Resensie: The Stellenbosch Mafia – Inside the Billionaires’ Club deur Pieter du Toit

  • 3

The Stellenbosch Mafia – Inside the Billionaires’ Club
Pieter du Toit

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429189

Gedurende die halfeeu wat die Tweede Wêreldoorlog voorafgaan, sirkuleer daar 'n onrusbarende skryfsel wat uiteensit hoe die Europese en globale Jodedom besig is om stilletjies wêreldoorheersing te beplan. Die skryfsel kry mettertyd stertjies: Afhangende van jou politieke oortuiging kom daar variasies na vore wat die “groot Joodse plan” as die dryfveer agter kapitalisme identifiseer, en ander waarsku weer hoe oproerige arbeiders en radikale politiek die nare heksebrousel van 'n geheimsinnige kommunistiese Joodse komplot is. Maar verskeie kere sedert die eerste publikasie daarvan in Rusland in 1903 bewys teksontleders en plagiaatondersoekers dié anti-Semitiese pamflet as 'n totale versinsel.

Die skryfsel staan bekend as Protocols of the Elders of Zion en is waarskynlik een van die ernstigste en verreikendste gevalle van fopnuus in die moderne era.

Ten spyte daarvan dat soveel kundiges die Protocols as 'n infame leuen bewys het, sou die nywerheidsmagnaat en vername anti-Semitis Henry Ford betaal vir die druk en verspreiding van duisende kopieë in die VSA en het onderwysburokrate in Nazi-Duitsland die Protocols as verpligte leesstof op skoolvlak beveel.

Teen Mei 1945 is ongeveer ses miljoen Jode in Nazi-doodskampe in Oos-Europa vermoor.  

Du Toit se Stellenbosch Mafia het my herinner aan die Protocols. Nie omdat Du Toit self besig is om gevaarlike versinsels oor 'n geheimsinnige groepie Afrikaner-miljardêrs te skep nie, maar juis oor sy poging om die sameflansing van stories, staaltjies, legendes, fopnuus en samesweringsteorieë rondom die geskiedenis van Afrikanerkapitaal te ondersoek.

Onder die omstandighede is hierdie boek 'n welkome verwikkeling, want die Suid-Afrikaanse publiek ly weens die onheilige drie-eenheid van staatskaping, misdaad en trae ekonomiese groei, wat 'n teelaarde is vir gewelddadig-verdelende politici om sondebokke van mense te maak. Wanneer armoede druk, vlug ook die liefde vir waarheid by die agterdeur uit. En in die inligtingsera met sy gepaardgaande sosiale-media-oordaad versprei slegs slimverpakte fopnuus vinniger as 'n Australiese veldbrand.

Die openbare-betrekkinge-firma Bell Pottinger se meedoënlose “witmonopoliekapitaal”-projekkie het Suid-Afrika erg verdeel en die openbare diskoers gekaap. Die Guptas en Jacob Zuma het die rekening betaal vir 'n openbare debat wat deur groot geld en korrupte oogmerke gerig is, eerder as deur demokratiese dialoog en samewerking.

Maar Stellenbosch Mafia is nie 'n poging om foute reg te stel nie. Dit lees ook nie soos 'n stapsgewyse ontbondeling van 'n gevaarlike koeksel versinsels nie. Dit bevat 'n relaas oor die geskiedenis van (sommige van) Stellenbosch se sake-indoenas, maar die boek is nie 'n Giliomee-eske geskiedkundige grootsheid soos Die Afrikaners of Tembeka Ngcukaitobi se The land is ours nie.

Stellenbosch Mafia se probleem is nie soseer dat dit afwyk van gevestigde niefiksiebeginsels nie. Die boek se fundamentele probleem is dat die doel en narratiewe uitvoering daarvan onduidelik is.

Die dun, skarlakenrooi boekie met sy ietwat sensasionele titel herinner op 'n baie ironiese wyse aan die Kommunistiese Manifes van Karl Marx, en die prykende profiele van vier groot Afrikaanse sakemanne (lnr Johann Rupert, Christo Wiese, Markus Jooste en Jannie Mouton) op die voorblad trek op die gerangskikte koppe van Marx, Engels, Lenin en Stalin wat dikwels op propagandaplakkate uit die Sowjet-era te siene is.

Ek kon nie anders as om te giggel oor die subtiliteite hiervan nie, maar gelukkig is dit nie opvallend genoeg dat 'n mens die indruk van uitdruklike vooroordeel kry nie.

Tog is hierdie ondeunde voorblad 'n leitmotief vir die onduidelike trant wat volg. Die voorwoord kon met 'n bietjie skaafwerk 'n opsomming van die boek wees, omdat Du Toit in elke verdere hoofstuk nie ophou liries raak nie oor “Stellenbosch [the] unique town, steeped in Afrikaner political and cultural history ... Its oak-lined streets and Cape Dutch architecture, girded by cobalt-blue mountains ... one of the prettiest towns in the country and an eminently desirable address” (bl xv).

Du Toit se beskrywing kan maklik 'n gesoute reisskrywer van Getaway ore aansit, maar “prentjiemooie Stellenbosch” word weens oordadige herhaling 'n vulsel-refrein, wat 'n mens laat wonder of die boek eerder op die ontvangstoonbank van 'n swierige eiendomsagentskap in Dorpstraat hoort.

Du Toit eindig die voorwoord met 'n doelstelling (xvi): Hierdie stuk werk wil die egtheid van 'n “Stellenbosse Mafia” bepaal, wie die lede daarvan is en waar hul rykdom vandaan kom. Die boek vermeld dus vroeg reeds 'n ondersoekende beweegrede. Gegewe die hoë standaarde van ondersoekende joernalistiek wat al gestel is deur eietydse joernaliste soos Jacques Pauw en Pieter-Louis Myburgh, is dit verblydend dat Du Toit die reikwydte van sy navorsing as volg stel, al is dit nou ook in die negatiewe:

A study like this one, incomplete as it undoubtedly is, cannot rely solely on anecdotes about liquid lunches at the Decameron restaurant or a billionaire importing luxury vehicles and giving them to friends. Nor can it only be about the vanity of Jooste and the inevitability of Steinhoff’s demise.

Die jammerte is dat hierdie staaltjies, gemeet aan die res van die feitebesprekings in die boek, min of meer die somtotaal van Du Toit se ondersoek na 'n mafia beslaan. Meer as die helfte van die boek, dit wil sê 105 uit 193 bladsye, word oorheers deur die Ruperts se persoonlike verhale en korporatiewe herkoms.

Dit maak aanvanklik sin dat meer as een hoofstuk aan die Rupert-verbonde sakeryk gewy word. Die verhaal van Anton Rupert was al voor die verskyning van Ebbe Dommisse se biografie oor die groot sakeman 'n sentrale en vormende oomblik in die geskiedenis van die post-Vryheidsoorlog maatskaplike omgewing en die Afrikaner-oorheerste Suid-Afrika van die anderhalf 20ste eeu. Rembrandt word goed nagespeur en Du Toit slaag daarin om Rupert senior se rol in die maatskappy behoorlik in die konteks van 'n vroeë en latere Nasionale Party-bewind te plaas (bl 55, “The first Afrikaner businessman”). Du Toit gaan ook genuanseerd om met Rupert junior se rol enersyds as polities verligte Afrikaner-sakeman gedurende apartheid en andersyds as vervreemde en teleurgestelde figuur binne die ongedurige, ontsteekte politieke tektoniek van die staatskaping-era.

'n Kernmoment wat nie in die “Rupert-hoofstukke” of die res van die boek voorkom nie, is enige verwysings na die invloed van die finansiële krisis van 2008 op die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese omgewing. Dit is 'n belangrike geopolitieke oomblik hierdie wat nie net sekere Europese nasies geskok het nie, maar dit het die strukturele swakhede en selfs blatant korrupte gedrag binne die wêreldwye finansiële sektor geopenbaar. Sedert die krisis het die gepaardgaande werk- en haweloosheid en maatskaplike verval gelei tot 'n nuwe era van protespolitiek en ideologiese ekstremisme oral op die spektrum. Vir 'n boek soos Stellenbosch Mafia met sy aanvanklike doelstelling om die bedrading van Afrikanerkapitaal te bekyk, is ten minste 'n konteksskeppende verwysing na hierdie tydperk onontbeerlik.

Na afloop van die “Rupert-hoofstukke” verwag 'n mens dat die boek verder handel oor die verskeie ander gesigte van Afrikanerkapitaal wat as foto’s (net voor die voorwoord) onder die hofie “Cast of Characters” verskyn.

Die leser word ongelukkig teleurgestel, want benewens 'n kort intermissie wat Edwin Hertzog se Medi-Clinic-sakeryk bespreek na afloop van 'n onderhoud met dié privaat gesondheidsmagnaat, stoomrol die boek voort na 'n nuwe afdeling wat byna in die geheel bestaan uit die val van Steinhoff en Markus Jooste. Die “Markus-hoofstukke” sou indrukwekkend gewees het as die werk van James Brent-Styan (van die blitsige Steinhoff en die Stellenbosse Boys-faam) en verwante skrywes nie lankal reeds ons bedkassies vol gelê het nie.

Wat die Markus-hoofstukke nog meer ongeleë maak, is die skynbare kontras wat dit vorm met die Rupert-hoofstukke. Bedoeld of nie, die indruk word gewek dat die leeueaandeel van die boek 'n Rupert-ophemeling is, terwyl die res van die boek dít wat van Steinhoff oorbly, in 'n sterkvloeiende leivoor inskop.

'n Laaste karige appendiks is dan nou ook hoofstuk 13 (bl 181, “Turning new money into old”) wat 'n paar persoonlike staaltjies en vertellings deur die hoofman van Capitec bevat, te wete Michiel le Roux, asook die PSG-man Jannie Mouton. Die hoofstukkie bevat, soos die Rupert-hoofstukke, 'n stel verwerpings van enige toutjiestrekkende Boeremafia. Die tema wat weer hier opduik, is dié van sogenaamde “inkommers” op Stellenbosch met warm geld en die groot manne met hulle ou geld. Dit is nou 'n souserige en ietwat kinderagtige brokkie sensasie hierdie, maar dit dien seker die doel om interne tweespalt onder diegene wat van Afrikanermafioso beskuldig word, uit te wys. Ongelukkig doen dit nie veel meer nie, want samesweringsteoretici soos die ouens met die rooi barette sal jou gou-gou vertel dié tweedrag dui bloot op twee koppe van dieselfde geheimsinnige basilisk.

Ten slotte is Stellenbosch Mafia 'n lekker stukkie navorsing wat blitskennis en insig gee oor Suid-Afrika se rykste Afrikaners. Du Toit kan op die skouer geklop word dat hy probeer het om netelige Boeremafia-aantygings in hierdie era van dezinformatsiya uit te klaar.

Het hy geslaag? Ek twyfel; dit is vermoedelik 'n onbegonne taak. Soos Etienne van Heerden se pragtige en onthutsende roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld dit uitwys, leef ons in 'n era van totale onvermoë om dialoog te voer. Soos Van Heerden se Afrikanerkarakter Ian Brand en die stoere Feesmustfall-aktivis Thuli Khumalo illustreer, is daar 'n nukkerige, koppige muur tussen politieke groepe in ons etnies en materieel verdeelde land, waar pogings om die rede aan te wend om die rekord reg te stel of feite uit te wys, uit die staanspoor met dekolonialiserende agterdog bejeën word en verlore raak in aggressie en geskiedkundige pyn.

Maar net soos met die verhaal van die Protocols durf ons nie die geskiedenis misverstaan en toelaat dat onwaarheid en versinsel die rigtinggewer word vir 'n kritieke massa mense nie. Daarom behoort ons pogings soos Stellenbosch Mafia te ondersteun vir sover dit om versigtigheid en verknogtheid aan die ware feite vra.

Terselfdertyd moet hoë bome soos ons Afrikaner-miljardêrs besef dat 'n barmhartige leefwyse hulle nie kwytskeld van kritiek en bevraagtekening in ons demokrasie nie.

Wat my altyd sal pla, is hoe 'n handjievol Afrikaanssprekendes met weinig hulpbronne aanhou om die stryd te voer ter wille van inheemse meertaligheid aan die Universiteit Stellenbosch, terwyl Du Toit se boek getuig van hoe Wim de Villiers, wie se administrasie se ruggraatlose niksdoen regstreeks lei tot Afrikaans se afsterwe as funksionele akademiese taal op Maties, saam met die Afrikaner-miljardêrs by Die Volkskombuis smul (bl xi, “Preface”). Die skyn en kortsigtige elitisme hiervan is skreiend. Ek wag nog dat die gewone middel- en werkersklas-Afrikaner- en Afrikaanssprekende bevolking, wat so maklik deur die rykste Afrikaanse establishment as “kommin” en “verkramp” uitgekryt word, hierdie menere vir 'n slag terugroep aarde toe.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na die gesprek "Pieter du Toit: Die Stellenbosse mafia": Dinsdag, 10 Maart om 15:30 by die boektent.

 

 

Toyota US Woordfees 2020: volledige program

Lees ook:

Reader impression: The Stellenbosch mafia by Pieter du Toit

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Hierdie boek het maar min om die lyf en is 'n bietjie van 'n teleurstelling. Meeste van wat daarin geskryf staan is reeds bekend. Goeie resensie!

  • Ek het niks teen die Ruperts nie, maar hierdie boek is niks anders as 'n skamel geklede hagiografie van Johan nie. Die teenargument dat dit 'n manier is om iets soos Protocols of the Elders of Zion te voorkom is geldig, maar ai, kon Pieter du Toit dit nie meer elegant gedoen het nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top