Resensie: Locke

  • 0

Regisseur: Steven Knight
Spelers: Tom Hardy, stemme van Olivia Colman, Ruth Wilson, Andrew Scott en ander

Hierdie fliek doen iets heeltemal nuut, iets wat na my wete nog nie voorheen gedoen is nie. Op die verhoog is solo-optredes algemeen, maar om in ’n fliek slegs een karakter in ’n afgebakende ruimte te wys en steeds die kyker se belangstelling te behou, klink na ’n onmoontlikheid.

Ivan Locke (Tom Hardy), ’n suksesvolle konstruksie-ingenieur, is die aand ná werk op pad van Edinburgh na Londen. Hy het twee krisisse: ’n vrou in ’n hospitaal in Londen na wie hy op pad is, en ’n absoluut enorme konstruksieprojek waarvan die fondasie die volgende oggend gegooi moet word – ons praat hier van meer as 200 betonmengers elk met ’n sementvrag van etlike ton en vier ingange na die stad wat vir verkeer gesluit moet word.

Soos Locke ry, praat hy met verskillende mense oor sy motorfoon: sy vrou, sy twee seuns, die hospitaal in Londen, sy doodverskrikte kollega wat vir hom moet instaan, sy baas – en dié met die grootbase in Chicago. Deur die gesprekke ontvou Locke, ’n ordentlike en eerbare man, se situasie: hy het ’n klompie maande gelede ’n uiters dom fout gemaak wat hom nou inhaal. Ook sy motivering waarom hy besluit het om die krisis op sy spesifieke manier te hanteer word duidelik.

In die laaste dekades het flieks oor die werkende vrou en ma se stryd om alle balle in die lug te hou algemeen geraak, maar dis asof niemand dink aan die probleme van die werkende man en pa nie. Hierdie fliek wys sy tweestryd, met elke kant van sy lewe (werk en gesin) wat meen dit word afgeskeep ter wille van die ander.

Die inhoud van Locke (let op die dubbele betekenis van die woord) laat ’n mens nadink, maar die aanbieding raak later tog ’n bietjie eenselwig. Desnieteenstaande, dis die kyk werd vir toegewyde fliekvlooie.

 

 

Sterre:

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top