Titel: Shadow flicker
Skrywer: Melissa A Volker
Uitgewer: Karavan Press
ISBN: 9780639994208
Shadow flicker vertel die storie van Kate Petersen wat leef vir haar werk, veral omdat haar persoonlike lewe ’n gemors is ná ’n lewensveranderende gebeurtenis. Sy vertrek na St Francisbaai in die Oos-Kaap, waar sy die boere moet oorreed om hul grond beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van hernubare kragopwekking. Dit is haar keuse om nie haar baas in te lig dat sy terugkeer na die plek waar haar probleme ontstaan het nie – ’n tragedie wat steeds by haar spook en die oorsaak van haar paniekaanvalle is.
Hier ontmoet sy vir Dr Matthew Sykes, die dorp se veearts, wat steeds in rou is oor die ontydige dood van sy omgewingsgoedgesinde vrou. Alhoewel sy geensins beplan het om emosioneel betrokke te raak nie, ontwikkel dié twee spoedig ’n sagte plek vir mekaar. Ongelukkig is die pad nie net met rose besaai nie en behalwe vir die vyandigheid wat in die kusdorp uitbroei, word Kate die slagoffer van inwoners met verskuilde agendas.
Melissa slaag ongetwyfeld daarin om die leser vasgenael te hou, van begin tot einde. Haar vloeiende, gemaklike skryfstyl boei jou van hoofstuk 1 af en hou jou deurlopend gevange tot op die laaste bladsy. Die feit dat die boek in Engels is, het geensins ’n verskil gemaak aan my leesspoed nie. Die onderskeie uitdagings en emosies wat Kate ervaar, gryp jou aan, en met ’n beklemming om my hart kon ek eenvoudig nie die boek neersit voordat ek nie nog ’n paar bladsye verslind het nie. Die omgewingskwessies wat aangespreek word, is vars en beslis relevant tot wat ons vandag ervaar, wat rondom ons gebeur en wat ’n direkte impak op ons en veral ons nageslagte se toekoms het sou die verkeerde besluite geneem word. Finansiële gewin is meestal die belangrikste faktor in besluite, met ’n gewete wat deur ’n gewigtige bankbalans gestil word. Natuurlik is geen roman sonder ’n goeie dosis afguns en venynigheid volledig nie, so wees gereed om die hele kaboedel emosies in hierdie skrywe te ervaar.
Ek dink die boek sal beide geslagte wat ligter leesstof verkies, geval, maar ’n meerderheid van die vroulike geslag sal hierby aanklank vind. Trauma en konflik het al die meeste mense se paaie gekruis, en daarom behoort lesers maklik met Kate te kan identifiseer, omdat die skrywer beslis daarin slaag om die nodige empatie met die hoofkarakters te ontwikkel.
Melissa A Volker is in Port Elizabeth aan ’n Amerikaanse ma en Suid-Afrikaanse pa gebore. Sy is ’n leser, skrywer, blogger, herwinner en bekroonde “stand-up paddler”. Nadat sy besluit het om ’n breek te neem van haar loopbaan as skoonheidsterapeut, het sy kreatiewe skryfkuns studeer. Behalwe vir romantiese omgewingsfiksie, skryf sy ook oor skryfkuns, skoonheidsonderwerpe en branderplankry.
Haar eerste boek, A fractured land, is in 2018 in die VSA gepubliseer. Shadow flicker is haar tweede boek en het in 2017 die Strelitzia-toekenning gewen. Beide titels is vanjaar deur Karavan Press in Suid-Afrika gepubliseer. Sy woon in Kaapstad saam met haar man en twee dogters.