Richmond – Boekbedonnerd V

  • 1

Verdwaal, teer- of grondpad?

Ek het nooit kon droom dat jy tussen Cradock en Richmond die pad byster kan raak nie. Nou nie verdwaal soos in nie weet waarheen jy op pad is nie, maar afdwaal van die bekende geruis van teer onder jou bande en bibberend en modderig oor klippe en uitgespoelde spruite jou ry probeer kry.

Die jeugdige petroljoggie by die hawe verduidelik, sonder veel selfvertroue, hoe om by Richmond uit te kom. ’n Ent buite Graaff-Reinet pyltjie die bord na regs. Grondpad … Ek probeer dit uit vir so 2–3 kilometer en besluit nee, liewer terug na teer.

Weer verder aan tot by die volgende bord, na regs. Dié afdraai het teer! Maar net vir ’n paar kilometer. Ek besluit om nie weer om te draai nie en druk aan … Die 60–70 kilometer lyk asof dit nie tot einde kom nie. Modder, gesmelte sneeu langs die heinings, plasse water en dan skielik weer teer. Bebliksemd en gefrustreerd verder tot die dorp skielik aan die linkerkant met sinkhuise en DStv-skottels hom kom aanmeld.   

Kafka en die burokrasie

Vrydag, Loopstraat. Die dame by die munisipale inligtingskantoor probeer haar aandag verdeel tussen my en die persoon aan die anderkant van die selfoon, terwyl ek met jeukerige hakke staan en stoom afblaas. Uiteindelik oortuig sy haar gespeksgenoot dat sy werk het om te doen en hier iemand is wat haar aandag verdien. “Batho Pele”, een van die mooi-klinkende inisiatiewe, kort beter toepassing.

“Ek soek die saal waar die Boekefees plaasvind.”

 “Wel, ek is nie seker nie, meneer. Hier is niks langsaan in die stadsaal aan nie, so probeer maar verder af in die pad, daar waar al die motors staan,” raak sy van my ontslae.

Op Saterdag praat Fanie Naudé oor sy Alfabet van die voëls en die kritiek op sy werk en die uitbeelding van die burokrate in die Oos-Kaap. Dit is vir hom niks nuut nie – Franz Kafka het al lankal ook oor die frustrasie met die burokrasie geskryf. En hier beleef ek dit eerstehands.

Ek gaan parkeer my motor. ’n Bedelaar probeer sy storie aan my verkoop, maar die polisie onderbreek sy vertelling. Ek kry Darryl David (mede-organiseerder) in die hande – hy het al bekommerd geraak omdat ek nie opdaag nie.  

Geloofsbriewe en ontslape digters

Ek doen my deel vir die woord, bekeer ’n paar mense tot die poësie, ontmoet die hard fans met van my eerste obskure publikasies in die hand!

Ook Dan Wylie, saam met wie ek in 1999 by Poetry Africa in Durban oopgetree het, is hier.  Hy stel ’n boek ook wyle Don Maclennan bekend. ’n Meer esoteriese aanslag van hom – ek het met my voete binne-in die bloed, die soesji, Gucci en sosiale problematiek gaan staan.

Rose en rillers

Die tuin op die dorpsplein is toegekamp en die hekke geslot met die inskripsie “Geen toegang”.

Binne groei daar ’n bedding of twee rose. Gepas, dié rose, dink ek later toe Gwen en Gawie Fagan vertel hulle het saamgespan en ’n verkwiklike kolos van ’n boek uitgebring. Sy praat passievol oor rose en restourasie: dit is nie net ’n manier van geld verdien nie, maar meer ’n leefstyl. ’n Roos is na haar vernoem, en sy’t al rose in haar onderklere die land ingesmokkel! Sy raak bewoë as sy noem dat haar kinders, uit vrees vir haar veiligheid, besluit het dat sy haar plasie moes opgee. ’n Paartjie staan op nadat Fagan klaar is en haas uit na vars lug of die basaarpoeding en braaivleis langsaan.

Die volgende spreker is Karin Brynard, en die vrou wat die saal verlaat het, noem dat hulle “van mooi rose hou en nie van rillers nie”. Brynard praat oor haar navorsing en lees voor uit ’n artikel wat onlangs in My Tyd verskyn het – chop shops in Soweto, motorkapings in Johannesburg en doodsveragtende jaagtogte met Tracker. Sy noem dat haar bejaarde ma erg onthuts is oor die “bedonnerd” in “Boekbedonnerd”!

Dop en  Deon Meyer

Op ’n vraag hoekom hy nie vir Bennie Griesel na Gauteng neem nie, merk Deon Meyer onder groot gelag op: ”Bennie Griesel may be an alcoholic, but he is not an idiot.” Hy vertel die storie van wyle Madeleine van Biljon se stryd met alkohol en dat sy wisselwerking met haar as sy vertaler gehelp het met die outentisiteit van die Griesel-karakter in die boeke.

Shakespeare, almal se pel, almal se gewete

’n Begeesterde Ashwin Desai praat oor Shakespeare on Robben Island, oor die stand van universiteite, die gehalte van die kursusse wat aangebied word. Die intellektueel moet die vrae vra, hy hoef nie noodwendig die antwoorde te gee nie, merk hy op … Baie stof  tot nadenke.

“Ouma, wie is dié ou?” gil die jong meisie met die eina denimkortbroek.

“Dis David Kramer, my kind,” antwoord sy. Die meisie lyk nou nog meer puzzled. David staan met sy hoed en swart baadjie gemaklik en poseer vir al wat werker is wat hom met hul selfone afneem vir latere status updates op Facebook of net vir bietjie windgatwees  rondom ’n bier oor die naweek.

Ek het vir die eerste keer van David kennis geneem in 1984 – dit was seker net na een-uur die Sondagmiddag en ek was met my destydse werkgewer, ’n Engelssprekende ouditeur en nog ’n klerk net buite Port St Johns in ’n motor op pad na Durban. Hy het die kasset uitgehaal. “Have you ever heard of  David Kramer?” Die kasset was Delicious Monster. Ek was verslaaf.

David teken vir my die eksemplaar van Short back and sides.

Die Saterdagmiddag sit ons die openbare biblioteek vol tot agter teen die muur, op die vloer. ’n Paar straatkinders prop hulleself ook in. Net ’n ongemaklike klein kolletjie bly vir David Kramer oor om ons met sy kitaar te vermaak. ’n Digter by uitstek, hierdie man. Vanaf die lirieke van “Wakkerslaap”, “Kobus le Grange Marais” (van Christopher Hope), die nostalgiese verf van “Blokkies Joubert” tot by die hartverskeurende “Skipskop”.

Tussendeur beantwoord hy vrae van Darryl David. Op ’n stadium in sy loopbaan moes hy hom afvra: Wie is ek en wat wil ek doen? Elke kunstenaar moet dít doen. Ek dink hy het dié dilemma mooi vir homself uitgewerk.  

Jesus, Google, graffiti en die NRVP

Teen die rant van die dorp is die klippe wit uitgepak (www.richmond.co.za). Dit bind hierdie dorp aan die naelstring van die nuwe wye virtuele wêreld. Vanaf ’n veilige afstand kan jy kliek op hierdie kolletjie bestaan met die baie bloekombome en die ongebruikte motorhawens aan die einde van Loopstraat

Hoog op teen ’n lamppaal hang ’n guitige geel plakkaat met die woorde: “Jesus is coming”. Die ANC se takkantoor het die kenteken van die party asook “One stop Shop” in groot swart letters. Iemand het die plakkaat van die NRVP (Nasionale Raad van Provinsies) wat die parlement van 5 tot 8 November 2012 na die mense op De Aar bring, in twee geskeur en dit so aan die heining laat bly hang. ’n Huis het ’n handgemaakte advertensie wat skaapbene aanbied.

’n Wonderlike klein dorpie, met die vriendelikste mense. Baie het min, maar almal groet jou. Lekker klein eetplekkies, boekwinkels. Teen die deur van die Supper Klub, dié uit die Eagles se Hotel California: “You can check out any time you like, but you can never leave.” Op die stoep van die Driefontein Dienssentrum loop ’n inwoner met moeite met ’n loopring. “Geniet julle darem die fees?” vra sy met ’n opregte glimlag op haar gesig en ’n dowwe kyk in haar oë.

Teen die mure van geboue is daar netjies-gedrukte inskripsies aangebring: “’n Goeie boek is een wat met groot verwagting oopgemaak en met groot wins toegemaak word.” “Boeke en vriende moet min en goed wees.”

Teerpad, huis toe

Ontbyt op Sondagoggend. Die restaurant het musiek wat pas by die ongelooflike blou lug en sonskyn – ABBA met “Dancing Queen” en die Beach Boys met “Cotton Fields”.

By die motorhawe staan twee spierwit Duitse motors, met vier jeugdige passasiers. Hulle praat ’n kenmerkende Kaapse Engels-Afrikaanse mengeltaal. Ietsie oor R1 600 om dié twee motors se tenks op te vul. Gauteng toe – van boeke weet hulle nie veel nie. Later snel hulle verby my wat op die linkerskouer van die pad die landskap bewonder.

’n Plekkie met die mooi naam Hongerfontein. Via Hanover en Middelburg. ’n Landskap van berge, groen landerye, windpompe, plate turksvye, damme, skape. ’n Verkeerskonstabel met ’n ongemerkte motor en spoedkamera sit in die koelte. Die twee wit gevaartes het hy sekerlik vroeër in sy net gevang. 

Die lang links swaai en draai buite Hanover ... ’n Vrou met ’n groot koffer en ’n kind met ondervoede bene op haar rug. Dit is warm; sy mik in De Aar se rigting.

Nader na Middelburg word die land mak en groen gemaak met spilpunte.

Die lesers ry ver agter skrywers en boeke aan, maar dit is die moeite werd. Facebook, Google, Twitter, maar die boek bly, onsterflik, soos daardie ander reël uit Hotel California sê: “They stab it with their steely knives, but they just can’t kill the beast.”

Foto’s is voorsien deur John Donaldson.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top