Exhibition on screen: Vincent Van Gogh – A New Way of Seeing
Regisseur: David Bickerstaff
Iewers in ’n ruimte van my kinderjare – ’n klaskamer? ’n biblioteek? – was ’n afdruk van Vincent van Gogh se bekende sonneblomme in ’n pot. Dit was die 1970’s, en die skildery was vir my lelik, met dieselfde aaklige bruine en gele van daardie periode. Seker dié dat ek eers jare later ’n waardering vir Van Gogh se werk gekry het.
Die Exhibition on Screen-reeks lewer met hierdie film ’n deeglike dokumentêr oor Van Gogh se lewe. Dit weerlê die mites van ’n malman wat sy eie oor afgekap het en wat in sy leeftyd net een skildery verkoop het. Vincent (soos hy bekend wou wees en sy skilderye onderteken het) was ’n diep godsdienstige man wat geroepe gevoel het om ’n dienaar van God te wees, eers as lekeprediker en later deur sy kuns. Hy is gebore in ’n welaf familie van kunshandelaars, maar was van jongs af begaan oor die lot van die armes en ellendiges, die gewone mense: plaasarbeiders, mynwerkers, prostitute.
Die film is gemaak in Amsterdam se manjifieke Van Gogh Museum, en daar word dikwels aangehaal uit Van Gogh se briewe aan sy geliefde broer Theo. Sodoende leer die kyker onbekende aspekte van die kunstenaar eerstehands ken, soos dat hy geglo het hy moet self leer en veral wérk om ’n kunstenaar te word, al was opleiding tot sy beskikking.
Van Gogh, wat in 1890 gesterf het as 37-jarige, het met sy verwronge en soms groteske beelde meer as enige van sy tydgenote die grense van “mooi” kuns deurbreek – ’n beweging wat eers vroeg in die 1900’s beslag gekry het en wat die kunswêreld vir altyd sou verander.
Gou spring om hierdie besonderse film te sien: dit word slegs op 22 en 23 April by die Cinema Nouveau’s vertoon.
Sterre: 4

