weer ter wille te wees. Wie dit gesê het, is ek nie meer seker nie. Ek het dit egter nie uitgedink nie. Dit is ’n edele uitdaging.
Die uitnodiging staan dus: Gaan gerus aan boord. Maak ’n draai op die binnelandse skip Makhanda. Die kunstenaars het jou nodig.
Die fees se leuse is: It will change you.
Kommentaar
Wel, Izak, met jou intieme en opgewonde opsomming van alles wat die kunsfees iets besonders sal maak, kan mens nie help om afgunstig te wees dat jy nie daar is nie.
Wat opvallend vir my is, is die tema: It will change… gesien juis in teenstelling met die vier hoof temas… dis so eie aan jou menswees - om te bestaan, jou demokratiese reg om asem te haal… en tog is daar helaas altyd 'n geveg om net te wees. Te bestaan…