Rozelle Blackie 101

  • 0

Wie is Rozelle Blackie? In 2011 het Rapport met haar gesels. Nou het sy haar debuutalbum uitgereik. Sy gesels met Naomi Meyer oor kos en musiek.

Hallo Rozelle, lekker dat jy kans sien om te gesels in hierdie besige tyd. Of is jy maar nog altyd besig? Vertel bietjie vir ons lesers van jou agtergrond.

Hallo Naomi. 😉  Baie dankie dat julle tyd aan my afstaan vir dié onderhoud.   

Om vir die lesers ‘n vinnige opsomming van my agtergrond te gee: Ek is 29 jaar oud en het, ná ek matrikuleer het, by die Universiteit van Pretoria voltyds regte (LLB) begin studeer, maar was op skool al betrokke met baie korporatiewe werk as sangeres asook studiowerk, waar ek as agtergrondsanger gewerk het. Dus het het die musiek ongelooflik gemis in die tyd van voltydse studie, maar het steeds studiowerk gedoen en hier en daar optredes. Ek het so in die middel van my tweede jaar by vriende in die musiekbedryf gehoor dat Anna van plan was om Cutt Glas te verlaat. Ek het die kans aangegryp, vir Bondina gebel (sy’t seker gedink hierdie kind is mal) en gesê ek sal baie graag wil oudisie. Ek is op die eerste dag van my eindeksamens in 2003 geskakel en gevra hoe my dagboek lyk vir die volgende paar jaar. 😉

Ek het studies oorgeskuif Unisa toe, waar ek my graad voltooi het en al sedert 2009 vryskut-regswerk doen vir ‘n firma in Pretoria. Die firma spesialiseer in familiereg.

Jy het nou jou eie album gemaak, maar was altyd deel van die groep Cutt Glas. Hoe verskil dit vir jou om op jou eie te sing versus in die groep?

Mens se lewe beweeg mos so in hoofstukke …

Ek het aan die einde van 2010 vir die vroue van Cutt Glas totsiens gesê omdat ek gevoel het dit was tyd om my eie paadjie te begin stap. Ek was op daardie stadium 27, het toe al vir jare lank op ander projekte  gewerk saam met kunstenaars soos Mathys Roets en het gedink ek moet op ‘n stadium begin vlerke sprei … eers kyk en leer, en dan die stap neem en ‘n album maak.

Omdat ek, selfs tydens my jare van Cutt Glas, altyd betrokke was met eie projekte, en baie jazz korporatiewe werk, was ek gewoond daaraan om alleen te werk as solokunstenaar met musikante. Waarna ek verlang, is die harmoniewerk. Dis in my bloed, en deel van wie ek is. Dis hoekom ek dit regtigwaar ook so geniet om agtergrondsang vir kunstenaars te doen … bloot oor die harmonisering.  Dis vir my lekker en mooi. 

Die ander deel van in ‘n groep wees, is die ondersteuning wat mens het op die verhoog, sowel as van die verhoog af: die saamwees, die laataande gesels op toer ens.  Ek en Karen Wessels (wat ook vir agt jaar lid van Cutt Glas was saam met my) is tot vandag toe boesemvriendinne en sal enigiets vir mekaar doen.   Mens deel dinge wat jy nooit aan ander kan verduidelik nie. Maar ek begin nou weer met ‘n nuwe hoofstuk, en ‘n opwindende een, omdat ek nou saamwerk met my lewensmaat, Alwyn Vorster, wat die musikale regisseur was van my hele album. Ons sit en brainstorm en my album sou beslis ‘n heeltemal ander produk gewees het indien Alwyn se hand nie daarin was nie.   Ons ken mekaar al twaalf jaar en het in mekaar liefde gevind, maar ook werk ons ongelooflik goed saam en is daar ongelooflike respek vir mekaar se musikale vermoë. Hy’s ‘n ongelooflike pianis, verwerker en skrywer. En nou sien ek daarna uit om saam met hom en ander musikante te kan werk, toer ens. Musikante is ‘n sekere “breed” en ek is lief vir hulle almal!

Jy was ook agtergrondsanger van groot name, soos Theuns Jordaan en Amanda Strydom. Wat het jy geleer as jy saam met sulke mense optree?

Van elke kunstenaar leer mens iets anders. Soms byt jy op jou lip. 😉 Maar dit was nog altyd vir my ‘n voorreg om van jongs af die verhoog met verskeie kunstenaars te deel en vir hul agtergrondsang te kon doen. Daar is jy die minste en jy moet die hoofkunstenaar so goed moontlik laat klink en lyk.

Ek werk al vir baie jare ook saam met Mathys Roets  as agtergrondsanger en het in 2011 ‘n duet, “Gert Vlok Nel se Treine”, op sy CD (Rembrandt se meisie in die maan) saam met hom opgeneem. Ek is veral mal daaroor om saam met hom te werk, bloot oor sy rustige aard, sy goedgesindheid teenoor letterlik almal met wie hy te doen het, en die feit dat ons stemme so mooi saam pas. Ons het onlangs ook sy DVD, Iemand soos jy, by Atterbury-teater opgeneem waarin ek saam met hom ‘n duet/2 sing, ‘n liedjie van my CD af, en verder saam met al die ou grotes soos Mauritz Lotz en Matthys Maree (van AfriFrans, AfriSpaans) hom begelei met agtergrondsang.

Een ding wat ek wel leer, is dat mens maar nederig moet bly – vandag is jy bo, môre ken niemand jou naam nie. Dis die fases, en in die musiekbedryf moet mens konstant en aanhoudend werk, veral as jou produk nie “mainstream” is nie, om ‘n naam te bou en dan te behou.

Hoe het jou en Matthys Maree se paaie gekruis en hoe was hy betrokke by jou album?

Ons albei wonder steeds hoe ons die eerste keer ontmoet het. 😉 Nie een van ons kan presies onthou nie, maar ons ken mekaar omtrent nou so tien jaar al en werk nou saam vir omtrent die afgelope ses, sewe jaar. Ons het albei ‘n liefde vir goeie wyn, goeie geselskap, goeie kos en dan natuurlik musiek, en het net oor die jare baie goeie vriende geraak, wat dit maklik maak om saam met hom te werk op soveel projekte soos Versnit wat ons elke jaar op die wynplaas Rust&Vrede doen, sowel as Gospel Skouspel. Dan speel Matthys ook mos vir Mathys, en ek sing altyd saam. 😉 So dit werk goed uit.

Matthys was die Suid-Afrikaanse vervaardiger van die album en het my so half “omgepraat” om my album ook in Switserland te laat opneem by die tweede vervaardiger, Matthias Heimlicher. Dus was Matthias die Switserse vervaardiger van die stemgedeeltes, agtergrondstemme wat ek ingesing het en van die instrumente, asook die finale meng en meester. Dis dan natuurlik waar al die Afri-Frans- en Afri-Spaans- en ander albums ook die lig gesien het. Matthys het my voorgestel aan Matthias so ‘n rukkie voor ek, hy en Alwyn sak en pak oor is Switserland toe om daar te gaan opneem. Die meeste van die instrumente is in Suid-Afrika by Matthys se ateljee opgeneem (Odyssey Records), en dan het ek in Switserland die vocals gaan opneem. Alwyn, wat al die klavierparte doen, het ook in Switserland in die ateljee Hammond-orrel en Rhodes-klavier opgeneem.  Matthys het wel ook akkordeon op my album gespeel. 😉 

Kos is ’n deurlopende tema van jou debuutalbum se liedere. Het dit vir jou vanself gekom om oor kos te sing? Of het jy dit doelbewus so gekies?

Ek wou gehad het dat die album moet weerspieël wie ek is, wat vir my belangrik is en hoe ek oor dinge dink. Kos, wyn en mense speel ‘n belangrike rol in my lewe.  Ek’s lief vir al drie. Verhoudings tussen mense fassineer my, daarom het ek nogal baie daaroor geskryf (gaan nogal saam met my werk in familiereg).

Ek is lief om te onthaal, gaste in my huis te hê wat lag en my kos geniet. Ek sal myself glad nie ‘n sjef noem nie! Asseblief nooit! 😉  Maar ek glo ek kan ten minste ‘n behoorlike ete aanmekaarslaan waaraan gaste kan smul. Saam met wyn, hoe dan anders as net genot?

Ek het dus doelbewus daaroor geskryf, omdat ek wou hê dat mense daar buite daardie kant van my moet leer ken, en ek sal graag vorentoe kos op ‘n manier in optredes wil inkorporeer.

Na watter musiek luister jy self graag?

Ek luister na omtrent enigiets! Ek het wel ‘n voorliefde vir jazz, vir “world music” soos byvoorbeeld Pink Martini, die Putumayo-reeks, en dan, omdat Alwyn natuurlik ook ‘n musikant is, het ons ‘n wye verskeidenheid van musiek regoor die wêreld, omdat hy al oral gewoon het en daar musiek gekoop het, veral in plekke soos Marokko ens. Ek is veral mal oor die Sweedse kunstenaar Tord Gustavsen se musiek. Net instrumente. Ook nogal die kunstenaar Madeleine Peroux – een van my gunstelinge.

Afrikaans:  sal beslis enige tyd ‘n Coenie de Villiers-album luister, het grootgeword met Laurika Rauch en Amanda Strydom, en is nogal lief vir Schalk Joubert se album Kayamandi

Wie is jou musiekhelde?

In Suid-Afrika: Amanda Strydom, vir haar  ongelooflike lirieke en die manier waarop sy ‘n gehoor vir ‘n uur lank kan laat vergeet van enigiets anders as waarvan sy hul vertel. Coenie de Villiers vir sy ongelooflike musikaliteit en lirieke.  Musikante wat altyd in die skaduwees beweeg en altyd die kunstenaars laat goed lyk, soos Mauritz Lotz, David Klassen, Brendan Ross ea.

Oorsee: Beslis John Mayer. Elke lied wat hy skryf, is ongelooflik. Als word vooraf beplan en perfek gemaak. Hy is ‘n ongelooflike musikant en verwerker, sanger, liriekskrywer en weet presies wat werk en wat nie.

Dan natuurlik Diana Krall, omdat ek ‘n liefde vir jazz het en haar “phrasing” amazing is. Sy’s ‘n ongelooflike verwerker en pianis en het ‘n styl en “brand” eie aan haarself gekweek. 

Jy het ook baie gereis – vertel vir ons lesers wat dit vir jou beteken het?

Om te kan reis bly altyd ‘n voorreg en iets wat ek nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Mens is bevoorreg as jy ooit daardie tipe geleenthede kry en ek is en was nog altyd gelukkig genoeg om met my werk te kon reis. Of dit nou regoor Suid-Afrika of oor die wêreld self is, reis maak jou as mens ryker en verbreed jou horisonne. Mens sien hoe ander mense leef. Jy beleef dinge, eet dinge, sien dinge wat jy andersins nooit sou kon beleef nie – en nee, géén TV-program kan die “real thing” vervang nie.  

Mens is maklik geneig om te kla oor wat jy het, tot jy op ‘n plek kom waar iemand niks het nie. Iets wat altyd, altyd by my sal vassteek is die eerste jaar van die fees in Darling. Alle kunstenaars het in mense se wonings gaan optree vir hoeveel ook al plastiekstoele daar kon ingedra word. So het die gemeenskap ‘n inkomste verdien. Daar het ‘n vrou om verskoning gevra omdat sy vir ons uit ‘n emmer moes water skep toe ons vra vir water net voor die optrede … hulle het nie lopende water gehad nie. Ons is gewoond ons stap in Woolworths in en koop gebottelde water – anders drink ons eerder wyn ...

Dit gee mens ‘n goeie besef van wat jy het, maar ook soms van hoe dit kan wees.  In my onlangse reis na Switserland en Frankryk het ek so ongelooflik vry gevoel … om in die aande na twaalf nog in die strate te kan rondstap in Parys sonder vrees vir enigiets … dis wonderlik.

Dus: reis verbreed jou horisonne en leer jou oor wat jy het, wat jy miskien nie het nie, en laat jou dus dink oor waarmee jy sou tevrede wees in die toekoms en hoe jy jou leefstyl sou wou aanpas, of dit nou is om by ‘n  welsynsorganisasie betrokke te raak, en of dit nou is om te emigreer. Dit gee vir elke individu perspektief wat vir hom-/haarself vorentoe ‘n paadjie kan laat uitkerf.

Waar kan ons lesers na jou gaan luister – hoe lyk jou program?

Ons het nou eers bietjie die album van die been af gekry, maar lesers kan na my webtuiste, www.rozelleblackie.com, toe gaan om CD’s te bestel, na gedeeltes van die musiek te luister en ook op te volg oor waar en wanneer ek optree. Die CD is ook tans beskikbaar op iTunes en CD Baby, maar is hopelik binnekort in alle winkels te koop.

Ek sal lesers heeltyd op hoogte hou van waar en wanneer ek optree. Hulle kan ook na die Facebook-blad Rozelle Blackie Singer/Songwriter gaan, waar ek heeltyd nuus, resepte ens met hul deel.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top