Resensie: Horrible Bosses 2

  • 0

Horrible Bosses 2

Regisseur: Sean Anders
Spelers: Jason Bateman, Jason Sudeikis, Charlie Day, Jamie Foxx, Christoph Waltz, Chris Pine, Jennifer Aniston

Ek vermoed die rede hoekom hierdie fliek nie Dumb and Dumber heet nie, is omdat daardie titel reeds gevat is. Dis vertoon by die mediabekendstelling van Ster-Kinekor se Cinema Prestige in Cavendish – Kaapstad het nou ook ’n luukse teater wat die “ultimate experience” in fliek bied. Dit verskil van ’n gewone fliekteater soos ekonomiese klas verskil van besigheidsklas.

My énigste beswaar teen die Privé is dat ’n mens uitgestrek op die heerlike rooi uitskopstoel nie so lekker uit jou maag kan lag nie. Jou lag klink ook ’n bietjie alleen in die groot ruimtes tussen die ander stoele en rye (ek kan kakel soos ’n hiëna, so ek moes my nogal inhou).

Terug by Dumb (Kurt, gespeel deur Jason Sudeikis) en Dumber (Dale, gespeel deur Charlie Day) en hul nugter kameraad Nick (Jason Bateman). Noudat die manne ontslae is van hul jammerlike jobs en beestelike base (Horrible Bosses), wil hulle entrepreneurs word. Hul besigheidsidee (op sigself al ’n gespot met belaglike Amerikaanse produkte) word opgeraap deur die skatryk Bert Hanson (Christoph Waltz), nadat hulle ’n miljoendollar-koopaanbod van sy seun (Chris Pine) nie wou aanvaar nie. Nee, hulle sal self die vervaardiging doen en só meer geld maak.

Maar soos die gesegde lui: dis nie die ryk man wat skelm geword het nie, dis die skelm man wat ryk geword het. Motherfucker (dis rêrig sy naam – gespeel deur Jamie Foxx) word ingeroep vir die gangster-element, en iewers beland ’n seksverslaafde psigoterapeut (Jennifer Arniston) ook in die prentjie. Ek het nog nie vreeslik baie jaagtonele gesien nie, maar hierdie een was vir my die beste ooit.

Dis vakansietyd (uiteindelik) en ’n mens het iets lig, laf en lekker nodig. Horrible Bosses 2 is net die regte medisyne vir erge Desemberitis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top