St Vincent
Draaiboek en regie: Theodore Melfi
Spelers: Bill Murray, Jaeden Lieberher, Melissa McCarthy, Naomi Watts, Chris O’Dowd
Die jaar sleep, soos my man soggens op pad werk toe kreun, en ’n mens het ietsie nodig teen die ná-vakansie-blues. Maar ook nou nie té vreugdevol en optimisties nie – die jaar lê immers voor en die wêreld lyk vreeslik donker en vol probleme. Dus, vir die perfekte middeweg: ’n misoginistiese goedvoelfliek. Nee, dis nie ’n teenstrydigheid nie: St Vincent het my ewe veel laat lag en huil.
Vincent (Bill Murray) is der dagen sat en beneuk, en hy waardeer dit glad nie toe Maggie (Melissa McCarthy) en haar twaalfjarige seun Oliver (Jaeden Lieberher) langs hom intrek nie. Maggie is besig om te skei en moet lang ure werk, en kort voor lank is sy verplig om Vin te vra om ná skool na haar seun te kyk. Dié is gedurig platsak weens sy tydverdrywe van rook, drink, perde speel en ’n Russiese prostituut ontvang, en hy beding ’n aansienlike tarief vir sy (bedenklike) dienste.
Hiermee die vertrekpunt vir ’n heerlike fliek vol wrang humor. Danksy die onverwagte wendings en onsentimentele einde sit ’n mens nie met net nog ’n Hollywood-reseppie nie. Dis regisseur Theodore Melfi se eerste behoorlike vollengteprent en ek hoop om gou weer van sy werk te sien.
’n Hand vol pluime aan die rolleregisseur: Bill Murray en Melissa McCarthy is perfek vir hul onderskeie rolle, asook Chris O’Dowd as die deemoedige priester – hy is ’n akteur wat uitstekend vaar in komiese sowel as ernstige rolle (The Sapphires, Calvary). Daarby kry Jaeden Lieberher beslis my Oscar as beste jong nuweling. En Naomi Watts verras behoorlik as die Russiese prostituut.
Gaan kyk dit en geniet dit!


