Rufio Vegas: "RufiYolo is ’n beweging"

  • 1

Rufio Vegas is hergebore as RufiYolo en het pas die prettige “Groeipyne” saam met Jack Parow vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, RufiYolo. Hoe’s dinge?

Absoluut fantasties. Kan nie beter nie. Voor die wind. Jonk en gesond.

Eerstens, die voor die hand liggende vraag: Wat het die naamverandering van Rufio na RufiYolo teweeg gebring?

Ek is steeds Rufio. RufiYolo het ontstaan om my herontdekte jeugdigheid te herdenk. RufiYolo is mereendeels ’n beweging om mense aan te spoor om elke dag die beste tyd van hulle lewe te hê. Nie maklik nie, maar moontlik.

Jare gelede, nog voor Jack Parow celeb-status bereik het, het jy en hy saam gerap in die band Die Vegas en Parow Show. Ek onthou nog veral die “Hierdie is ’n liedjie oor hoekom jy nie ’n ander man se meisie moet stiekie …” tune. Hoekom het julle destyds opgehou en wat het daartoe gelei dat julle nou weer saamgespan het?

Parow het my leer rap, nadat ek uit verskeie middelmatige punkbands geskop was. Hy was nog altyd die ene met die rap-skillz en ek die aandagsoekerige ene saam met hom op stage. Ons paadjies moes skei sodat hy supersterstatus kon bereik. Ek was nie gereed om tot die volgende stap oor te gaan nie. Sou vernietigende gevolge gehad het. Eers nou was die regte tyd om weer kragte saam te span. Regte tyd, regte plek.

In “Groeipyne” word daar baie gerap oor die vriendskap tussen jou en Parow, julle pad saam, ensovoorts. Wat is die konsep agter die liedjie en die video? Hoe het julle te werk gegaan met die skryf, skiet en uitvoer daarvan?

Philip Erasmus is die brein agter die video. Dit handel oor twee goeie vriende wat uithang en die beste tyd van hulle lewe het. Die lewe na dertig. Philip is ’n slim man en hy het hierdie outjie haarfyn beplan. Toe ek my oë uitvee, was ons klaar. Baie kort daarna was daar ’n finale produk. Dankie RassieYolo.

Die beskrywing onder die video op YouTube dui aan dat Jack vir jou ’n record deal gegee het vir jou verjaardag. Is dit die geval? Indien wel, wanneer kom die album en hoe sal so ’n album klink?

Dit was sy geskenk aan my vir my dertigste verjaarsdag. Dit sal in die eerste kwartaal vrygestel word.

Een van die mees memorable tonele in die musiekvideo is waar jy CD’s van talle Afrikaanse popsterre (onder meer Kurt Darren en Ray Dylan) laggend weggooi. Wat is die boodskap hieragter vir jou? Hoe sou jy die probleem van Afrikaanse pop definieer en hoe kan dit opgelos word?

Ek was besig om te besluit op my look. As jy ’n popster wil wees moet jy ’n gedefinieerde popster look hê. Goeie diep kyk in jou oë. Skalkse glimlag, sonstrepies in jou hare, lekker pop-collar. Hy het nie gedink dis so ’n goeie idee nie. Daar is kiff pop en daar is aaklige pop. Ek wil die dralende gaping tussen kakpop en kragpop oorbrug. So een of drie van Kurt en Ray se treffers is bejizzmic, maar dan is daar ander kunstenaars buite wat rubbish treffers maak en dit dan aan hulle aanhangers verkwansel. Afrikaanse pop is geskoei op ’n wenresep wat ongemiddelde standaarde stel. Sodra ’n man die pop-standaard lig en dit vir almal toeganklik maak, sal dit moeiliker raak vir ander popkunstenaars om gemors op die rakke te sit.

Op ’n persoonlike vlak: ek’t ’n jaar of twee terug met jou ’n onderhoud gevoer vir MK Online waarin jy nie skaam was om te sê dis erg frustrerend om te sien hoe al jou vriende bekendheid bereik en sukses behaal met hul musiek terwyl jy op ’n manier “agterbly” nie. Is dit steeds jou gevoel, of kan jy nou met veiligheid sê jy het “arrive” op ’n manier? Ook, in watter mate beïnvloed dit jou kuns as jy onder minder druk is om treffers vinniger aan te hou uitgee as van jou tydsgenote?

Ek is gelukkig. Alles werk presies uit soos dit moet.

Die Vegas Show was ’n besonder lekker internet/TV-reeks wat ongelukkig net ’n paar episodes gehou het. Wat onthou jy daarvan, wat het dit jou geleer en hoekom het dit uitgefizzle?

Nie so baie mense het dit gekyk nie. Dit was op TV en ek dink net my vriende het dit gekyk. Ten minste bly dat ek ’n TV-show kon gehad het. Nou het ek ten minste ’n kans om eendag ’n job te kry as ’n nuusleser of so iets.

Wat is jou kort- en langtermynplanne met die RufiYolo-projek?

Ek wil ’n kiff live show aanmekaar flans. Baie ligte en toertjies en sulke goed. Saam met die beste musikante. Soos Skouspel, maar op kleiner skaal. In ’n deursnee-klub soos assembly. Toeganklik. Ek wil musiekvideo’s vir elke liewe track maak. Sodat alles mooi in mekaar pas soos ’n fliek. So iets.

Wat is die sin van die lewe?

Beste tyd van jou lewe. Probeer alles vir jouself lekker te maak. Selfs al ry jy shop toe vir ’n pakkie sigarette, pomp die radio lekker hard. Yolo bietjie. Ons is nie hier vir ’n lang tyd nie, maar ’n lekker tyd.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top