Ruimterommel en binnekort derduisende satelliete om die aarde

  • 0

In die 63 jaar wat die mensdom voorwerpe die ruimte ingestuur het, is daar nou 34 000 stukke ruimterommel wat om die aarde wentel wat groter as ’n lemoen is en tot 128 miljoen stukkies kleiner as ’n sentimeter. ’n Botsing in die ruimte kan katastrofaal wees en al die rommel het nou só ’n groot probleem geword dat daar skoongemaak gaan word.

Daar word ook intussen ernstige vrae gevra oor wat Elon Musk van plan is om met derduisende kommunikasiesatelliete te doen wat hulle die ruimte wil instuur. Die eerstes het reeds sterrekundige waarnemings op die aarde benadeel. Dit is egter nie net Musk wat betrokke is nie; tienduisende ander satelliete gaan binnekort die ruimte in.

Wie besit die reg om die ruimte te beheer? Daar lê ook reeds talle stukke rommel op die maan. Hoewel daar nog net ses suksesvolle menslike landings op die maan was, was daar al talle robotte wat daar geland het. Baie onsuksesvol en hulle het net daar gebots en gebly.

Die Europese Ruimte-agentskap (ESA) het pas ’n besonder duur kontrak aangegaan met ’n Switserse maatskappy, ClearSpace SA, om hulle tegnologie te gebruik om ’n groot stuk ruimterommel te verwyder. Dit sal die eerste keer ooit wees dat iets aktief verwyder gaan word.

Die robot van ClearSpace SA (links) wat vir die heel eerste keer aktief ’n stuk ruimterommel sal gaan haal deur dit met kloue te haak en saam af te bring, waarna dit in die atmosfeer sal uitbrand. Skets: ClearSpace SA / Europese Ruimte-agentskap

In 2013 het die ESA ’n loonvrag van twee satelliete met ’n Vega-vuurpyl opgestuur, maar die koppelstuk wat die loonvrag aan die vuurpyl heg, genaamd Vespa, is steeds in ’n redelik hoë wentelbaan om die aarde – tussen 664 en 800 km. Dit weeg 112 kg.

ClearSpace se tegnologie is nogal oulik. Die ClearSpace-1, ’n robot, sal in 2025 lanseer word, en met sy vier kloue sal hy die Vespa gryp. Saam sal hulle na ’n laer wentelbaan beweeg, die atmosfeer binnekom en uitbrand.

Soveel as 10 490 satelliete is sedert 1957 in wentelbane om die aarde geplaas; hiervan is 6 090 nog in die ruimte, en 3 300 funksioneer nog. Oor die volgende paar jaar word daar nog derduisende beplan. Hulle monitor die aarde en gaan vir kommunikasie gebruik word. Die satelliete wat in ’n laer wentelbaan om die aarde wentel, gebruik hulle laaste bietjie energie om uit hulle wentelbaan te val, en hulle brand uit wanneer hulle die aarde se atmosfeer binnekom. Dit gebeur egter nie met almal nie.

Maar die groter satelliete word verder van die aarde af gestuur, en dit skep rommel wat vir derduisende jare daar sal bly. Soms val hulle wel onbeheerst terug na die aarde en stukke tref die grond.

Selfs al word alle lanserings gestaak, wys die navorsing dat die rommel steeds sal vermeerder, omdat die stukke met mekaar bots, en breek. Die jongste data wys daar was sedert die begin van die ruimte-era al 5 990 suksesvolle vuurpyllanserings, wat natuurlik meer as een loonvrag sou gedra het. Dit wemel om die aarde soos wat al wat land is, sy merk in die ruimte wil maak.

Kyk hier hoe lyk dit om die aarde:

.

Verlede jaar in September moes die ESA vir die eerste keer ’n maneuver uitvoer om ’n botsing in die ruimte te voorkom. Die Aeolus-satelliet, wat aardwaarnemings doen, moes sy verniervuurpyl gebruik om ’n botsting met die Starlink-konstellasie van SpaceX, wat aan Elon Musk  behoort, te vermy.

Starlink se idee is om ’n konstellasie van satelliete in die ruimte op te stel, sommige 550 km bo die aarde en ander hoër as ’n 1 000 km. Saam vorm hulle ’n netwerk van satelliete wat met mekaar praat. Volgens die maatskappy sal dié satelliete nie die ruimte besoedel nie; hulle sal self uit hulle wentelbaan gaan en binne tussen een en vyf jaar in die atmosfeer uitbrand. Die doel van Starlink is om ’n wêreldwye internetdiens daar te stel wat orals beskikbaar, en goedkoop, is. Hulle wil eintlik meeding met elke internetdiensverskaffer op die aarde. Die eerste diens sal reeds aanstaande jaar in dele van Amerika en Kanada beskikbaar wees.

’n Groep van 60 satelliete van Starlink in die ruimte. SpaceX, asook ander groepe, beplan derduisende in die ruimte. Foto: SpaceX

Wat Musk en sy span nie op hulle webwerf noem nie, is dat daar al 955 Starlink-satelliete om die aarde is wat hy met sy eie Falcon-9-vuurpyl lanseer het. Daar is reeds 12 000 deur die  Amerikaanse Federale Kommunikasie-kommissie goedgekeur. Die uiteindelike teiken is 42 000, nadat hulle in Oktober verlede jaar die Internasionale Telekommunikasie-unie gevra het om dié uitbreiding te oorweeg.

Die probleem hiermee is die lig wat al dié satelliete skep, en sterrekundiges ervaar reeds probleme met observasies vanaf die aarde. Sulke groot konstellasies van satelliete sal die ruimte besoedel en beïnvloed wat wetenskaplikes kan waarneem vanaf talle sterrewagte wat teen hoë koste en met moeite gebou is. Satelliete kan sonlig weerkaats en daar is geen plek om weg te kruip van duisende satelliete wat ’n konstellasie vorm nie.

Satellietkonstellasies veroorsaak helder strepe soos dié oor sterrekundige beelde. Hier kan minstens 19 strepe gesien word wat deur die Starlink-satelliete veroorsaak is. Foto: CTIO/NOIRLab/NSF/AURA/DECam DELVE Survey

Daar is geen internasionale reëls oor hoe helder of dof ’n satelliet moet of mag wees nie. Die sterrekundiges vra nou dat aanpassings gemaak word. Maar dit is ’n tameletjie en ’n lang debat wat met ’n werkwinkel in 2021 gaan begin. Of die probleem opgelos sal word, wanneer geld teen wetenskap praat, is moeilik om te sê.

Die sonlig weerkaats veral tydens sonsopkoms en -ondergang. Dit is veral die tyd wanneer observasies gemaak word in die soeke na voorwerpe soos asteroïede wat naby die aarde kan kom. Maar dis ook die geval vir satelliete wat hoër as 600 km bo die aarde is, waar hulle in die aardse se skaduwee bly en die hele nag sigbaar bly. Sterrekundiges sal sukkel en die enigste uitweg is ruimteteleskope om die werk te doen – ’n ondenkbaar duur instrument om te bou, en daar is ook net ’n handvol.

Dit is egter nie net SpaceX wat betrokke is nie. OneWeb in Brittanje het reeds meer as 70 satelliete gelanseer en beplan 48 000, en Amazon het ook die toneel betree en wil meer as 3 200 opstuur. Wat gaan van ons donkerruimte word? Hoe gaan dit lyk as daar byna 100 000 satelliete in ’n wentelbaan om die aarde is? En hierdie drie maatskappye gaan sekerlik nie die laastes wees nie.

Net 4 000 ligjaar van ons af is die Lagoon-newel. In die middel is ’n reusagtige jong ster, 200 000 keer helderder as ons ster. In die newel word nuwe sterre gebore, en met ’n verkyker is dit net ’n dowwe kol met ’n helder kern. Foto: Hubble/NASA/ESA/STSCL

Belangriker is egter die wetenskap, die briljante sterrekunde wat gedoen word regoor die aarde deur optiese teleskope wat die geheime van die heelal ontsluit. Sonder die sterre en sterrestelsels sou die heelal ’n uiters vervelige plek gewees het; dit sou bestaan het uit waterstof en helium en ons sou nie hier gewees het nie.

As die basiese boublokke van die kosmos, is stervorming se kernfusie die plek waar nuwe swaarelemente gevorm word om hulle sterrestelsel te verryk. Die energie koester moontlik lewe vir die planete wat net reg geleë is.

Ons bestaan op elementêre vlak uit: ’n blok suurstof so groot soos ’n TV, ’n baksteen steenkool, ’n kilogram kalsium, ’n teelepel yster en ’n klomp ander interessante goed. Daar is kwik, arseen, tin, barium, aluminium en selfs ’n klein bietjie goud en silwer (0,2 mg). Altesaam 60 elemente is in jou liggaam.

Ons en die sterre in die Melkweg is 97% dieselfde, is bevind. Koolstof, waterstof, stikstof, suurstof, fosfor en swael is in sterre en in alles wat op die aarde lewe. ’n Volwasse man bestaan uit 60% water en ’n vrou uit 55% water, terwyl ’n pasgebore baba byna 80% water is. Die verhoudings verskil net in wat in sterre en in ons voorkom. Daar is onder meer minder suurstof in sterre.

Ons is dus stokou sterstof op molekulêre vlak, afkomstig van die ruimte.

Sterre is egter soos groot kernreaktors waarin hulle elemente vorm. Die temperature is verstommend hoog – miljoene of selfs miljarde grade Celsius, afhangende van die element wat deur fusie gevorm word.

Sterre het ook ’n "lewe" en stadiums waardeur hulle gaan. In dié proses gooi hulle herhaaldelik lae af bekend as ’n nova (nova beteken "nuut"). Wanneer hulle te swaar en groot word, ontplof hulle en dit is ’n supernova.

Gas en sterstof word honderde miljoene ligjare ver die ruimte ingeskiet. Byna al die elemente swaarder as helium is op een of ander stadium deur ’n sterwende ster gemaak.

Dit waaruit ons bestaan, is afkomstig van die novas en supernovas wat materiaal die heelal ingeskiet het en steeds skiet.

Dié ontploffings is katastrofale gebeure wat soms so sterk is dat dit so helder is soos honderde miljarde van ons eie son. Die effek kan vir honderde miljoene jare nog gevoel word in die kosmos. Dit rimpel deur tyd wat lank reeds "verby" is, en dit wat nou bestaan, en sal tyd bereik wat nog moet kom.

Ons is oud, baie oud. Afkomstig van ’n vorige generasie sterre.

 

Bronne  

Europese Ruimte-agentskap: https://www.esa.int.

Starlink: https://www.starlink.com.

A bee in a cathedral, Joel Levy, Zebra Press (2011).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top