
The Book Thief
Regisseur: Brian Percival
Spelers: Sophie Nélisse , Geoffrey Rush, Emily Watson, Nico Liersch, Ben Schnetzer
Die reddende genade van woorde en boeke is ’n ou, ou tema, maar hier word dit nogtans uit ’n vars hoek aangebied – nie die minste daarvan dat die verteller die Dood is nie!
Liesel (Sophie Nélisse) is een van talle kinders wat tydens die Tweede Wêreldoorlog by pleegouers geplaas word. Onderweg na hul nuwe tuiste sterf haar boetie en word net daar langs die treinspoor begrawe. Toe die grafgrawer ’n boek laat val (getitel The Gravedigger’s Handbook), raap die ongeletterde Liesel dit soos blits op, en so word sy die boekdief.
Haar pleegouers is Hans (Geoffrey Rush) en Rosa ( Emily Watson). Die mensliewende Hans weier beginselvas om by die Nazi-party aan te sluit en kry gevolglik al minder werk, sodat Rosa, die argetipiese kywende vrou, net belangstel in die kindertoelae wat hulle vir Liesel kry. ’n Trekklavier wat Hans dekades gelede by ’n Jood gekry het wat sy lewe gered het, word die simbool van sy ereskuld teenoor dié man, en nou daag sy seun Max (Ben Schnetzer) siek en verhonger by Hans-hulle op vir skuiling teen die Nazi’s. In Max vind Liesel ’n geesgenoot, want hy dra óók ’n boek met hom saam waaraan hy verbete klou.
Hierdie is een van die gevalle waar ek opreg gewens het dat ek eers die gelyknamige boek deur Markus Zusak gelees het. Die fliek is bevredigend, maar ek had heeltyd die gevoel dat daar soveel meer in die boek is. Daar word byvoorbeeld na Liesel se ma verwys as ’n kommunis, maar die kyker kom niks meer van haar of haar lot te wete nie. Tog sorg die laaste tien minute van die film dat die geheel groter is as die som van die dele.
Die ander rede om na The Book Thief te gaan kyk, is die uitstekende toneelspel. Geoffrey Rush se Hans is pitch perfect soos die Engelse sê, met Emily Watson selfs meer so as die hardvogtige Rosa wat mettertyd versag. Dis egter die jong Sophie Nélisse wat uittroon met haar onderbeklemtoonde spel.
Voorbehoude ten spyt is hierdie fliek tog die kyk werd.
Sterre: 3 ½
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

