Rosa Keet (1945–)

  • 0

Gebore en getoë

Rosa Keet is op 10 Februarie 1945 op Senekal in die Vrystaat gebore. Sy is die dogter van die Afrikaanse digter AD Keet, wat geneesheer op Senekal was, en sy tweede vrou, Rina, suster van die historikus PJ van der Merwe. Die limeriekskrywer Ellen Botha is Rosa se suster.

Rosa Keet vertel aan Volksblad meer oor haar digwerk: “Van sub B (graad 2) af het ek gereeld rympies in die skoolblad gepubliseer. In my matriekjaar, net voor ek agtien geword het, het ek drie verse aan DJ Opperman voorgelê en twee daarvan is in Groot verseboekopgeneem.”

Op sewejarige ouderdom verskyn Rosa se eerste gedigte in die skooljaarblad, en pas voor sy 18 geword het, het sy die onderskeiding behaal dat van haar gedigte in DJ Opperman se Groot verseboek opgeneem is.

Sy matrikuleer aan die Hoërskool Paul Erasmus op Senekal.

Rosa beskryf later haar geboortedorp Senekal op verskillende maniere:

Liries:

“Vandag was ’n dag van spelerige grassade”

Beskrywend:

“Blinkwit druppels wat vroegoggend
die grashalms aanmekaar vasheg,
smelt eers met die laatoggendson”

Ironies:

“Ek ruik dit in die lug
die bitterkruiereuk
van ’n somer wat onwillig
besig is
om dood te gaan”

Eroties:

“My vel lê blinkglad
oor die geel rypheid van gras”

Sentimenteel:

“’n baba is gebore, in stille Senekal”. (Volksblad, 31 Augustus 1977)

Verdere studie en werk

Ná skool is Rosa na die Universiteit van Kaapstad, waar sy haar inskryf vir ’n BA-graad, maar na haar tweede jaar het sy haar studie gestaak.

Sy gaan werk in Bloemfontein as verslaggewer by die Engelse koerant The Friend as vroueredaktrise, “omdat ek die enigste vrou in die redaksie was”. (Die Vaderland, 30 September 1980) In Bloemfontein ontmoet sy vir Tim Robson, wat by die SAUK gewerk het, en die twee is getroud. Hulle het een dogter, Marisa.

Ná Bloemfontein is die Robsons vir ’n jaar lange wittebrood na Spanje, waar hulle “boheems” gelewe het. Hulle het ’n huis in die suide van Spanje gehuur, waar hulle geskilder en geskryf het. Hulle is later geskei.

In 1976 was Rosa nou gemoeid met die literêre blad Donga. Sy was saam met Welma Odendaal een van die stigterslede van die blad. Haar mikpunt met Donga was “om ’n literêre mondstuk vir jong skrywers van alle rasse in Suid-Afrika daar te stel,” het sy aan Ronél van der Merwe vertel. (Volksblad, 31 Augustus 1977)

Daarin het hulle besonder goed geslaag, meen Rosa, “veral deur gasredakteurs te gebruik, wat die opbou van kontak met skrywers in Suid-Afrika en baie ander dele van Afrika versnel het. Die belangstelling in Donga se doen en late strek ook heelwat verder as Afrika – soos die lys van intekenare bewys: daar is ’n hele klompie in Amerika, Nederland, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Switserland,” het sy aan Ronél van der Merwe vertel.

Sy het haar na ’n jaar aan die organisasiewerk van Donga onttrek, maar het haar daarna besig gehou met die sekretariële werk van die noordelike streek van die Afrikaanse Skrywersgilde.

“Die welstand van die letterkunde in Suid-Afrika is vir my baie belangrik, nee noodsaaklik. Die feit dat Keerkring (van Welma Odendaal) verbied is, maak my net so ongelukkig as die feit dat ‘He’s my brother’ en ‘No easy road to freedom’ en talle goeie oorsese werke hier verbied is. Maar dis vir my onmoontlik om eiehandig iets aan hierdie situasie te verander. Indien ’n mens iets vanuit ’n organisasie werk, kan daar dalk nog iets verrig word.”

Daarna werk sy in die subkantoor van Die Vaderland, en is ook teaterrubriekskrywer en film- en teaterresensent vir Rapport. Sy doen vryskutwerk by die SAUK as oorklankingsvertaler, assistent en samesteller van verskeidenheidsprogramme, en liriekskrywer. Sy word later voltyds aangestel as draaiboekredakteur en waarnemende organiseerder van TV1-drama in Afrikaans en later opdragredakteur: drama (Afrikaans en Engels) vir SABC2.

Sy is tans betrokke by draaiboekwerk en organiseer werkswinkels met nuwe skrywers, waaruit ’n televisiereeks van 13 episodes, Langstraat, ontwikkel het. Ook was sy betrokke by die ontwikkeling van draaiboeke vir Vierspel en Meeulanders.

Rosa het saam met die TV-regisseur Merwede van der Merwe begin werk, “as haar sidekick vir al die musiekprogramme en reekse”. “Ons het destyds een uur drama per week op die lug gehad, 39 weke per jaar. Nou (in 2003) het ons drie en ’n half uur ... en ek is al wat oorgebly het om dit te doen!”

Later het hulle, soos Rosa dit noem, movies gemaak – ’n projek wat haar vreeslik opgewonde gemaak het. Daar was Max, the king of tears, ’n komedie met Tsotsi-afrikaans, en Forgiven, wat hulle oorsee wou bemark. Dit was ’n koproduksie met ’n groot rolprentverspreider, die National Film and Video Foundation, en die Rotterdamse Filmfeees. Hulle het met daardie projek ook mense opgelei in die verskillende aspekte van film maak: 12 regisseurs, 12 vervaardigers en 12 skrywers.

“Ons temas moet eg Suid-Afrikaans wees en om dit bekostigbaarder te maak, loop ons reekse deesdae (in 2003) langer as die gewone dertien episodes. Soos die 26 episodes van Zero tolerance, ’n volgende groot cross-over-dramareeks, losweg gegrond op die Skerpioene.

“Omdat drama so duur is, wissel ek nuwe produksies met herhalings af. Goeie drama kos (destyds) R12 000 per minuut en ’n herhaling net R150 per minuut, want jy betaal net die persentasie skrywer- en akteursgeld.”

Sy moet ook in haar departement ver in die toekoms in dink. “Mense verstaan dit nie, maar vandat jy sê: nóú begin ons, is dit drie jaar om ’n dramareeks vir uitsending gereed te kry. En dan daag daar nog tussenin iets vreesliks goeds op. Só goed dat dit net mooi als weer kom deurmekaar krap.”

Nadat haar eerste drie digbundels verskyn het, het Rosa ook vir haar naam begin maak as die skrywer van lirieke. Sy het lirieke vir onder ander Clarabelle van Niekerk geskryf. En in Jan Scholtz se rolprent April 1980 sing Laurika Rauch haar liedjie “Moenie dat die kinders hoor nie”. Sy het hierdie lied as haar eerste proteslied, ’n protes teen oorlog, beskryf.

Sy probeer om haar digwerk en liriekskrywery heeltemal van mekaar te skei. “Ek skryf my gedigte in bundels en daar wil ek graag hê moet hulle bly. Die verskillende vlakke wat in ’n gedig voorkom, gaan verlore as dit in ’n liriek omskep word, en daarom verkies ek dat my gedigte nie getoonset word nie.” (Die Vaderland, 30 September 1980)

Sy het haar destyds altyd so geskaam as sy ’n Afrikaanse liedjie gehoor het dat sy besluit het om impresario te word. Rosa was instrumenteel in die destydse Musiek- en Liriek-konserte vir die Markteater en het die heel eerste konsert bymekaar gesit met Laurika Rauch, Anton Goosen, Clarabelle van Niekerk, Jannie du Toit en Louis van Rensburg. “Nie een van hulle was toe al op die verhoog nie. Dit was ’n jol! Ek kan glad nie noot hou of sing nie, maar ek het ’n ongelooflike goeie oor en ek kan hoor as iets verkeerd is.”

In 1992 waag Rosa haar hand aan kabaret en is haar eerste kabaret, Homo erectus, by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad opgevoer. Volgens die regisseur Dion van Niekerk was dit “’n sosiologiese draakstekery met die mens as dier in die Suid-Afrikaanse konteks, sonder om die politiek nader te haak”.

Rosa self het geen musikale agtergrond nie. “Ek kan glad nie noot hou nie,” sê sy aan Laetitia Pople. (Beeld, 6 Julie 1992) “Ek het maar gefluit en iemand het dit vir my neergeskryf.” Die akteur Tobie Cronjé het twee van die liedjies getoonset en Catherine Hall, ’n musiekstudent van Kaapstad, het die “een wat ek nie kon regkry nie, getoonset. Ek het die kabaretgenre aangedurf omdat ek ook liedjies kan skryf. Hennie Aucamp het kabaret beskryf as ‘beskaafde protes’ en dit is waarna ek streef.”

Sy vertel verder aan Pople oor haar eerste kabaret: “Met Homo erectus wil ek protesteer oor die geweld en die beginsels wat die mens na willekeur verwring. Breedvoeriger handel dit oor die liefde, die toekoms van die Afrikaner se plekkie in die son en Aspoestertjie wat eintlik ’n kapitalistiese sprokie is. (My Aspoestertjie wil graag ’n stofsuier besit!) Dit was wel moeilik om die ritme honderd persent te kry. Die lirieke moes ook onmiddellik verstaanbaar wees, sonder om vervelig te wees.”

Homo erectus is deur Afrikaanssprekende studente aan Rhodes-Universiteit opgevoer onder spelleiding van Dion van Niekerk, ’n student wat besig was met sy meestersgraad in drama, en Rosa was baie tevrede met die kwaliteit van die studente se werk: “Hulle het genoeg energie en lewenskrag om die ding te doen.”

Dion van Niekerk het aan Pople gesê dat Rosa Keet ’n fyn aanvoeling vir die teater het. “Sy het ’n manier om haar gehoor vas te vang, hulle dan te mislei en uiteindelik totaal te verras. Daarby skep sy ’n karakter met ’n paar woorde sodat jy presies weet wie hy is en wat sy agtergrond is. Haar poëtiese aanvoeling vir taal maak die lirieke onvergeetlik.”

Rosa was ook samesteller en gedeeltelike skrywer van Kort voor lank wat deur Stephan Bouwer by dieselfde fees opgevoer is.

Rosa het Johannesburg in 1988 verlaat om haar op Port Alfred in die Oos-Kaap te vestig, want, sê sy, “ek was nog altyd ’n kleindorpse meisie”.

Rosa se eerste digbundel, Hystera, verskyn in 1974 by Perskor. Die resensent van Rapport (23 Februarie 1975) skryf: “SedertElisabeth Eybers se vroeë bundels was daar nog nie weer ’n versbundel wat so in sy geheel gevorm is deur, en aangewys is op, die ervaring van moederskap soos Hystera nie.

“Vanaf die titel, wat afgelei is van die Grieks vir baarmoeder, deur al drie onderafdelings – ‘Hystera’, ‘Hysterikos’ (die adjektiefvorm) en ‘Hysterektomia’ – tot by die slotgedig, ‘Inlywing’, vind die bundel sy raison d’être in die moederskap: swangerskap, geboorte, kind grootmaak, terughunker na die voorgeboortelike syn of kindskap, ervaring van kind-moeder- of moeder-kind-verhouding, selfs in die mens se ondersoek na sy plek in ’n/die land of wêreld.

“Daar is voortreflike gedigte in die bundel, maar oor die algemeen is die bundel stroef en vlak, met ’n hinderlike gebrek aan integrasie,” volgens Rapport se resensent.

En hy sluit sy bespreking af: “Op die oomblik is Rosa Keet net nog een van die ‘also-rans’ van ons jonger poësie. Maar dat sy tot sterker en noodwendiger verskuns sou kon ontwikkel, getuig die handjie vol afgeronde verse in haar bundel wel.”

SE van Zyl (Suidwester, 21 April 1975) is egter ’n ander mening toegedaan: “’n Mens sou die gedigte in hierdie uitstekende debuutbundel samevattend kan beskryf as gedigte oor moederskap – in die mineur-toonaard beskryf. Daar is in hierdie gedigte geen oordrewe sentimentaliteit nie, maar ’n nugter aardsheid wat soms oorslaan in ’n skerp ironie. (…) Beheersdheid, tesame met ’n ambivalente woordgebruik wat betekenisse om woorde laat uitkring, is kenmerke van hierdie poësie. (…) In die geheel gesien ’n bundel wat van diep gevoel, tegniese vaardigheid en beheersdheid van vormgewing getuig.”

En in Cape Times van 23 Julie 1975 skryf Jan Rabie: “This volume is dedicated almost entirely to pregnancy and birth. It is not only new, this proud singing of a young woman from out of the belly of motherhood, but it is full of flashes of originality and real lyrical fire. The worst one can say is that the ‘field of reference’ is somewhat limited. None the less an exciting debut.”

Met haar volgende bundel Boom van kennis (Perskor, 1976) is die gegewe aanvanklik dieselfde as in haar debuutbundel, naamlik “die situasie van die mens as seksuele wese: hier nie soseer beleef in die persoon van verwagtende vrou of moeder nie, maar in die komplekse verhouding van man en vrou,” skryf André P Brink. (Rapport, 20 Junie 1976)

“En dan ook régtig kompleks, omdat die gedig hierdie verhouding as mitiese en ook as ritualistiese situasie ontgin: as element in ’n voortdurend herhaalde en herhalende skeppingsproses; as gegewe tussen génesis en openbaring; as verbintenis van bónatuurlike en natuurlike, maar ook van óndernatuurlike en natuurlike; as spanning tussen saam-lewing en afsonderlikheid; as botsing én versoening van generasies; as skeppende liefde én vernietigende geweld; as vertroue én agterdog; as vraag en antwoord, aksie en reaksie, beweging en teenbeweging ... uiteindelik met ’n verbintenis van hooglied en elegie.”

Brink noem dit “gedig” eerder as bundel, “want dit kom my voor as een ontwikkelende geheel, omsluit deur ’n (kursief gedrukte) openingslied en sluitsang waartussen alles voltrek word, en daarbinne dan ’n reeks liriese ‘gesprekke’ tussen ’n hom en ’n haar. (…)

“Op sy minste ’n hoogs boeiende en vernuftige stuk werk, met baie vaardige komposisie en ’n bestendige hantering van ’n gedrae inkantatiewe toon. Maar nou lê daar ook juis in dié toon vir my gevare: dat dit nogal eenselwig word; dat dit ’n te maklike soort vers op die ‘model’ van Hooglied word; dat vernuf uit sy eie reg by wyle gedemonstreer word. Dat daar ’n argaïese kwaliteit in die opset skuil, is sekerlik funksioneel. En tog is daar ’n wesenlike vraag omtrent die blote lewensvatbaarheid van die mite of mitiese materiaal in ons tyd. (…)

“Uit die pen van so ’n jong digteres is dit ’n hoogs ambisieuse onderneming wat getuig van besonderse vaardigheid: ’n wil tot diepgang en ’n sin vir afronding wat heelwat van haar tydgenote haar kan beny.”

Ook Ronél van der Merwe (Volksblad, 28 Oktober 1976) is beïndruk met Rosa Keet se tweede bundel. Dit is vir haar ’n aangename verrassing – “struktureel is dit beter afgerond as Hystera en wat die ontginning van die mitiese gegewe betref, word dit oor die algemeen met ’n sekerder hand gehanteer. Dit is in meer as een opsig ’n voortsetting van die tematiek en struktureringstegniek van Hystera, maar die jongste bundel is meer geraffineerd en kompleks as die debuutbundel. (…) In die geheel gesien is dit ’n verdienstelike bundel met genoeg belofte dat dieper selfstandige deurleefde werk kan kom.”

Boom van kennis is ’n bundel wat imponeer,” skryf Niel van Tonder. (Beeld, 19 Julie 1976) “Wat ’n mens veral opval, is Rosa Keet se vermoë om selektief om te gaan met so ’n ryke verskeidenheid van stof, dit te verwerk en iets eiesoortigs voort te bring. Dit is véél beter as haar eerste maar ook véél daaraan verskuldig. Mens kan selfs beweer: indien Boom die vrug is, dan het konsepsie van dele daarvan reeds plaasgevind in Hystera.”

Vir Hans du Plessis (Die Vaderland, 24 April 1980) is Rosa se derde bundel, Hier kan ons asemhaal, wat in 1979 deur Human & Rousseau uitgegee is, nie ’n sommerleesbundel nie. “Daarvoor is die simboolverwysing te gekompliseerd. (…) Die sentrale tema van die bundel is myns insiens die menslike bestaan; of dan ’n protes teen die feit dat ons bestaan. In hierdie opsig is dit ’n bundel protesverse, maar dan nie politiese protesverse nie, maar bestaansprotesverse. Die futiele afloop van die menslike bestaan is vir die digter een vorm van geweld en dit is hierteen dat die verse protesteer:

“Ek haat die maskers van vorm en styl
ek is tot die dood toe moeg vir die metafoor
ek vermoor die simbool en verkrag die rym:
kyk, ek skryf ’n a-politiese protesgedig
oor geweld.

“Die bundel is in vier afdelings ingedeel en die temas vir die afdelings is die vier elemente, grond, water, lug en vuur onderskeidelik. (…)”

Du Plessis meen dat die bundel swaar dra aan ’n simboollas, “maar die verwysings is vir sy gevoel goed by die verse geïntegreer. Die integrasie van beeld en poësie is nie oral ewe geslaagd nie en die verwysings wat die digter gebruik, kon soms verstegnies sterker beklemtoon gewees het deur die gebruikmaking van tegnieke soos rym, alliterasie en enjambement. (…) Ten slotte is dit wat my betref nogtans ’n geslaagde bundel waarin die positiewe elemente die negatiewe oortref en waarin daar selfs vir die gewone leser leesbare en genietbare verse voorkom.”

Ronèl Johl (Volksblad, 24 Januarie 1980) se slotindruk oor Hier kan ons asemhaal kan die beste opgesom word in die volgende beeld: “Die gedig kan gesien word as die gestalte van helder water in ’n houer van geslypte kristal waarin die omringende werklikheid op wonderlike en soms verwronge wyses opgevang is.

“In Rosa Keet se gedigte word die perspektief van gestalte dikwels so versteur dat die leser alleen die rimpelende water raaksien en dan na die omringende werklikheid moet opkyk om te sien wát in die gedig opgevang is. In die eerste geval gaan dit om die werklikheid soos wat dit in die gedig opgevang is; in die tweede geval is gedig en werklikheid twee aparte entiteite, waar die gedig na analogie van die werklikheid vertolk moet word.

“’n Mens sien uit daarna dat Keet in haar volgende bundels die gehalte van die verse in Boom van kennis sal handhaaf, want in Hier kan ons asemhaal slaag sy ongelukkig nie daarin nie.”

In Die Burger van 31 Januarie 1980 is Fanie Olivier die resensent en vir hom is die oorwegende indruk van dié bundel as volg: “Dié van ’n nugter en gestroopte vers wat verwys na breë agtergrondsmateriaal maar dit terselfdertyd onbenut laat. Dit is asof die verwysingswêreld telkens ingevoer word sonder om daadwerklike betekenis daaraan te gee: ’n soort intellektuele anargisme! (…)

“Hoewel Hier kan ons asemhaal (soos sy voorganger) ryk gelaai is met ’n sentrale idee, is daar te veel verse wat ’n mens nog omgekrap laat na die lees. Sommige verse dra te swaar aan verwysingsmateriaal wat maar gelaat kon gewees het en ’n mens voel ’n gebrek aan klankbinding in baie van die verse sterk aan. Verstegnies moet ’n mens ook wys op die willekeurige en onverantwoordelike gebruik van hoof- en kleinletters: by ’n derde bundel kan ’n mens immers verwag dat die digter reeds oor die funksie daarvan duidelikheid sal hê.

“Nogtans moet ’n mens erken dat Rosa Keet in hierdie bundel bewys dat sy van die jonger skrywers die duidelikste daarin slaag om ’n sentrale idee in ’n bundel te verwerk, om ’n bundel-metafoor te vind en dit te bly ontgin sonder om in die ek verstrengel te raak.

“Hoewel ’n mens by tye sukkel om deur die stof by die vars lug uit te kom, kry ’n mens ten slotte tog die gevoel dat jy hier ’n wêreld raakloop waarin jy graag kan asemhaal.”

Rosa se laaste bundel tot op hede is Spookstories, wat nege jaar ná Hier kan ons asemhaal in 1988 deur Human & Rousseau gepubliseer is. Reeds uit die groepering van vyf afdelings met vier afdelingtitels (“Stoelstories”, “Die heldedade van Herklaas”, “Grondgedaantes” en “Die Gog Legende”) is dit duidelik dat vertelling, fantasie en mite ’n belangrike rol in die versameling sal speel.

Joan Hambidge (Insig, Maart 1989) beskou Spookstories as ’n enorme verbetering op Rosa se vorige bundels. “Haar vorige verse was nog altyd ’n iets té steriel, ’n iets té gestroop; verse sonder vonk. Maar in Spookstories – ’n ambisieuse bundel in opset – kom die deurbraak. Spookstories – met ’n pikswart omslag – kan as ’n mitologiese bundel gelees word.”

Hambidge meen dat die tweede afdeling, “Stoelstories”, van hierdie digteres se vernuf getuig. “Op ’n verbluffende wyse word die digterlike kreatiwiteit verbind met iets so gewoon as ’n stoel en hoe die spreker hierdie voorwerp ervaar. (…)

“Die derde afdeling, ‘Die heldedade van Herklaas’, borduur op vindingryke wyse rondom die Hercules-mite. Die gegewe word in Afrika-konteks geplaas en die herhaling van die ‘net so-net so’-refrein dui op die vertelaksie, met ander woorde dat hier uit oorlewering ’n verhaal oorgegee word. (…)

“In ‘Grondgedaantes’, die vierde afdeling, gaan dit oor die skryfproses, sy beperkinge én vreugdes. Ook die liefde en verhoudings kom hier aan bod. Die digteres is op haar beste wanneer sy ’n bekende mitologiese of filosofiese gegewe herskryf, ’n verhaal ‘vertel’, en so meer. Haar verse oor die taal en skryfproses is vir Hambidge minder verdienstelik, hoewel nie swak nie. (…)”

Hambidge sluit af: “Die meerduidigheid van die simboliese lae én Keet se spel met die mitologie is dan bepaald ’n wins in hierdie bundel.”

“Van verveeld na verskrik” is die opskrif van Wilhelm Liebenberg se resensie van Spookstories in Vrye Weekblad (4 Augustus 1989): “Tussen die pikswart buiteblaaie van hierdie netjies versorgde bundel vind mens ’n rare mengsel van filosofie en fantasie, met heelwat ironiese humor.

“Uit ’n aantal gedigte wat wemel van filosofiese gemeenplase blyk duidelik dat die digteres ’n probleem het met kommunikasie: ‘hoe moes ek raai / dat die rangskik van begrippe / my nie noodwendig / verstaanbaar maak nie’, bekla sy haar lot. Gebrek aan kommunikasie word verder weerspieël in ’n meer algemene gebrek aan sinvolle verband: ‘elke fenomeen / staan alleen’, skryf sy. Sy ‘sit en wag vir net een / tydlose gedagte’. (…)

“Dit is ’n problematiek wat die laaste tyd al hoe algemener word in die Afrikaanse poësie. Naas die grensverhaal is daar naamlik ’n ander tema aan’t ontwikkel – dié van die Afrikaner wat nie meer tuis voel in die ou bestel nie, maar nog te onvertroud is met die alternatief om daardeur met hoop eerder as vrees vervul te word.

“Die wêreld van filosofiese probleme en fantasmagoriese fantasie waarin Rosa Keet haar terugtrek in hierdie bundel terwyl die oue én die nuwe by haar spook, is ’n teken van die tye. Van daardie ‘een tydlose gedagte’ waarop sy sit en wag, getuig dit nie.”

En Pieter van der Lugt sluit sy bespreking van Spookstories in Die Burger van 22 Desember 1988 só af: “Spookstories is danksy ’n individualistiese aard en verskeie sterk oomblikke ’n bundel wat nie geïgnoreer kan word nie. Minder lonend, egter, is ’n poging om die soms erg esoteriese beelde behoorlik te deurgrond. Dit is ’n werk wat een oomblik aantrek en die volgende oomblik vervreem. Maar dalk maak juis dié onvaspenbaarheid Spookstories die lees werd.”

Rosa vertel in De Kat van September 1997 dat haar “soetsonde” dobbel is, so een maal elke ses maande. “Ek wil gewoonlik te lank bly, ek wil so half oorslaap. Dan dobbel ek gewoonlik alles uit. As ek iets wen, dobbel ek dit ook weg. Dit voel soos wanneer jy op die rand van ’n afgrond staan en al jou geld in die gat afgooi.”

Die dagblad Beeld (28 Mei 2001) het Rosa gevra watter boek haar lewe verander het. Sy reageer as volg: “Die konsep van ’n boek wat my lewe verander het, is ’n betreklik relatiewe begrip, want elke boek wat ek al gelees het, het op sy eie manier my lewe verander. Daar is ’n assimilasieproses, want boeke word omring deur ’n energieveld half soos Obi-Wan Kenobi se ‘force’ wat die heelal saambind.

“Boonop is ek ’n wilde leser. My bedtafeltjie het altyd drie of vier boeke wat ek gelyktydig lees en vyf of ses wat wag om gelees te word. Ek lees alles wat voorkom. Insluitend kartonhouers en ‘Ripley’s believe it or not’ op kougompapiertjies, want ’n mens leer so baie soos byvoorbeeld: Het jy geweet dat, as elke enkele Chinees in die wêreld gelyktydig van ’n bankie van ’n meter hoog afspring, sal dit ’n vloedgolf veroorsaak wat die hele New York sal vernietig? En dit is relatief gesproke minder goed: want sê nou hulle probeer dit?

“Een van die boeke wat ek op die oomblik (2001) lees, is E = MC deur David Bodanis. Dit is die ‘biografie’ van Einstein se vergelyking. Einstein was erg gefassineer deur onbekende dinge. Hy wou ons heelal in al sy fasette verstaan. Hy het gesê: ‘We are in the position of a little child entering a huge library, whose walls are covered to the ceiling with books in many different languages ...’

“Bodanis kyk na die stamvaders van die elemente ‘e’, ‘m’ en ‘c’ en na al die voorloperwetenskaplikes en uitvindsels wat die stene was waarmee Einstein sy teorie kon bou. Hy verduidelik die teorie op só ’n eenvoudige en duidelike manier dat ek dit vir die eerste keer verstaan. Ek vertaal en verkort dit ’n bietjie, maar hy sê: ‘Wanneer jy ’n kasdeur toemaak, ontstaan daar energie in die beweging van die deur, maar presies dieselfde hoeveelheid energie word weggeneem uit jou spiere. Ook wanneer die deur toeswaai, verdwyn die energie nie. Dit word slegs verplaas na die stamp van die deur teen die kas en die hitte wat in die wrywing van die skarniere ontstaan. As jy jou hak effens vasskop om nie te gly nie terwyl jy die deur toeswaai, sal die aarde effentjies uit sy wentelbaan skuif en weer terugspring met presies die hoeveelheid energie om dit te balanseer ...’

“En nou weet ek dat as en indien al die Chinese regtig op dieselfde tyd spring may the Force be with you!

Publikasies:

Publikasie

Hystera

Publikasiedatum

1974

ISBN

0628006764 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hystera deur Rosa Keet. Oggendblad, 1 Mei 1975 (resensent onbekend)
  • Hystera deur Rosa Keet. Rapport, 23 Februarie 1975 (resensent onbekend)
  • Rabie, Jan: New Afrikaans poetry. Cape Times, 23 Julie 1975
  • Van Zyl, SE: Hystera. Suidwester, 21 April 1975

 

Publikasie

Boom van kennis

Publikasiedatum

1976

ISBN

Johannesburg: Perskor

Uitgewer

0628009739 (hb)

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boom van kennis. Oosterlig, 6 Oktober 1976
  • Brink, André P: Boeiende, vernuftige nuwe Rosa Keet. Rapport, 20 Junie 1976
  • Goosen, Jeanne: Gunstige kritiek. Hoofstad, 3 Junie 1976
  • Grobler, Hilda: ’n Spieël van die wit godin. Hoofstad, 25 Junie 1976
  • Olivier, Gerrit: Boom van kennis toon groot belofte. Oggendblad, 30 September 1976
  • Van der Merwe, Ronél: Rosa Keet – Boom van kennis. Volksblad, 28 Oktober 1976
  • Van Tonder, Niel: Die kiem en die kwyn. Beeld, 19 Julie 1976
  • Villo, Ray: Oor boeke. Tempo, 24 September 1976

 

Publikasie

Hier kan ons asemhaal

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798110066 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plessis, Hans: Keet-bundel lees ’n mens nie sommer. Die Vaderland, 24 April 1980
  • Grobler, Hilda: Keet se bundel in geheel nie geslaagd. Hoofstad, 29 Mei 1980
  • Johl, Ronèl: Tema nie volledig ontgin. Volksblad, 24 Januarie 1980
  • Olivier, Fanie: Wêreld waar mens kán asemhaal. Die Burger, 31 Januarie 1980
  • Olivier, Fanie: Wêreld waar mens kán asemhaal. Oosterlig, 13 Maart 1980
  • Roets, Ninon: Sy flankeer met woorde. Beeld, 4 Augustus 1980

 

Publikasie

Spookstories

Publikasiedatum

1988

ISBN

079812458X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: Deurbraak vir Rosa Keet. Insig, Maart 1989
  • Hambidge, Joan: Gedigte verdien nie dié kritiek. Beeld, 22 Mei 1989
  • Liebenberg, Wilhelm: Van verveeld na verskrik. Vrye Weekblad, 4 Augustus 1989
  • Van der Lugt, Pieter: Keet se jongste kan nie geïgnoreer word. Die Burger, 22 Desember 1988
  • Van der Lugt, Pieter: Keet se jongste vra aandag. Volksblad, 7 Januarie 1989
  • Van Niekerk, Marlene: Plaaslike onheil nie deel van digters se verwysing. Die Suid-Afrikaan, Februarie 1989

 

Artikels oor en deur Rosa Keet:

Rosa Keet se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-05-22 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top