Resensie: Whiplash

  • 0

Suzette Kotze-Myburgh

Whiplash

Regie en draaiboek: Damien Chazelle

Spelers: Miles Teller, JK Simmons, Paul Reiser, Melissa Benoist

Die onderliggende vraag in hierdie fliek is: Kry jy die beste uit mense deur hulle met vrees te beheer of deur hulle met vriendelikheid en begrip te behandel? Monty Roberts het bewys laasgenoemde werk beter met perde – voor sy perdefluisteraar-metode is perde immers ingebréék. Mense is natuurlik veel ingewikkelder, soos hierdie skitterende, komplekse film wys.

Die negentienjarige tromspeler Andrew Neimann (Miles Teller – wat ’n toepaslike naam!) wil ’n top-jazzmusikant word. Daarvoor gaan hy na ’n top-musiekskool, waar Terence Fletcher (JK Simmons) die hoof van jazz is. Om gekies te word vir Fletcher se uitsoekorkes is Andrew se droom, want hulle wen al jare lank al die kompetisies. Die droom is egter eerder ’n nagmerrie, blyk dit gou, want Fletcher is ’n manipulerende boelie – nee, die man is ’n volslae sadis – the stuff that tyrants are made of.

Hoewel die ander orkeslede en Andrew se liefdevolle onderwyser-pa (Paul Reiser) deurentyd aanwesig is, gaan die verhaal eintlik net oor Fletcher en Andrew. Dis die ou bul teen die jong bul, en dis bloedig – letterlik. Ná ure se oefening lyk ’n tromspeler se hande soos ’n ballerina se toonpunte in Black swan. Dis wreed, dis onmenslik, maar dis die enigste manier waarop jy excellence bereik, glo Fletcher. Wanneer hy sê die gevaarlikste twee woorde in vandag se samelewing is “Good job”, is dit bytende maar geldige sosiale kommentaar.

Whiplash daag die kyker werklik uit met dit wat aan die donker kant van groot kuns lê – dink aan flieks soos Shine, Vicky Christina Barcelona, Black swan en vanjaar se Oscar-wenner, Birdman. Van Oscars gepraat: Simmons verdién syne as beste ondersteunende akteur, terwyl Teller ’n sterk aanspraakmaker op ’n nominasie kon wees.

Hoog aanbeveel vir kykers vir wie ’n fliek soos ’n goeie steak moet wees: stewig en effens rou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top