
The Animal Communicator
Regisseur: Craig Foster, Swati Thiyagarajan
Spelers: Anna Breytenbach, Swati Thiyagarajan
Daar wys tans by die Labia in Kaapstad ’n uitsonderlike dokumentêre film, The Animal Communicator, oor Anna Breytenbach. Sy fokus al jare lank op kommunikasie met diere met die doelwit om as brug te dien tussen mense en diere. Al twee is deel van die natuur, maar is dikwels in skadelike konflik, byvoorbeeld tussen mense en bobbejane in die Kaapse Skiereiland.
Anna glo dat diere gedagtes en emosies het soos mense, en dat daar kommunikasie tussen die spesies kan wees deur middel van geprojekteerde gedagtebeelde. Die meeste mense begroet sulke idees natuurlik met skeptisisme, en in die film word Anna se aansprake deur Swati Thiyagarajan, Indië se top omgewingsjoernalis, getoets. ’n Doktorale student van die Universiteit van Kaapstad sluit by hulle aan wanneer Anna verskillende bobbejaantroppe in die Skiereiland besoek.
Die Foster-broers, Craig en Damon, is wêreldbekend vir dokumentêre films soos The Great Dance, wat oor Boesmanjagters en hul jagrituele handel. In hierdie film word gewys hoe die jag die mens se vroegste vorm van kommunikasie met diere was, soos vertel deur ’n Boesmanjagter, ’n Aborigine en ’n Amerikaanse spoorsnyer saam met wie Anna lank gewerk het.
Anna doen gereeld werk met probleemdiere by rehabilitasiesentrums vir diere. Die film sluit af met ’n werklik wonderlike ontmoeting tussen haar en ’n uiters aggressiewe swart luiperd wat uit ’n dieretuin gered is.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

