Innibos 2018: Rol jy ROF of rol jy RUSTIG ... dit is die vraag

  • 1

Innibos is bekend vir die grootste opelugmusiekkonsert in Suid-Afrika. Dis nou die Saterdagaandkonsert op die hoofverhoog met ’n volledige orkes, choreografie en vuurwerke. Maar mettertyd het die fees organies gegroei om meer te bied vir ’n wye belangstellingsveld. Vir die kulturele fynproewer is daar ’n rustiger program wat denke voed in ’n stil omgewing. So, as die massas wat rof rol nie jou “ding” is nie, hou moed, jy kan rustig ook rol.

Innibos skop vanjaar vir die 15de keer af vanaf 27 tot 30 Junie 2018 in Nelspruit, Mpumalanga.

Soos genoem: een en almal vind vir hul feesvoete ’n tuiste, hetsy die opskoppers, grapjasse, kunstenaars, musiekliefhebbers, boekwurms, kunsvlyters, koekbakkers, natuurliefhebbers, gholfspelers, woelwaters en natuurlik die literêre fynproewer. Dan kom die Gin-proe, ’n boerderytoer en Klassieke Kamers, verskeie kunsuitstallings- en besprekings en kunsflieks daarby en ... en ... eenvoudig net te veel om op te noem!

Die siele wat verkies om rustig te rol sal bly wees om te verneem dat daar ’n boekefees by Hoërskool Nelspruit se Kultuursentrum gehou word, waar hulle in ’n pragtige ruimte kan ontspan. Op die perseel is daar boeke te koop, indiepte boekgesprekke word gehou en die bekende Laevelders Anton en Esra Bosch se keramiek word daar uitgestal. Daar is ook koffie en heerlike kos beskikbaar. Toegang tot die Boeke-oase is gratis en daar is oorgenoeg parkering.

’n Kinder-storie-krôl word op dieselfde perseel gehou. Dit is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en was ’n blitssukses. Buiten die uiters gewilde Boeke-crawl sien ’n komedie-crawl ook in 2018 die lig by Inwenyama Lodge. Die Boeke-crawl word vanjaar by die Sudwala Grotte gehou en Woorde Innituin by Suikerbossie Teetuin. Vir die tearterliefhebbers sal daar 15 toneelstukke by verskeie verhoë in die dorp op die planke wees.

Vir die rowwe rollers word die feesterrein in ’n “dorp” omskep met sy eie infrastruktuur (krag, riolering, sekuriteit, strate) wat jaarliks op die gronde van Hoërskool Bergvlam gebou word. Daar is kuierareas, ’n bosmôl met 200 kunsmarkstalletjies, waarvan 67 vanjaar vir die heel eerste keer kom kuier, die kunspark met ’n teetuin en rustige musiekvermaak, asook die Boma Kuierteater wat uit sy nate begin bars.

Terloops, as nie eens een van dié jou ding is nie, kan jy gaan gholf speel of York Timbers se “geheime waterval”-toer meemaak.

Gaan bekyk gerus die volledige feesprogram by www.innbos.co.za vir nog inligting.

Ek het met die Innibos-wenspan gesels en die geesdrif is aansteeklik!

“Die feesganger, die kunstenaar en die uitstaller is waarom alles draai. Vir ons gaan dit daaroor om die beste te wees, voortreflik te wees en volhoubaar te bly. Van die eerste dag af kon die balans tussen kostes en inkomste gehandhaaf word. Nie ’n maklike taak nie, aangesien dit ons beleid is om kunstenaars so goed moontlik te vergoed en mooi na hulle om te sien,” vertel Andy Lubbe wat die visie gehad het om Innibos te begin.

Andy Lubbe

Vyftien jaar het verloop sedert dié driemalige wenner van die gesogte Fiësta vir die Gewildste Fees begin het en Innibos rol al vinniger. Met die eerste toekenning in 2012 het Innibos R50 000 losgeslaan wat net so in die gemeenskap teruggeploeg is.

Van ’n totale 25 000 besoekers vir die eerste fees het dit nou tot sowat 100 000 besoekers gegroei, ongeag die wisselvallige ekonomie. Innibos het sy eie identiteit ontwikkel wat hom al dieper in die hart van die Laevelder en die feesganger ingrawe. Daarby is die klimaat ’n groot vennoot en natuurlik is die wenspan na 15 jaar nog net so geesdriftig soos destyds. Die oorspronklike bestuurspan werk nog steeds saam en brei tans uit om die resep tot sukses in die volgende geslag neer te lê deur jonger assistente aan te stel.

Mariolise le Roux, bemarkingsassistent

Alles het begin toe Andy, destyds deeltydse sanger en boer met ’n groot liefde vir musiek, besluit het dat die Laeveld sy eie fees broodnodig het.

Andy:

Een en almal wil mos net see toe gaan vir vakansie, maar hier sit ons in die pragtige Laeveld met die beste winterweer! Kultureel het daar destyds nie veel aangegaan nie. Die fees is dus om hierdie rede geskep en ons is baie bevoorreg om ’n bydrae te lewer tot die kultuurlewe en toeristebedryf in die Laeveld.

Hoe keer ’n mens dat die momentum nie afneem nie, trouens dat dit al wyer uitkring om meer voorkeure in te sluit, selfs grense oor te steek en steeds gesog te bly?

Andy:

Ons het van die begin af met ’n tema gewerk. Die fees het organies gegroei en telkens word ’n nuwe invalshoek met ’n nuwe tema uitgedink. Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe die gemeenskap ook inkoop op die tema. Plaaslike besighede sal dit byvoorbeeld in hulle bemarking inkorporeer. Die 2010-tema “Ingeprop” was my idee toe ons tussen die wêreldbeker-sokkertoernooi en Kersfees moes inpas! Maar in September is dit reeds ietwat te warm, daarom hou ons by wintermaande.

Nog ’n been van die wenresep kom van Innibos se mede-stigter, Sandra Jacobs.

Sandra Jacobs

Sandra:

Ons wou van meet af aan gewone goed buitengewoon goed doen. Dis my hartsding om elke jaar op die vorige jaar te verbeter. Ons ding met onsself mee. Dit gee ons energie om elke jaar verlede jaar se grense oor te steek en die pakkie vars op te maak, nuut te maak en met ’n verrassing aan te bied. Ek wil telkens met nuwe oë kyk, anders, beter, lekkerder, goedkoper en meer oorspronklik wees.

En dis hoe Innibos rol!

Verskeie dinkskrums of eerder breinbollemakiesies word gehou na afloop van die fees om idees te oes vir die komende jaar se fees. Terme soos rol jy rof of rol jy rustig en breinbollemakiesie is juis voorbeelde wat ontstaan as ander skeppende geeste ingetrek word by die beplanning.

Die talle take wat voorlê nadat daar op ’n feesprogram besluit is, word deur kundiges op elke gebied behartig.

Een so ’n span wat die enorme taak van Produksies behartig, is die gedugte ma-en-dogterspan, Philna Scholtz (Produksies) en Adelene Niehaus (Kunstenaars).

Philna Scholtz en Adelene Niehaus

Philna:

’n Allemintige 72 produksies is met die eerste fees op elke moontlike verhoog in die Nelspruitomgewing aangebied! So algaande het Innibos ’n identiteit van sy eie gekry en het die program verander en uitgebrei om aan meer voorkeure te voldoen.

Ek probeer elke jaar slimmer te werk gaan; vindingryker, om meer koste-effektief te wees en sake gladder te laat loop. Ons bespreek meer as 1000 bednagte vir al die kunstenaars. Elkeen weet waar hy bly, wanneer hy waar moet wees vir optredes en talle ander detail.

Kunstenaars werk gewoonlik vir ’n loketinkomste en dus is dit belangrik om eerder minder produksies op die planke te bring, maar te sorg dat die sale vol is. Die balans in ʼn program is geweldig belangrik.

By die keuring van produksies word baie kriteria in gedagte gehou, soos die toeganklikheid van die produksie, die grootte van die rolverdeling en die grootte van die stel.

Ek woon jaarliks ander feeste by en peil onder die gehore waarvan hulle gehou het al dan nie. Daar is egter ruimte vir meer ernstige teater, maar weens ons beleid om die akteurs te vergoed met die verkope, moet ons maar versigtig kies om dit vir hulle die moeite werd te maak.

Vandat ons boekprogram uitgebrei het, lok ons nou ook die ernstiger feesganger en groot skrywers. Verlede jaar was Etienne van Heerden, Dolf van Niekerk en Bibi Slippers hier om boekgesprekke met lesers te voer.

Al hierdie aspekte van die program maak dit uiters uitdagend om die aanbiedinge te sinchroniseer. Die span sit koppe bymekaar sodat sake vlot kan verloop en aangesien beide Adelene en Philna uiters georganiseerd en agtermekaar is, vloei al die reëlings teen ’n snelle tempo.

Om die kroon te span, maak Adelene hierdie jaar ook haar debuut as regisseur van die rockprogram wat sedert 2016 Donderdagaande op die hoofverhoog ruk en rol.

Nog twee steunpilare van die Innibos-bestuur is Pippa Botha en Alison Linde.

Pippa Botha

Pippa bestuur die borgeportefeulje en is die een met die logistieke brein. Sy bly onder meer op hoogte met veranderende regulasies en wette, byvoorbeeld rakende die pendeldiens. Daar is tussen 70 en 80 borge per jaar wat elkeen die regte blootstelling moet kry en dis haar taak om die borg se behoefte met die fees se behoefte te laat klop. Nie ’n maklike taak nie! Pippa is prakties en ’n goeie onderhandelaar.

Pippa:

Dis my werk om te sorg dat wat Andy en Sandra met borge ooreengekom het, gebeur. Ek moet as’t ware van buite af op ’n holistiese manier na die fees kyk, die werkbaarheid van die oogmerk prakties uitvoer. Glo my, dit kan nogal ’n uitdaging word!

Alison is die brein agter die Bosmôl.

Alison Linde

Alison:

My groot liefde is die uitstaller. Ek hou daarvan om hulle te bederf en die aand voor Innibos se hekke open, hou ons ’n groot onthaal vir ons uitstallers. Nie minder nie as 600 mense kry ’n aansit-ete. Vriendskapsbande word gesmee, geskenke word uitgedeel, daar word gedans en fees gevier.

Hierdie jaar is daar ’n ontploffing van kleur (groen, geel, blou en rooi) en nie net die stalletjies nie, maar ook die hele feesterrein word in die kleurtema opgemaak en versier. Daar moet ’n karnavalgevoel heers!

Ons probeer elke jaar om unieke en nuwe produkte in te bring en hou dit sover moontlik kunsverwant. Die kosstalletjies sluit talle lande se kossoorte in, soos Meksikaanse, Griekse, Duitse, Nederlandse, Italiaanse en Sjinese kos. Die bekende Hezron van Sumting Fresh wat sing terwyl hy kos maak is ook daar. En vir die eerste keer, Japannese pannekoeke. Glo my, dit gaan ’n groot verrassing wees!

Vir my uitstallers, doen ek enige ding. As hulle vra, skuif die son, dan doen ek dit.

En daarmee word die hele fees opgesom. Kom rol saam! Die lieflike Laeveldson alleen is rede genoeg om die koue stede vir ’n paar dae agter te laat!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top