The Rockets piekniekkonsert by die Taalmonument Tuinteater

  • 0

Die gewilde R&B/popgroep The Rockets tree op Vrydag 27 Januarie 2017 as deel van die Tuinteater Piekniekkonsertreeks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op. Dié piekniekreeks is ten bate van Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Laat ons Lees!-projek vir kinders.

The Rockets is ou bekendes op menige radiostasie en veral liedjies van hul Afrikaanse album, waaronder “Namakwa daisy” en “Ek is lief vir jou”, word gereeld gehoor. Hulle is ’n SAMA-genomineerde groep wat reeds die verhoog vir verskeie internasionale kunstenaars geopen het en hulle het reeds in Australië, die Midde-Ooste en Afrika opgetree. 

Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies (verkieslik geen glas) en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R30 vir kinders onder 13 jaar. Geen rook en stoele word in die Tuinteater toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekkonsertreeks sluit ook die volgende  vertonings in: ’n Valentynskonsert (met onder andere André Schwartz op 14 Februarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017), Coenie de Villiers, Hemelbesem en Yoma (18 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

  • Foto: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top