Regisseur: Lasse Hallström
Spelers: Helen Mirren, Om Puri, Manish Daval, Charlotte le Bon
Die nuweling of inkommer wat homself ten spyte van vooroordeel moet bewys, is ’n stokou storieresep, so ook die tromp-op botsing tussen twee kulture. Hier het ons Indiese speserye versus Franse haute cuisine – en dis oorlog (ook ’n stokou metafoor).
Die Kadams het geslagte lank ’n familierestaurant in Moembaai bedryf, maar ná ’n politieke aanval vlug hulle na die Weste. Eers ’n armsalige verblyf in Londen, en dan besluit hulle om die Kontinent aan te pak. Die gesin van ses onder leiding van die patriarg (Om Puri) se reis begin in Rotterdam in ’n rammelkasbussie. Hoe om die regte plek vir ’n restaurant te kies: ry deur die platteland, rigting Frankryk, en proe oral langs pad die vars vrugte en groente tot jy die beste geure vind. Só eindig hulle in die Franse dorp Saint-Antonin, waar hulle ’n eetplek oopmaak reg oorkant dié van die formidabele madame Mallory (Helen Mirren). Haar restaurant het al dertig jaar gelede ’n Michelin-ster gekry, wow! Maar die Kadams se troefkaart is die briljante jonger seun Hassan (Manish Daval), ’n gebore sjef, al het hy nie papiere om dit te bewys nie.
Lasse Hallström is ook die regisseur van Chocolat, en jy kan ’n visueel ryk en pragtige film in dieselfde trant verwag. Nes Chocolat is hierdie fliek op ’n trefferboek gegrond, wat ongelukkig wys in ’n draaiboek wat te lank is en in ongeloofwaardighede soos hoe die Kadams so gou Frans baasgeraak het. Die beproefde resep word getrou gevolg en die fliek sal heel moontlik ’n lokettreffer by ons wees, maar vir ’n fynproewer-palaat is dit ’n meringue wat net ’n bietjie té soet is.
Sterre:
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

