
Sy agent het my ’n ruk gelede gekontak om te sê Riaan Manser is op pad na Gqeberha, wil ek nie ’n paar kiekies neem nie? So gesê, so gemaak. Behalwe dat daardie bepaalde dag toe uitgereën het. Ja, dis ironies, nie waar nie? Riaan Manser, die avonturier, kan nie vir Izak, die maltrapkaalpootkameraman, ontmoet nie, want die paaie is verspoel.
Duh.
Maar goed. Selfs avontuurlike mense moet soms erken die natuur kom eerste. ’n Wyse ou Zoeloe-indoena het in my tienerjare soms vir my gesê: “Kahle, nkosaan!” Losweg vertaal: “Wees nou rustig, jongman.”
Toe Manser dus weer invlieg na ons stad toe, moes ek ’n plan maak. Ná dagboeke vergelyk is, nooi Woodridge Primary School my om by hulle te kom foto’s neem. Manser sou met ’n deel van die laerskool gesels en dan ook ’n kort geselsie met die skool se ekoklub hê. Dit pas my goed. Ek het al baie celebs se hande geskud en hul kiekies geneem, maar wanneer ek iemand met kinders sien praat, dan leer ek gewoonlik meer oor hulle persoonlikheid as tydens ’n stywe geselsie in ’n hotelkamer.
Dit was toe ook so met Riaan Manser.
Ek daag vroeg op, kry ’n ferm handdruk van Manser, ’n drukkie van sy agent en toe bespreek ons agendas en tydlyne. Manser het om 14:00 ’n aanlyn vergadering met ’n hele klompie internasionale mense, so die tyd is beperk.
Ons is gereed, maar hoor dan die skool het ’n ander tyd in gedagte gehad as ons. Manser krap kop en sê vir sy agent: “Ek wil nie graag nie, maar dalk gaan ek die praatjie moet kortknip. Wys my wanneer dit kwart voor twee is.”
So gesê, so gemaak.

Ek vra uit oor die oulike renoster in die voorportaal. Die onderwyser vertel trots hoe die skool geld insamel om renosters te help bewaar.
Die kinders kom in.
Nog kom in.
Nog kom die kinders in.
Die tyd tik rustig voort.
’n Onderwyser kom sê al die kinders is gereed. ’n Ander onnie laat weet hulle sukkel om Manser se rekenaar aan die stelsel te koppel.
Manser kyk op sy horlosie en sê: “Kom ons begin. Ek doen dit dan sonder die rekenaar, maar dis jammer. Baie van hierdie outjies wil graag die visuele deel ook beleef. Nie almal is lief daarvoor om net te luister nie ... Ek sal my bes probeer.”

Ndumiso Mtshali, die onderhoof, stel Manser voor. Dis duidelik dat die kinders reeds weet wie Manser is.
Uiteindelik stap Manser vorentoe.

Vir ’n paar oomblikke wonder ek of hy die hengse klomp kinders, van piepklein na baie groot, sal kan hanteer. Maar dan sien ek ’n subtiele verandering. Hy ontspan, hy begin vrae vra. Ek kan hoor die toespraak is eers van die baan: Dié kêrel soek nou ’n konneksie met sy gehoor.

Dis nie lank nie, toe loop die gesprek. Die hele skoolsaal, van die graad eens tot die onnies, hang aan sy lippe. Al die kinders wil vrae beantwoord. Almal vir Manser iets vertel.

Daar kom die tegnikus en skakel die rekenaar aan. Ons sien skielik die praatjie wat Manser moes gegee het – die een waarmee hy al baie, baie lank terug sou moes begin het. Hy knip nie ’n oog nie. Hy bedank die tegniese ouens, en begin met die praatjie wat nou op die skerm wys. Hy hou egter aan om die kinders by die verhaal te betrek.

My eerste Afrika-avontuur (LAPA), ISBN: 9780637003117
Manser het bekend geword as die persoon wat heel eerste met ’n fiets om die buitelyn van Afrika kon ry. Dit was ’n avontuur van byna twee jaar.

Niemand anders nie as Nelson Mandela het skynbaar opgewonde geraak oor Manser se reis. En toe hy klaarmaak, na twee jaar, was Madiba daar om hom in te wag.

Wat vra Madiba toe? Hy vra: “Wat is volgende, Riaan? Onthou, mense onthou nie. Hulle wil weet wat jy volgende gaan doen.”
Dit is ’n lewensles wat hom nou nog bybly, sê Manser. Daarom wil hy vertel oor sy volgende avontuur, maar toe, heel van heel voor af, kom ’n dringende vraag. Dis ’n graad 1-meisie wat na die kaart van Afrika wys en vir Manser vra: “Waar is ons?”

Dit, sê Manser, is waarskynlik een van die beste vrae wat hy nog vandag gekry het. Hy loop na die rekenaar, kry die beeld weer gereed en help die meisie en haar maats om Gqeberha op die kaart van Afrika te vind.
“Hy het nog ten minste twee avonture oor,” fluister sy agent benoud.

My eerste wilde eiland-avontuur (LAPA) ISBN: 9780637003452
Manser begin praat oor sy kajakavontuur: Hy het om Madagaskar geroei.
“Wie woon in Madagaskar?” vra hy.
Dié vraag kan almal beantwoord. King Julian!
Jip, Manser praat oor lemurs, nie oor roeibote nie. Sy praatjie se beeldmateriaal stroom voort op die skerm, maar Manser trek die kleinspan in. Hy wil sy avonture vir hulle relevant maak.

My eerste Ysland-avontuur (LAPA), ISBN: 9780637006361
Daarna vertel hy oor sy roeitog om Ysland. Die gesprek handel oor die son wat nooit ondergaan nie, asook die feit dat man wat saam met hom geroei het, Dan Skinstad, serebraal gestremd is. Hy kan nie eens “gewoonweg” loop nie, maar dit maak hom nie minder geskik om ’n bitter moeilike avontuur aan te pak nie, vertel Manser.
Sy agent beduie teen tyd al freneties van agter uit die saal. Die internasionale oproep wag.
Die kinders is nou egter volkome meegevoer. Manser vertel hulle ook eers gou van nog ’n avontuur – die keer toe hy en sy meisie na New York geroei het. En hoekom vertel hy dit vir die jongklomp? Sy meisie is nou sy vrou, en hulle het twee kinders. Om ’n pa te wees, dít is nou ’n groot avontuur, vertel hy die jongspan.
Die kinders peper hom met vrae.
Dis al ná twee, en sy agent gee moed op, maar Manser het onthou van die ontmoeting wat hy beloof het met die ekoklub. Dit sal nou gebeur, sê hy vir die onnie, want hy het belowe. Kry asseblief die klub bymekaar, vra hy. Hy sal ná die tyd kom boeke teken.

Die ekoklub staan stil vir ’n foto. Heel links is Clifford Reed, die laerskool se hoof, en Ndumiso Mtshali, die onderhoof, saam met Manser en die ekoklub. Heel regs staan Roslyn Pienaar die hoof van die ekokomitee en die skool se bibliotekaris.

Toe begin ’n gesprek. Die klub vra uit. Manser verduidelik. Ek hoor ook hoe Manser sê: “Ek so bly oor wat julle hier doen. Weet julle hoekom? Ek gaan een van die dae ophou om die ou te wees wat baie praat oor die omgewing, maar dan gaan julle dit moet doen. Julle is die mense wat my werk moet voortsit.”
Hulle gesels nog ’n rukkie. Die klub moet vertrek en ‘n onnie kom sê daar is ’n hengse tou in die saal – kinders wat gehoop het om hulle boeke te laat teken.
“Ek is nou daar,” sê Manser.

Helaas. Ek het geen idee met wie die internasionale ouens daardie middag gesels het nie. Dit was egter nie met Riaan Manser nie. ’n Hele rukkie ná 14:15 besluit ek toe maar om te verkas en neem my laaste foto van die dag: Voor Manser is ’n graad 1-meisie met ’n moeilike naam. Sy kan nie vir hom verduidelik hoe om dit te spel nie. Manser is dus nou besig om te soek na iemand wat hom kan help. Hy wil immers haar naam korrek spel in haar eie boek.
Die res van die baie lang tou kinders wag nog geduldig hulle beurt af.

