Resensie: Waterberg echoes deur Richard Wadley

  • 5

Titel: Waterberg echoes
Skrywer: Richard Wadley
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485309352

Protea Boekhuis het pas Richard Wadley se luukse en omvattende boek van 832 bladsye, bykans 40 nuttige kaarte, baie illustrasies, en letterlik honderde foto’s gepubliseer.

My DNS lê sedert die eerste setlaars in die Waterberg. Daardie magiese gebied in Limpopo wat so anders is as enige ander plek in Suider-Afrika. Dit kan vergelyk word met 'n reusekoek wat uit die omringende vlaktes oprys, platgeval het, en deur magtige sandsteenvestings omring word. Die verweerde voorkoms en kleure van daardie berge vertel al klaar dat jy 'n baie spesiale plek nader.

Dorpe soos my tuisdorp Modimolle (die ou Nylstroom), Mookgophong, Mokopane, Lephalale, Thabazimbi en Bela-Bela omring die plato. Passe met mooi name neem jou oor die berge: Sandrivierspoort, Bokpoort, Jakkalskuil, Skrikfontein ... Wanneer jy te midde van die plato is, sak 'n verlatenheid en eensaamheid oor jou. Die skoonheid van die hart van die Bosveld met sy inheemse bome, klowe, riviere en waterkuile, wildevrugte, wild en voëls word dan jou genoeglike geselskap. Daarom is dit vandag so gewild vir ekotoeriste.

Met die oopmaak van die boek het ek eers die name van my voorouers en die name van ons familieplase in die uitgebreide register opgesoek. Wadley se navorsing het my meer oor myself en my voorgeslagte vertel as wat ek uit oorlewering geleer het. Sy navorsing oor bykans elke Waterbergse familie, plase, skole, dorpe, kerke, Sesotho-, Ndebele- en ander stamme, oorloë, veldslae, broedertwis, asook die oergeskiedenis sedert die eerste mensagtige wesens, verryk en verbreed die ryk geskiedenis van almal se bestaan in Suider-Afrika.

Naby ons een familieplaas is die klein nedersetting Loubad met sy warmbron. Daar het ek saam met my ouma en oupa dikwels inkopies gaan doen, en dan het ons verby die graf gery van die Engelsman wat tydens die ABO daar doodgeskiet is. Eensaam en netjies met 'n ysterheining afgekamp. Soms het ons stilgehou en na die graf gestap en gekyk, en nie gepraat nie. Tot my verbasing vind ek 'n hele bladsy (375) in die boek oor tweede luitenant Arthur Charles Gordon Besley, 'n adellike afstammeling. Hy is moontlik deur die skerpskutter Carel Boshoff, 'n veraf familielid van my, doodgeskiet terwyl generaal Beyers met sy verkyker toegekyk het. Hierdie is maar een van die talle uitgebreide juwele van die boek – met 'n foto van die einste ysterreling steeds om die graf met sy marmersteen.

In die 20 hoofstukke van die boek is ook ander verhale wat aan my bekend is en wat nou met deeglike navorsing geboekstaaf is. Die verhale van Moorddrift en Makapansgat waarmee ons grootgeword het, word uitgebrei en verder verewig met byvoorbeeld indringende verhale oor hoofman Valtyn van die Kekana, hoofman Masebe III en heelwat verwysings na Middelfontein op die historiese Nylstroom-Naboomspruit-pad wat skaars 10 km van ons plaas af was. Ek kon ook vir die eerste keer lees van my oergrootvader, Johannes Jurie (Lang-Hans) van Staden, wat 'n kind tydens die Groot Trek was, en wat hom rondom 1861 op Doornfontein gevestig het. Daar het die Boshoff-, Prinsloo-, Van Deventer- en Pienaar-families hulle ook almal later gevestig en leidende rolle in die gemeenskap gespeel, wat deeglik bespreek word.

Die boek is uit verskillende perspektiewe geskryf. Aandag word in fyn besonderhede met voetnotas gegee aan die geologie en die latere rol van mynbou; die invloed en gevolge van die difaqane; geskiedenis van die verskillende swart stamme; die stigting van dorpe, nedersettings, skole, kerke, hospitale; die talle veldslae tydens die ABO; die geskiedenis van die eerste spoorlyn tussen Nylstroom en Vaalwater; die rol van bekendes soos JG Strydom wat die eerste minister van Suid-Afrika geword het. Ook Eugène Marais is daar wat my ouma as 'n gentleman beskryf het.

Maar dit is nie net bekendes wat die Waterberg getem het nie. Wanneer daar na die uitgebreide indeks gekyk word, is daar letterlik honderde en honderde name van mense wat die plek gevorm het soos ons dit vandag ken. Maar bo alles troon Marikele (2 088 m),  Geelhoutkop (1 739 m), Hanglip (1 768 m) oor plekke soos Melkrivier, Zandrivierpoort, Alma, Doornkom en Bulgerivier.

Protea Boekhuis word gelukgewens met hierdie praguitgawe deur Richard Wadley, vir wie dit 'n lewenstaak was om hierdie omvattende boek saam te stel.

  • 5

Kommentaar

  • Jaco Koekemoer

    Ongelooflik! Die Van Den Bergs van Melkrivier is direkte familie van my met my moeder wat daar op skool was. Ons is nog steeds hartseer oor die .303 wat ingehandig is om vernietig te word en daar is n baie groter verhaal rondom die Van Den Bergs.
    Sal graag met Richard Wadley 'n paar koppies koffie wil drink.

  • Jaco Koekemoer

    Hi Kobus,

    Ek het die boek by Exclusive Books bestel, ’n jaar gelede, en die prys was ongeveer R1000. Dit is absoluut die moeite werd.

  • Gerard Scholtz

    Hello Jaco
    Ek sien nou eers hierdie kommentaar. Jammer daaroor. Doen bietjie navraag. Werk deur die uitgewer indien jy by Richard Wadley wil uitkom. Hy boer daar naby Vallwater/Melkrivier. Kontak Martie Eloff: martie@proteaboekhuis.co.za

    Bestes
    Gerard

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top