Resensie: Vervleg deur Petro Hansen

  • 0

Titel: Vervleg
Skrywer: Petro Hansen
Uitgewer: Protea
ISBN:9781868901012

Petro Hansen, rubriekskrywer vir Beeld en Die Burger, se debuutkortverhaalbundel is onlangs deur Protea Boekhuis gepubliseer. Die bloemlesing is onder die titel Vervleg uitgereik.

Die kortverhale getuig van Hansen se vermoë om met eenvoud en diep menslikheid oor alledaagse aspekte te skryf, soos verwoord is in die commendatio toe Hansen in 2018 deur die Cordis-trust met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie vereer is: “Vir haar besondere bydrae tot Afrikaans met unieke onderwerpe waarmee sy die kuns vervolmaak het om sinvol te skryf oor die mens en alledaagse stories van die gewone lewe.”

Die verhale in die bloemlesing is lukraak saamgestel, maar toon tog ’n samehang ten opsigte van tematiek en die emosionele reaksie op die verhale. So byvoorbeeld skakel “Afskeidsgroet is moeilik” met die volgende verhaal, “Ek, Pa en Pablo” deur die intertekstuele verwysing na die film Il Postino. Die titel van die bloemlesing verwys na die ineengevlegtheid van die temas. Maar die belangrikste is seker die emosionele reaksie wat die stories ontlok: hartseer, nostalgie, humor en verlange. Verder skryf Hansen oor verskillende ruimtes en reis die leser saam met haar na alle dele van Suid-Afrika, soos die Bosveld, Stellenbosch, Hartenbos en Johannesburg; asook na ander wêrelddele soos New York en Mosambiek, maar die fokus bly op die platteland.

Hansen raak ’n verskeidenheid temas aan: afskeid, familie, eensaamheid en die liefde – alledaagse temas waarmee baie lesers kan identifiseer. Daar is veral die afskeid van ’n pa in “Vir my pa wens ek ’n Bosveldplaas”, “Die dood maak ’n stom hart praat”, “Ek, Pa en Pablo” en “’n Brief vir Pa” wat uitstaan. Saam met hierdie afskeid kom die emosie: “Maar ek was te laat. Te laat om vir Pa te vertel hoe ek hom al die jare bewonder het in sy wit vlootuniform” en “Liewe Pa. Ek skryf vir jou ’n brief sodat ek jou nooit, ooit sal vergeet nie.”

Hansen skryf ook oor ander afskeide. In “Afskeidsgroet is moeilik” verwoord sy die universaliteit van hoe moeilik afskeid is” en dat baie lesers nie “koebaaimense is nie”. In “Om ’n plaas te groet” gaan dit oor die afskeid neem van ’n plaas en die emosionele verbintenisse wat baie van ons met die plaaslewe het: “Ek staan op die plaasstoep oor my werf en uitkyk. Hier is te veel herinneringe vir een boks, dink ek toe.” Daar is die bekommernis oor kennisse wat landuit gaan in “Danie, gaan jy oukei wees daar in die Outback?” met die versugting: “Maar tog wonder ek hoe dit voel as jy weet jy gaan nooit weer hoor hoe dit klink wanneer ’n maanhaar se brul in die Kalahari deur die stilte van die nag breek nie. Hoe dit sal wees as jy nooit weer Coenie de Villiers se katbos of kambro gaan ruik as dit reën in die Klein-Karoo nie.”

Dit is nie net verhale oor nostalgie en verlange en hartseer nie; Hansen skryf ook met ’n fyn humorsin oor “Die inhoud van ’n vrou se handsak kan ’n nasie red” want “Daardie leersakkie is veel meer as net ’n mode-item.” Net so spitsvondig is die poging om die landdros se aandag te kry in “Edelagbare, daar is iets wat ek moét sê” en maak nie saak dat “ons almal maar so ’n bietjie kommin” is nie, die “lewe is lekker” of dat “jy hoef nie eens 7de Laan aan te sit op ’n klein dorpie nie want daar is ‘’n Sepie in ’n plattelandse Pick n Pay’”. Saam met die fyn spot is daar die deernisvolheid vir die mens.

Al is die verhale oënskynlik eenvoudig, slaag Hansen daarin om aan hulle ’n dieper element te gee. Sy maak slim gebruik van intertekstualiteit. Daar is byvoorbeeld die verwysing na André P Brink wat Hansen pragtig koppel aan haar pa se afskeid in “Die dood maak ’n stom hart praat”, of die gedagte dat Ingrid Jonker se verse inpas in Bridge Books in Hillbrow in “Ingrid Jonker se verse het ingepas”. Net so gebruik Hansen alledaagse gebeure, soos die Woordfees saam met haar ma of die Van Breda-bylmoorde, of haar mening dat Facebook “die grootste dief van alle tye” is, om belangrike boodskappe oor te dra.

Lesers kan gerus Vervleg lees en sodoende ook vervleg raak in die verhale van Petro Hansen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top