Kingsman: The Secret Service
Regisseur: Matthew Vaughn
Spelers: Colin Firth, Taron Egerton, Samuel L. Jackson, Michael Caine, Mark Strong, Jack Davenport
Hier het ons nou ’n heerlike spioenfliek. Nie my gunstelinggenre nie, maar die lokprent se belofte van eg Britse humor het my oorgehaal. En dié alleen is al genoeg rede om Kingsman te gaan kyk. Daar word fyn én skerp gespot met alles en nog wat, die vernaamste daarvan die Bond-flieks. Om alles te kroon is daar ’n klankbaan met 1980’s-musiek wat jou tone van lekkerte laat krul.
Die Kingsmen is ná die Eerste Wêreldoorlog gestig deur ’n groep Londense edelliede wat hul erfgename in die oorlog verloor het. Met hul aansienlike fondse stig hulle ’n private, onafhanklike speurdiens wat agter die skerms werk om die wêreld ’n beter, veiliger plek te maak. Al tien ridders het byname uit die King Arthur-legende, en as een sterf, moet hy vervang word. Toe Lancelot (Jack Davenport) sterf, stel Galahad (Colin Firth) vir Eggsy (Taron Egerton) uit Londen se agterbuurte voor – ’n onwaarskynlike kandidaat om die gesogte posisie te verwerf.
Terwyl die tien kandidate aan uiterste toetse onderwerp word, moet die Kingsmen uitvind wie Lancelot vermoor het. ’n Spioenfliek is net so goed soos sy skurk, sê Galahad per geleentheid – hier is die skurk die Amerikaanse miljardêr Richard Valentine (Samuel L Jackson) met ’n diaboliese plan vir wêreldoorheersing.
Colin Firth is natuurlik die perfekte Britse spioen, foutloos bygestaan deur veteraan Michael Caine, en Mark Strong beïndruk as Merlin. Taron Egerton as Eggsy is die volgende skitterende ster op Hollywood se horison, is my voorspelling.
Hierdie fliek is net reg vir ’n paar uur se genotvolle ontspanning!
Sterre: 

