Resensie: Lien se lankstaanskoene

  • 2

Lien se lankstaanskoene

Regie: André Odendaal

Rolverdeling: Carmen Pretorius, Franci Swanepoel, Marie Pentz, Tiaan Kelderman, Elize Cawood, Fiks Mahola, Hykie Berg, Gideon Lombard

Hierdie ding van boek eerste of fliek eerste is ’n catch-22. Ek lees gewoonlik die boek eerste, soos ook in hierdie geval met Derick van der Walt se puik jeugroman, maar dan bly ek altyd wonder hoe ek die fliek sou ervaar het as ek nié die boek gelees het nie. Hoe ook al, ’n puik boek is omskep in ’n puik fliek danksy Saartjie Botha se draaiboek en André Odendaal se regie.

Lien Jooste (Carmen Pretorius) is in matriek en haar gesinslewe het uitmekaargeval. Haar pa is weg, hulle moes van hul groot huis na ’n woonstel trek, haar jonger broer Braam (Tiaan Kelderman) het hom teruggetrek in sy eie wêreld, en haar ma (Franci Swanepoel) het aan die drink gegaan. Maar danksy Wouter (Gideon Lombard), haar enigste skoolvriend, en die goeie buurtannie (Marie Pentz) hou Lien kop bo water, want sý is die een wat moet sorg vir geld om vir hulle kos te koop. Lien soek nie simpatie nie en sy is te trots (en te skaam) om hulp te vra, maar gaandeweg begin daar oplossings kom.

Derick van der Walt se verhaal bied ’n baie interessante omkering van rolle: waar jeugromans gewoonlik oor ’n gekwelde en/of rebelse tiener gaan, met die ouers of ander grootmense wat probeer red, is dit hier die jong mense wat teen wil en dank op koers moet bly omdat die volwassenes die pad byster geraak het.

Al die akteurs pas uitstekend in hul rolle, maar Carmen Pretorius is na my mening die perfekte Lien. Ek het net een beswaar teen die fliek: die oormaat huilbuie wat neig na melodrama. Origens kan Lien haar plek trots inneem tussen die klompie goeie Suid-Afrikaanse flieks van die afgelope paar jaar.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Ek het die fliek gesien en baie geniet. Die spel was deurgaans puik en die storie (alhoewel voorspelbaar)  is met deernis en groot passie vertel. Bravo!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top