Resensie: Mr Pip

  • 0

Mr Pip

Regisseur: Andrew Adamson

Spelers: Hugh Laurie, Xzannjah Matsi, Eka Darville, Florence Korokoro, Kerry Fox

In ’n fliekjaar waarin ons verswelg word deur skop-skiet-en-donner in 3D, is hierdie besonderse film uiters welkom.

Dis gegrond op die boek deur Lloyd Jones, wat die oorlog in 1989 in Bougainville, ’n eiland wat deel is van Papoea-Nieu-Guinee, as agtergrond neem. Dié oorlog had ’n lang aanloop (op Wikipedia te lees), maar die hart van die geskil was Panguna, die enorme Australiese kopermyn op die eiland. Wanneer die film open, is daar net ’n handjievol mense oor in Bougainville – baie is doodgeskiet, baie het gevlug. En een witte: die Engelsman Mr Watts (Hugh Laurie), wat nie sy sieklike vrou, Grace (Florence Korokoro), wou agterlaat nie.

Ná die skool maande lank gesluit was, begin Mr Watts die kinders onderrig deur Charles Dickens se Great Expectations vir hulle voor te lees. Een skrander leerling trek sy aandag: Matilda (Xzannjah Matsi). Haar pa het by Panguna gewerk en is reeds tien jaar gelede Australië toe, maar haar ma, wat die plaaslike kerkleier is, het bly uitstel om te emigreer. Deur verbeeldingsvlugte verplaas Matilda Pip na Bougainville om te kan ontsnap uit die sinnelose oorlog wat rondom haar woed. ’n Groteske misverstand met ’n weermagbevelvoerder – die perfekte uitbeelding van die intrinsieke waansin van oorlog – laat Matilda se wêreld in duie stort.

Dit is ’n veelvlakkige, komplekse film dié soos wat ek lanklaas gesien het; ek het verbyster by die teater uitgeloop. Dis nie sonder foute nie – daar kort brokkies inligting om volledig te kan sin maak van die gebeure – maar dis ’n geval van die geheel wat meer is as die som van die dele.

Dit word hoog aanbeveel vir ernstige fliekkykers.

 

Sterre:

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top