Rubriek: Wiskunde-eksamenhulp (intermediêre fase) vir ouers

  • 7


Hoe help ek my kind in die intermediêre fase om vir die wiskunde-eksamen voor te berei?

wiskundevraestel_graad5Stap een: Oefen! Laai hier 'n wiskunde-vraestel en -memorandum vir Graad 5-leerders af. 

Stap twee: Lees die onderstaande rubriek deur Marise Oberholzer, propvol oorlewingswenke vir ouers.  


 

Dit is ’n bedrywige kwartaal vir huishoudings met kinders op skool. Dit is konserte, prysuitdelings, kooroptredes en afsluitings van al wat ’n komitee is. Terwyl die kinders nog volstoom besig is met al hierdie aktiwiteite, is ouers dikwels reeds bekommerd oor die naderende eksamen.

’n Leerarea waaroor ouers dikwels veral besorg is, is wiskunde. In leerareas waar kinders feite moet memoriseer, kan ouers met gemak vasstel of hul kind voorbereid vir die eksamen is al dan nie. Met wiskunde is dit egter anders. Kan ’n kind leer vir wiskunde? Of moet hulle bloot die werk verstaan? Tot watter mate kan ’n ouer sy kind bystaan as dit by wiskunde kom? Graag werp ek lig op die onderwerp.

Wiskunde is ’n leerarea wat, net soos ander leerareas, deeglike voorbereiding vereis. Ouers kan hulle kinders op die volgende wyse bystaan in hul voorbereiding vir die wiskunde-eksamen.

Een van die eerste aspekte waaraan ouers aandag kan gee, is om seker te maak dat kinders hul maaltafels ken. Die toepassing van maaltafels is in baie afdelings van wiskunde belangrik, en kinders wat hulle maaltafels ken en vinnig kan herroep, spaar baie tyd in vraestelle en maak minder onnodige foute.

Die volgende stappe kan gevolg word wanneer kinders nog nie hulle maaltafels ken nie:

  1. Tel gereeld in intervalle van 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11 en 12. Kinders wat met gemak in intervalle van 7 kan tel (bv 7; 14; 21; 28; 35; 42; ...), sal vinnig kan uitwerk hoeveel 4 x 7 is. 
  2. Identifiseer watter maaltafels problematies is en fokus daarop.
  3. Herhaal, herhaal, herhaal. Met elke keer wat ’n kind die antwoord van 8 x 5 moet uitwerk, is die kans beter dat hy dit op ’n volgende keer sal kan herroep.

Daar is baie aspekte van wiskunde wat geleer moet word, byvoorbeeld die name en eienskappe van twee- en driedimensionele vorms. Ook die betekenis van terme soos veelvoud, faktor en priemgetal moet geleer word. Ouers kan toesien dat hul kinders hierdie leerwerk ken.

Wiskunde moet ook ingeoefen word. Om net deur die handboek en oefenboek te blaai, is onvoldoende. Metodes en voorbeelde kan eenvoudig lyk wanneer ’n mens net daarna kyk, maar kan ’n uitdaging wees om self te doen.

Ouers voel dikwels dat hulle ekstra oefenboeke moet aankoop om te help met die eksamenvoorbereiding. Dit is egter nie nodig nie. Die wiskundehandboek en die oefenboek waarin daar in klastyd gewerk word, is voldoende. Hierdie bronne kan as volg aangewend word:

  1. Die meeste handboeke bied verduidelikings en voorbeelde van die tipe somme wat in die klas gedoen word. Dit kan ouers help om die metodes te verstaan wat gevolg word.
  2. In die oefenboek kan ’n ouer sien tot watter mate die kind die werk bemeester het.
  3. Ouers kan ’n opsomming maak van die foute wat begaan is. Hierdie voorbeelde kan dan weer op ’n volgende geleentheid vir die kind gegee word om te doen om seker te maak dat hy dit nou onder die knie het.
  4. Om seker te maak dat hul kind alle metodes kan toepas, kan ouers ’n paar somme uit elke oefening gee om te doen en dan die oefenboek as memorandum gebruik. Dit is belangrik dat kinders die somme weer uitwerk. Dit dien as vaslegging. Slegs as kinders weer die voorbeelde uitwerk, sal hulle weet of hulle steeds die metodes onthou en kan toepas.

Toetse wat gedurende die jaar geskryf is, is ook ’n waardevolle bron. Kinders kan weer daardie vraestelle uitwerk vir vaslegging en fokus op foute wat gemaak is, om soortgelyke foute in die eksamen te voorkom.

’n Kind wat deeglik vir die wiskunde-eksamen voorberei het, pak die vraestel gewoonlik met ’n geruste hart en met selfvertroue aan. Dit is dus die moeite werd om nou stelselmatig deur die jaar se wiskunde te werk.

  • 7

Kommentaar

  • Hi Marisa, baie dankie vir jou insae, voorstelle en gereelde wiskundevraestelle en memo's. Ek stem saam dat die beste voorbereiding vir wiskunde is oefen, oefen, oefen! My kinders berei ook dan so voor vir wiskunde-eksamens deur ou vraestelle te doen. Kan jy my moontlik kontak asb? Ons is 'n groep ouers wat bereid is om te betaal om vraestelle vir ons kinders te kan kry? Groot asseblief kontak my?

  • Graad 4-Wiskunde
    Ons sit met 'n probleem waar die kinders feitlik niks wiskundewerk in die klas doen nie. Net dae voor die Junie eksamen word 'n klomp papiere saam met die kinders huis toe gestuur, met die instruksie "ouers moet asb toesien dat kinders hierdie verstaan," en "ons is onder baie druk en ouers moet asb saam met hul kinders deurgaan en seker maak hulle verstaan dit."
    Ek vra my kind hoeveel somme hulle in die klas daagliks doen. Die antwoord is gewoonlik drie en soms vyf. In haar wiskunde-werkboek is dit duidelik ook. Breuke was 'n papier wat ingeplak is met vier somme in die boek ... dis dit!
    Die kinders kry ure en ure se Afrikaanse en Engelse huiswerk, maar geen Wiskunde nie. Nie eers vyf somme om te doen nie. Ouers moet nou skielik inspring en die kinders leer wat nie in die klas geleer word nie. 'n Redelike groot groep ouers staan nou saam.
    Ek dring daarop aan dat alle ouers wat hierdie lees asseblief baie seker maak dat daar amper daagliks aan Wiskunde gewerk word tuis en om dit nie aan die skool (wat ons vertrou) toe te laat nie.
    Ek moet nou koebaai sê ... Ek moet breuke, en die verskil tussen cm en mm gaan verduidelik.

  • Hallo ek stel belang in graad 5vraestelle asb tel,rangskik ,breuke,optel en aftrek,lengte,inhoud en volume,tyd,data 3d en 3d vorms simmetrir en woordsomme asb vraestelle wat my dogter kan oef sy skryf dinsdag wisk eksamen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top