Resensie: Kondensmelk deur Cleta Joannou

  • 0


Kondensmelk – almal se gunsteling
Cleta Joannou
Human & Rousseau
ISBN: 9780798159357

Marike en Elsa-Marié van der Watt deel ’n kombuis. Vandat Elsa-Marié op 4-jarige ouderdom begin het om Mariebeskuitjies met versiersuiker en lekkers te verfraai, het sy al as kok in die 2011-uitgawe van Klein Kook & Geniet verskyn, vir die meeste van haar en haar jonger sussie en boetie se verjaardagkoeke gesorg, by Koekedoordeelnemer Martjie Malan kooklesse geneem, en onlangs ook haar tannie se troukoek gemaak. Sy hoop om eendag aan MasterChef deel te neem. Of Koekedoor. Marike tree deesdae meer as assistent op, en verskaffer van bestanddele.


Hieronder vertel ma en dogter hoe hulle hierdie kookboek ervaar het. Marike se foto's dien as bewysstukke van 'n naweek in die kombuis.

Elsa-Marié (12) gee haar indrukke van die boek:

Die resepte van dié boek lyk besonder lekker, en die resepte wat ek gemaak het, proe beslis net so lekker as wat dit lyk. Die boek sluit omtrent elke kondensmelkresep onder die son in, wat wissel van truffels tot terte tot roomys. Die instruksies is duidelik en maklik om te volg, alhoewel dit nie altyd geskik is vir beginners nie, omdat sjokolade wat gesmelt word, maklik kan brand. Dinge kan ook skeefloop met die invou van eierwitte of room, en kan so tot ‘n verkeerde tekstuur lei. Die foto’s wat ingesluit is, lyk baie mooi en maak mens sommer lus om te bak! Ongelukkig is die resepte se bestanddele vreeslik duur, dus moet enige resep uit hiérdie boek maar net vir spesiale geleenthede gemaak word, tensy jy nie omgee om baie te betaal nie. Met die klomp resepte in dié boek sal jy soetgoed kan voorsien vir geleenthede wat wissel van verjaardae tot Kersfees. Jou fyngebak sal jou vinnig soos ‘n ervare sjef laat lyk onder jou vriende, al is die resep ook hoe maklik. Ek self verkies om sjokolade-ganache te maak deur room of kondensmelk te laat kook en dit oor die sjokolade te gooi in ‘n ander bak, eerder as om die sjokolade saam met die room of kondensmelk te laat smelt. Só kan voorkom word dat sjokolade brand. Mariebeskuitjies word vir tertkorse gebruik in plaas van tennisbeskuitjies, en dis iets waaraan ek nie gedink het nie. As jy van die kokosneutgeur van tennisbeskuitjies hou, kan jy met liefde die Mariekoekies met tennisbeskuitjies vervang, want albei soorte koekies kan gebruik word. Oor die algemeen ‘n lieflike kookboek wat elke huisvrou behoort te hê!

Marike se indrukke:

Koekedoorkoors loop hoog, en wat ’n lekkerte vir my en die 12-jarige Elsa-Marié om die afgelope naweek ons eie uitdagings met behulp van Cleta Joannou se Kondensmelk – almal se gunsteling te kon aanpak. Ons kon natuurlik nie al die resepte (meer as 100!) toets nie, maar die ses wat ons wel probeer het, het gesorg vir ure se bak- en eetgenot.

Danksy 'n kilogram bloubessies in my vrieskas was die keuse van die eerste resep maklik: bloubessieroomys. Elsa-Marié is natuurlik vreeslik ondersteunend: "Ek kan nie wag om te sien hoe dit flop nie." Want kom ek wees eerlik, my vorige roomyspogings het liederlik misluk. Groot was my vreugde toe hierdie roomys selfs beter smaak as die gekoopte bloubessieroomys wat vir my as kind my gunsteling was! Ek sal wel volgende keer al die gevriesde bessies verwerk, aangesien die heel bessies kliphard in die roomys vries.

Jane Austen het blykbaar op ’n keer gesê: “Good apple pies are a considerable part of our domestic happiness.” Dieselfde geld in ons huis. Ek het eers onlangs my ma se resep wat sy nog in die tagtigerjare by haar buurvrou gekry het, vervang met Emilia le Roux se bruinsuikerappeltert uit Kos as dit knyp.Ons moes dus eenvoudig die karamelappeltert uit hierdie boek probeer om dit aan ons hoë vereistes vir ’n appeltert te meet. Benewens die beskuitjiekors is hierdie egter meer ’n appelkoek as ‘n appeltert, en hoewel dit besonder lekker is, kon dit nie Emilia se tert op ons baklys oortref nie. Ons het die geblikte tertappels in die resep met vars appels vervang, aangesien ons nie van geblikte appels hou nie.

Om ons gewete oor al die soetigheid te sus het ons toe die piesangsemelmuffins aangepak. Die muffins is gepak met piesangs, pekanneute en volkoringontbytgraanvlokkies, en kan beslis ’n staatmaker vir ’n skoolkosblik word.

Die twee sjokoladeresepte wat ons probeer het, is nie iets om sonder ’n koppie koffie of tee aan te durf nie – baie soet en ryk, maar allerheerlik. Die gebakte sjokoladekaaskoek is seker die naaste wat ek nog aan “death by chocolate” gekom het, en volgens my swaer wat help eet het, selfs beter as Nigella se kaaskoek-eweknie. Ons het die koffie- of sjokoladelikeur met sterk filterkoffie vervang, en ek dink dit het goed gewerk. Ek vermoed ook dat ’n mens die ganache-bolaag sou kon weglaat as jy aan al die suiker wil besnoei.

Van al die resepte wat ons probeer het, is die Sachertorte waarskynlik my gunsteling – gekies vir die man wat dit baie jare gelede in Wene geëet het, en ook die naweek verjaar het (ons bakkery was dus nie nét vir die pret nie). Die geheim van die oorspronklike Sachertorteresep word glo sedert 1832 dig bewaar, maar ek vermoed dat mens maar hierdie kondensmelkweergawe kan bymekaarslaan wanneer die lus vir hierdie bederf jou tref – glad nie nodig om dit al die pad uit Oostenryk te bestel nie.

En wat sal ’n resepteboek oor kondensmelk sonder suurlemoenmeringuetert wees? Die vraag was net of dit “ons” flatervrye, en betreklik eenvoudige, resep kon oortref. Volgens die resep lewer dit een groot tert, maar ek sal volgende keer eerder nog ’n pakkie beskuitjies oopmaak en twee kleiner terte maak, of die meringuebolaag halveer. Die meringuebolaag is ook net-net te soet om deur die suurlemoenvulsel gebalanseer te word. Maar as mens met kondensmelk werk, is “soet” relatief en seker geen rede om te kla nie …

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top