
Foto van die Robert Sobukwe-standbeeld by Canal Walk in Kaapstad langs Danie van Wyk: verskaf
Robert Mangaliso Sobukwe was ’n antiapartheidsrevolusionêr en stigter van die Pan Africanist Congress. Hy is op 5 Desember 1924 in Graaff-Reinet gebore en het sy tersiêre opleiding aan die Universiteit van Fort Hare ontvang, waar hy ’n BA-graad verwerf het. Hy het op ’n stadium onderwys gegee, maar is spoedig verbied as gevolg van sy politieke bedrywighede.
Sobukwe het bekendheid verwerf met die organisering van die vreedsame protesaksies teen die gehate paswette. Dit het begin as ’n veldtog wat protes aangeteken het teen die dra van pasboeke waarvolgens swart mense verplig was om dit buite die tuislande te dra, wat van hulle effektief vreemdelinge in Suid-Afrika gemaak het. Hierdie paswette het instromingsbeheermaatreëls toegepas wat verhoed het dat swart mense “wit” gebiede as ongedokumenteerde migrante binnegekom het en op verblyf en werk aanspraak gemaak het. Dit was ’n stelsel wat algehele beheer oor die beweging en werksgeleenthede vir swart mense gehad het.
Die apartheidsadministrasie onder die leiding van Hendrik Verwoerd, het op hierdie wyse groter rasseverdeling tot gevolg gehad.
As beginselvaste leier was Sobukwe teen kolonialisme en apartheid gekant, maar het tot vandag toe nog nie die aandag en erkenning ontvang wat hy verdien vir sy bydrae tot die stryd teen, en val van, apartheid nie.
As leier wat die wegbreekaksie van die ANC in 1959 gelei het, was hy die eerste verkose president van die PAC. ’n Nuwe bedeling het ontstaan in die Suid-Afrikaanse politiek wat gelei het tot gewelddadige optrede deur die apartheidsregime om dit te probeer onderdruk. Die bekende Sharpeville-opmars wat tot die dood van 69 persone gelei het, en waartydens vele gewond is, insluitend vroue en kinders, was die begin van wat tot die isolasie van die apartheidsregering gelei het. Sobukwe is gedurende die opmars in hegtenis geneem. Voor die stigting van die PAC was hy ’n dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was ’n hoogs intelligente leier wat respek oral afgedwing het met sy imposante figuur en welsprekendheid.
........
Hy was ’n sterk voorstander van “Africanism” en het geglo dat almal wat in Afrika woon en toewyding tot Afrika getoon en uitgeleef het, as Afrikane erken moet word.
........
Hy was ’n sterk voorstander van “Africanism” en het geglo dat almal wat in Afrika woon en toewyding tot Afrika getoon en uitgeleef het, as Afrikane erken moet word. Die apartheidsregime het hom as ’n gevaar vir orde en gesag gesien. Hy is ná die Sharpeville-opstand in hegtenis geneem, aangekla van aanhitsing, verhoor, skuldig bevind en tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is later van Pretoria na Robbeneiland oorgeplaas, waar hy die res van sy tronkstraf uitgedien het. Daar sou hy geen kontak of interaksie met ander gevangenes soos Nelson Mandela en ander hê nie.
Wat van groot belang is, is die feit dat die parlement wetgewing in 1963 aanvaar het wat sy aanhouding outomaties, aan die einde van sy oorspronklike aanhoudingstermyn, met ’n verdere ses jaar verleng het. Dit staan bekend as die Sobukwe Clause onder die General Law Amendment Act. Dit het ook beteken dat aangehoudenes vir ’n onbepaalde tyd aangehou kon word. Die VN het hom tydens ’n spesiale sitting verklaar tot “Prisoner number 1 on Robben Island”. Die Sobukwe-klousule is nooit aangewend om ander Suid-Afrikaners aan te hou nie. Dit is egter jaarliks op 30 Junie hernu.
Sobukwe is afsonderlik en in eensame aanhouding gehuisves. Die geboue wat die “Sobukwe-kompleks” uitgemaak het, was gedurende die Tweede Wêreldoorlog opgerig as wooneenhede vir militêre personeel. In die 1960’s is dit gebruik as ’n skool vir bruin leerders van bewaarders op die eiland. Sobukwe het vertoë tot die owerhede gerig en kon ’n radio in sy kwartiere hê, en het later verskeie tydskrifte ontvang vir leesgenot. Die gesondheidseenheid is as sy huis ingerig, waar hy van 1963 tot 1969 met karige meubels gewoon het. ’n Afdeling wat as sy ablusie- en wasgeriewe gedien het, was bekend as gebou T 158. Daar was geen water in die tweevertrekhuisie nie, maar warm en koue water was beskikbaar in die ablusiegeriewe met ’n stort.
Van 1963 tot 1969 was hy geïsoleer en beperk tot hierdie verblyfgeriewe. Hy was nie toegelaat om met enigiemand te kommunikeer nie, insluitend die bewaarders, en het slegs by wyse van simboliese handgebare, as die nood dit toegelaat het, met hulle gekommunikeer. Sy afsondering van ander gevangenis het hom feitlik onsigbaar gemaak. Vanaf 1967 is sy kinders toegelaat om hom te besoek, maar hulle is in ’n ander deel van die kompleks gehuisves. Hy is wel toegelaat om verder te studeer. Met sy inhegtenisname was Sobukwe reeds ’n professor in Afrika-studies, en het tydens sy aanhouding ’n verdere kwalifikasie van die London School of Economics verwerf. In 1964 is ’n werksaanbod aan hom gemaak deur die National Association for the Advancement of Coloured People asook die Montgomery Fellowship for Foreign Aid in die VSA. Die destydse eerste minister, John Vorster, het toestemming geweier. Hy het in 1974 weer aansoek gedoen om Suid-Afrika permanent met sy familie te verlaat, maar weer is toestemming deur die Suid-Afrikaanse regering geweier.
Dit was byna asof Robert Sobukwe in die skaduwee van Nelson Mandela beweeg het. Die wêreld se fokus was op Mandela en die rol wat hy in die bevryding van Suid-Afrika gespeel het. Sobukwe se visie was ’n Suid-Afrika vry van apartheid en kolonialisme met Afrikane wat ’n bydrae kon lewer tot die ontwikkeling van Afrika en Suid-Afrika self.
Sobukwe is in Mei 1969 vrygelaat nadat longkanker by hom gediagnoseer is. Hy is verban en onder huisarres geplaas in Kimberley waar hy hom gevestig het. Gedurende hierdie tydperk van aanhouding het hy in die regte begin studeer en verwerf hy sy regskwalifikasie. Hy het ’n klein regsfirma begin, maar is aanvanklik nie toegelaat om enige hof in Suid-Afrika te betree nie. Dié verbod is later deur die regering hersien op voorwaarde dat hy nie deur koerante aangehaal mag word nie. In September 1977 het hy aansoek gedoen om Kimberley te verlaat en is na Johannesburg geneem vir behandeling teen kanker, wat toe reeds in ’n gevorderde stadium was. Hy is egter oorgeplaas na Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, waar hy nie toegelaat is om enige besoekers te ontvang nie. Die regering het dit vir hom moeilik gemaak om behandeling te ontvang en daar was voortdurend uitstel vir gevorderde behandeling.
Sobukwe sterf op 27 Februarie 1978 aan longkomplikasies in Kimberley. Sy begrafnis het op 11 Maart 1978 in Graaff-Reinet plaasgevind.
........
Hierdie struggle-ikoon was grootliks vergete totdat die Robben-eiland-museum hom uiteindelik vereer het deur sy kwartiere op die eiland in ’n museum te omskep.
........
Hierdie struggle-ikoon was grootliks vergete totdat die Robben-eiland-museum hom uiteindelik vereer het deur sy kwartiere op die eiland in ’n museum te omskep.
Vandag is daar ’n munisipale gebou in Graaff-Reinet wat herdoop is tot die Robert Sobukwe-gebou, en Modderdamweg in Bellville is herdoop tot Robert Sobukwe-weg.
Dis ’n groot jammerte dat daar geen noemenswaardige nalatenskap van Robert Sobukwe is nie. Die PAC het gedisintegreer na sy dood en daar is vandag geen spoor van ’n eens magtige organisasie nie.
Boeke wat in sy naam verskyn, is:
- Lie on your wounds: the prison correspondence of Robert Mangaliso Sobukwe.
Geselekteer en geredigeer deur Derek Hook.
- Darkest before dawn: writings, testimonies and correspondence from the life of Robert Mangaliso Sobukwe. Geredigeer deur Derek Hook en Leswin Laubscher.
- Sobukwe: The making of a Pan-Africanist Leader, deur Thami ka Plaatjie.
Sy teenstanders wou sy stem uitwis, maar kon nie daarin slaag nie.
Lees ook:

