Rocky Balboa: ’n filmverslag

  • 0

Ek was so agt jaar oud toe my suster my vertroulik vertel sy het by maatjies Rambo I gekyk en hoe onverskrokke Rambo was. Vyftien jaar later het ek die fliek self gesien en is sedertdien in die Stallone-kamp.

As ek reg onthou, was Sly Time se “Person of the year” in 1981 nadat hy Rocky I self geskryf en in die hoofrol gespeel het en dit verskeie Oscars verower het. ’n Kort sinopsis: Hy ontmoet sy toekomstige vrou Adrian as hy “toevallig” instap by haar troeteldierwinkel en aanbied om saam met dié skaam meisie huis toe te stap. Sy word dan ook sy grootste inspirasie om 12 rondes staande te kan bly teen die wêreldkampioen. Hy vang daardie ikoniese beeld vas van die hardloop op teen die trappe van die Philadelphia Museum of Arts (ook bekend as die Rocky Steps). Dit is so treffend dat ontelbare mense dit al nagemaak het – die simboliek van ’n persoonlike oorwinning oor ’n uitdaging wat jy moes oorkom. Dis dan ook uiteindelik Adrian se gesig in die skare wat hom, papgeslaan in die ring, staande hou.

Terug by Rocky VI. Die man is afgetree, Adrian is oorlede aan kanker en Rocky gaan sit elke oggend 5:30 op ’n opvoustoeltjie voor haar graf. Dan gaan werk hy by sy restaurant (Adrian’s) en vertel boksstaaltjies uit vervloë dae aan lojale besoekers.

Skip deur die plot van ’n wêreldkampioen wat hom moet uitdaag ens, en fokus eerder op die hoop wat sy legende aan ander gee. Die storie is eenvoudig: Rocky gaan oefen en wen, korrek?

Intussen kry hy ’n blerrie mufbrak uit die SPCA en nou hardloop hy en Punchy die Rocky Steps uit, die een meer hygend as die ander. Albei lankal verby hul beste. Ek is naby aan grens.

Dis die geveg. Sy vervreemde seun, pasafgedankte vriend van 40 jaar en ’n vrou wat hom sterk herinner aan Adrian, is in sy hoek. Hulle gun hom twee rondes om staande te bly. Dis hier waar die Stallone magic intree: hy trek jou in as vierde lid van die Rocky-kamp en jy voel elke hou wat uitgedeel word. Die intensiteit en oorskakeling na swart en wit verander die laaste ses rondes in ’n Gladiator-tipe-ervaring.

Maar Rocky verloor. En dis oukei. Hy het als wat die lewe na sy kant toe gegooi het, trotseer en met bebloede, dikgeswelde oë steeds staande anderkant uitgekom. Die skare skree sy naam tot hulle hees is; hulle herken in hom hul eie stryd.

Die fliek eindig en in die “credits” is daar video’s van mense wat ook deur die Rocky-films geïnspireer was, sodat hulle ook self die Rocky Steps ophardloop, miskien as oorwinning van hul eie uitdagings. Toe is dit “Jesus take the wheel” aan my kant, want ek sukkel om te bestuur deur al die trane.

Kortliks: Rocky VI is nie ’n fliek oor boks nie, maar oor ’n bokser. Nie oor wen nie, maar oor oorlewing. Die legende is dalk nie wat jy bereik nie, maar waarvoor jy bereid is om op te staan.

Al wat ek weet, is dat as die ander Rocky-flieks so intens is, is ek moer toe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top