The Road to Mecca: ’n teaterresensie deur Maryke Roberts

  • 2

Helen Martins se aweregse tempel van uile en kamele en engele op Nieu-Bethesda is vandag ’n nasionale gedenkwaardigheid en museum. Haar lewensverhaal is volksbesit.

Die kort opsomming van die storielyn van The road to Mecca is dat sy – “Miss Helen” vir haar vriendin, die Engelse onderwyseres, Elsa Barlow – ’n ou vrou is wat volgens die inwoners van die klein Oos-Kaapse dorpie, Nieu-Bethesda, nie meer na haarself kan omsien nie en eerder na die ouetehuis op Graaff-Reinet behoort te verhuis. Sy woon alleen in die Uilhuis op die dorp en haar alleenheid en depressie openbaar sy in ’n brief aan Elsa, wat inderhaas uit die Kaap ry om haar vriendin by te staan.

Die NGK-dominee, Marius Byleveld, kom Helen die aand besoek om die getekende dokumente wat haar verhuising sal bevestig, te kom haal. Elsa skaar haar by Helen wat eintlik wil bly en aangaan met haar beeldhoutuin, wat sy haar Mecca noem. Die tuin het meer as 300 beelde uit sement en glas en hier leef Helen haar kreatiwiteit en talente uit.

Dis nie duidelik of die gemeenskap net eenvoudig keelvol is vir die eksentrieke vrou en haar beelde en of hulle waarlik besorg is oor haar welstand nie.

Athol Fugard het die toneelstuk in 1984 geskryf en die hoofrol van Helen vir die oorlede teaterster Yvonne Bryceland geskryf.

Die legendariese teaterresensent Frank Rich het destyds in The New York Times geskryf die stuk “ontgin die kern van kunssinnigheid; dat kunstenaars gedryf word deur hul weergawe van die waarheid, selfs wanneer hulle geen hoop om ’n gehoor het nie en selfs wanneer hulle met bykans geen hulpmiddels in die middel van nêrens moet werk nie. Kunstenaars is gevaarlik, omdat hulle nie van die waarheid sal afwyk nie, ongeag hoe swaar die gemeenskap druk op hulle uitoefen.”

Ek kan dit nie beter stel nie en ek gaan ook nie probeer nie.

Emily Child, Sandra Prinsloo en Marius Weyers

Maar die toneelstuk was vir my baie meer as net een vrou (kunstenaar) se soeke en strewes na haar eie waarheid en haar stroomop-swem. Helen het die gestaltes aangeneem van ’n skoonma op ’n klein Afrikaanse dorpie wat nou wel nie kunssinnig of kunstig is nie, maar wel Engels is en ook al vir jare die druk van die gemeenskap en ’n sterk NG Kerk voel – onbewustelik dalk van die gemeenskap se kant. Dit het ook die gestalte aangeneem van ’n vriendin wat op Nieu-Bethesda woon en boonop kunstenaar is. Van haar reis om aanvaarding in ’n vreemde landskap.

Maar die storie is ook in soveel opsigte my eie – en dié van soveel ander wat dit waag om anders as die norm te leef. Die tamheid wat soms kom omdat jy nie saam met die stroom wil swem nie, vir jouself wil dink, en in hemelsnaam net in vrede gelaat wil word.

Die stuk word deur die Fugard-teater opgevoer ter ere van Athol Fugard se 85ste verjaardag wat verlede jaar in Junie gevier is. Die stigter-vervaardiger van die teater, Eric Abraham, het met die aankondiging van die speelvak gesê hulle kon nie aan ’n beter manier dink om hierdie mylpaal te vier nie. “Athol Fugard het sy lewe en loopbaan daaraan gewy om ons gevoel van gedeelde menslikheid te herstel. Om meesterlik ons gewetes aan te kla van die ongeregtigheid van apartheid, ongelykheid en die tekortkominge van die nuwe bedeling.”

Dit is hierdie toneelstuk beslis. Dis daardie stof-tot-nadenke soort werk wat jou in stilte laat huis toe ry en jou vir dae daarna nog bybly.

Maar dit sou nie regverdig wees om net die briljante skrywer te loof nie. In hierdie geval verdien ook ’n paar ander mense ook. Greg Karvellas se regisseurshand staan uit. Hoewel dit drie uitstekende akteurs, Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child – waarvan twee van Suid-Afrika se grootstes is – insluit, kan mens nie anders as om sy inslag te waardeer nie. Weyers en Prinsloo was laas saam op die Fugard-verhoog in Wie’s bang vir Virginia Woolf?.

Dan die kostuums deur Birrie le Roux, die beligting onder die bekwame hande van Mannie Manim en die stelontwerp deur Saul Radomsky. Ek was so ’n paar jaar gelede in die Uilhuis en die aandag wat aan die besonderhede vir hierdie stel gegee is, het my saam met Sandra en Emily in daardie vertrek ingepluk. Van die maanvorm-spieël tot die gekleurde glasvenster in die kamer en in die deur; die kameel-deurstop tot die prentelys met kamele op; die sementuile wat oral skuil – ek kon weer die stilte van die dorp hoor, en die bekoring van hierdie vrou se wêreld het my weer omvou. Ek kon weer die stowwerigheid in my neus voel, en toe ek die eerste maal Sandra Prinsloo se vellies en truitjie oor haar rok sien, het my oë vol trane geskiet. Die deurmekaar hare het haar vir daardie twee-en-’n-halfuur in die donker Helen gemaak.

En hoewel die storie aan my bekend was, en ek die 1991-film met Athol Fugard as die dominee, Kathy Bates as Elsa Barlow en Yvonne Bryceland as Miss Helen gesien het, het die verhaal my weer van vooraf getref. Nuwe tyd in my lewe; nuwe boodskap uit dieselfde storie.

Sandra Prinsloo

Maar vir my was die ware ster van die vertoning Sandra Prinsloo. Sy was groter as teks, beligting, kostuum en gedagte. Sy was in Helen se beenweefsel ingekruip en ek glo daar was oomblikke toe sy nie seker was oor presies wie sy op daardie verhoog uitbeeld nie: haar eie verganklikheid of dié van die soekende Helen.

Jou teaterjaar sal beslis armer wees sonder hierdie meesterlike toneelstuk. Gaan kyk jou demone in die gesig daar in die donker.

The Road to Mecca

Met: Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child
Deur: Athol Fugard
Regie: Greg Karvellas
Kostuums: Birrie le Roux

Die Fugard-teater

Tot 19 Mei 2018

Kaartjies deur Computicket of kaartjieskantoor, 021 461 4554.

  • Foto’s deur Daniel Rutland Manners
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top